“Alles”, sê iemand op Facebook. Ek dink ek het al oor dié ding geskryf, maar hierdie week moet ek dit weer ‘n slag sê – ‘n naam is ‘n groot ding!
Wanneer jy ‘n fiksheidsinstruktrise is, sien jy daagliks hoe jou lede se ogies ophelder wanneer jy hul op hul name groet. Veral die nuwe lede. Hulle kom gou agter dis soos om deel van ‘n familie te wees, dis nie net ‘n plek waar jy kom oefen nie. ‘n Spontane, glimaggende groet op die naam is soos ‘n onsigbare, warm drukkie, wat jou motiveer nog voordat jy ‘n been gelig het.
Wanneer iemand my naam sê, voel dit of hul sê, “Ek sien jou. Ek ken jou. Jy maak saak vir my.”
Ek het verlede Saterdag opnuut oor die naam-ding gedink by Carina se babatee – haar en Jacques se Jana is nou amper hier, en die opgewondenheid en afwagting is groot. Maar wat veral ‘n indruk op my gemaak het daar by Spioenkop, was daardie gedekte, persoonlike naamkaartjies op die tafels. Elke gas se naam, die betekenis van haar naam, én ‘n gepaste Bybelvers. Ek het my verwonder – dit moes daardie Stapelbergies ure geneem het!
Myne het gelees: “Mirna – Peaceful, beloved, and high-spirited.” Mark 1:10-11. Sjoewee. Dankie.
…Maar hoe lekker om vir ‘n slag weer ‘n eenvoudige, gewone, sag-op-die-oor, maklik-om-te-onthou babanaam te hoor – Jana. Soos Nina. En Mirna. Hiehie. Dis asof naamgewing deesdae ‘n kompetisie geword het. Mens hoor name wat kreun onder aksenttekens, wat klink soos Franse parfuum, of soos karakters uit ‘n Konsalik-boek. Name wat jou tong laat knoop. Partykeer, wanneer iemand hulself aan my voorstel, wonder ek stilletjies by myself: “Het jou ma jou dan nie lief gehad nie…?”
Ek bedoel, hoe gemaak met Eurythmijellica-Roshindiyandi van der Leeuwenhof-van Niekerk van de Grendel as sy wakker word na narkose? Hoe roep die suster aan diens dié pasiënt uit haar diep slaap? Of hoe soek hulle die vrou op die lughawe as sy laat is vir haar vlug?
Name is soms sommer lawwigheid, soos TV-aanbieder Erns Grundling en sy vrou, wat hul identiese tweeling Jakkals en Wolf gedoop het. En net verlede week stuur Michelle ‘n foto van die bekende akteurpaar, Mila Guy en Bennie Fourie, saam met hul eersteling. “Kyk hierdie seun se arme name”, sê sy. “Karoo BCG Fourie!” “Bliksem!”, sê ek.
Laat my dink aan Petrus Liebenberg wat saam met my in Laerskool Unitaspark was. As die enigste seun tussen ‘n klomp meisies, is hy na albei oupas vernoem: Petrus Ignatius Liebenberg. Klink na ‘n regte kroonprins, né. Tot jou ma die afkorting op jou oorgetrekte leesboek skryf, dan is daar pêre. Pêre wat proeslag…
PIE Liebenberg. Sommer in graad een is hy al Pielie genoem…
Mense kan wreed wees! Almal weet tog ‘n Vissie kyk te diep in die bottel, en siestog, waarom moet ‘n Shorty knaend herinner word daaran dat hy ‘n stofpoepertjie is? Ja, ek het al gesien, ons Afrikaanses is nie baie taktvol as dit by die uitdeel van byname kom nie. Veral nie hoërskoolkinders nie. Ek weet van ‘n Hitler, ‘n Moemfie, ‘n Minibus, én ‘n Satan. Vreeslik, né. Maar dalkies bietjie rede tot selfondersoek? In my EHS-dae as juffrou, is ek “Patty” genoem, en ek weet dit het gelukkig niks met my lyf of my persoonlikheid te make gehad nie – my nooiensvan was Burger.
In ons gesin is daar aan byname geen tekort nie. Iemand skryf daar is ‘n fyn lyn tussen goedig en kwetsend, en ek kan met ‘n warm hart sê, die Bothma-byname gebeur in baie liefde. Daar is “Coletjie” en “Neis”, en “Oom Schalletjie”, en “Mir” en “my engel”, “my lief”, en “maatjie”. En vandat Nina bygekom het is daar ook “apie”. Mia is “Snoeshie”, my kat Chloe is “Nomfundo”, Zander is soms “Francois”, en ek is gereeld “Tannie Mirbal”. Lekker!
Party mense is verskriklik gesteld op die uitspraak van hul name, maar ek is nie regtig so gepla nie. Engelse mense noem my altyd “Murna” (soos die Afrosanger Burna Boy, met ‘n “silent r”), en Susan Ndlamlenze noem my Mierna. Lady B noem my “My beautiful Queen Coach”, en vir ‘n paar ander is ek Mirries of Mirns (met nog ‘n “silent r”). Mal daaroor! Mnr Vosser, my legendariese Geskiedenis-onderwyser het my “Burger” genoem, en altyd wanneer my ma my volle name “Mirna Nel Burger” met die klem op elke liewe lettergreep geuiter het, het ek geweet – hier kom ‘n stewige pak slae met haar pantoffel.
…Daar is net iets besonders aan ‘n naam. Jou naam vertel ‘n storie, en dit dra erfenis. Dis die eerste geskenk wat jy kry, lank voordat jy jou eie stem vind. Jou naam word oor jou uitgeroep, gesing, geskryf. Dis hoe mense jou identifiseer, hoe hulle jou roep, hoe hulle jou onthou. Maar het jy al ooit stilgestaan en gewonder: Wat sê jou naam oor jou? En meer belangrik, wat sê jy oor jou naam?
Juliet vra vir Romeo “What’s in a name?” omdat sy wonder hoekom sy liefde vir hom deur iets so oppervlakkig soos sy naam gekompliseer moet word. Sy is verlief op Romeo, maar sy weet dat sy familie, die Montagues, in ’n bloedige rusie is met haar eie familie, die Capulets. Dit maak hul liefde amper onmoontlik.
Met daardie vraag probeer Juliet sê, dat ’n naam eintlik net ’n etiket is – dit sê niks oor die mens self nie. Sy argumenteer dat, al is hy ’n Montague, dit nie hom minderwaardig of onwaardig maak nie. Die beroemde reël volg:
“That which we call a rose by any other name would smell as sweet.”
Romeo se naam verander nie wie hy is nie. Hy bly steeds die persoon vir wie sy lief is. Sy antwoord is ’n diep filosofiese oorweging oor hoe die wêreld mense kategories beoordeel op grond van oppervlakkighede, soos ’n naam, familie of status, eerder as om die kern van wie iemand regtig is, raak te sien.
Wat in ’n naam is, is minder belangrik as wat jy daarvan maak! Dit maak nie saak watter naam aan jou gegee is nie, jy vul jou naam met betekenis. “Nelson” was maar net ’n gewone naam, tot Mandela dit gedra het. “Helen” het ’n heldin geword toe Zille dit haar eie gemaak het. Jannik het beroemd geraak toe “Sinner” die tenniswêreld oorrompel het. Dit gaan nie oor hoe uniek of eenvoudig jou naam is nie; dit gaan oor hoe jy dit uniek maak.
Daar is krag in ‘n naam. ‘n Mens word jou naam. Jy is jou naam. En ‘n goeie naam word nie by geboorte verkry nie. Dit vat tyd. Dit word oor jare van menswees gesaai. Maar diep binne elke naam lê ’n krag. ’n Naam gee ons identiteit, maar dit is ook ’n uitdaging. Dit vra van ons: Hoe gaan jy lewe, sodat wanneer mense jou naam hoor, hulle glimlag of hoop voel? Gaan jy eerder naam weggooi? Of gaan jy jou naam vul met liefde, met dapperheid, en met oorwinnings oor klein en groot struikelblokke?
…Daar was ’n tyd in my lewe toe ek gedink het my naam was maar net… ’n naam. Maar, toe ek begin verstaan het dat ek die skrywer van my eie storie is, het ek dit anders probeer dra.
So, wat’s in JOU naam? Maak nie saak wat dit is nie, vul dit met betekenis. Laat mense, wanneer hulle jou naam hoor, iets voel. Maak jou naam ‘n roepstem vir inspirasie, vir oorkoming, en soms net vir harde lag en lekker wees.
Jou naam is joune, en dit kan die wêreld ’n beter plek maak – een glimlag, een bemoedigende woord, een goeie daad, en een fluister op ’n slag.
Mirna
082 779 0507
4 comments to “Wat is in ‘n naam…?”
Pragtig! Mooi gesê
Dankie Colette!
Middag Mirna, vra gereeldvir kinders wat hul name beteken innie sprkamers; min weet dit egter
Gesiggies straal as ek hul name in ń boek opsoeken hul sè wat hul name beteken; word oor hul gespreek elke keer wanneer hul name gesê word!
Dankie vir jou weeklikse stimuli!!
Ah AnthOnie, ek kan net dink hoe lekker hul ontspan in die dokter se spreekkamer met so ‘n ysbreker.