Ek het in 2016 laas oor oumas geskryf. En ek kan vandag nog mooi onthou hoekom. Dit was ‘n spesifieke tydgleuf in die geskiedenis van ons studio, toe baie van ons lede vir die heel eerste keer oumas geword het. Dit was baie opwindend, en dit het my opgeval hoe elkeen van hulle, klokslag, so ‘n nuwe kyk in hul oë bygekry het – so asof hulle iets weet wat die res van ons nie weet nie.
Ek het toe al besef dat Ouma-wees lankal nie meer grysbolla-tannies met deeg bo-arms is nie. Oumas van hierdie eeu is fiks, hulle speel gholf, hulle is verbeeldingryk, en prettig. Die oumas wat ek ken doen Pilates sodat hulle kleinkinders kan vliegtuigie ry op hul knieë. Hulle doen saam met hul kleinkinders Cardio Fun op Zoom in die sitkamer. Hulle step en lunge en squat, om saam met hul kleinkinders die Voortrekkermonument se trappies te tel. Hulle tel gewigte op vir al daardie optel-en ronddra-en troos-tye. Jip. Hulle OEFEN, want hulle wil goed leef en lekker oumas bly.
Ek beny altyd die naby oumas, wat kinders oplaai, help met skoolpraatjies en altyd net ‘n WhatsApp ver is. Ek verwonder my aan die oumas soos Berdine, wat heeltyd ‘n tassie gepak hou vir die geringste noodkreet, jaag, gaan hulp verleen, rondry,en konserte bywoon. Ek dink altyd in besonder aan oumas met ver, ver kleinkinders, soos Thea en Lenie, wat grootliks afhanklik is van ‘n selfoon- of rekenaarskerm, om in voeling te bly met hul kleingoed daar doer in die verte. Gelukkig is tegnologie uitgedink vir ver oumas en oupas.
…Ek het 3 oumas gehad, maar ek was nog klein toe ons hulle verloor het. Ouma Burger was ons Kalahari-Ouma. Sy was ‘n sterk vrou, en haar hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Wanneer ek aan haar dink ruik ek tuisgemaakte brood, plaasbotter en moerkoffie. Pa Stoffie was een van 9 kinders, en ek onthou dat hy my vertel het dat Ouma nooit in haar lewe die voorreg gehad het om al 9 van haar kinders op een slag by die huis te hê nie. Die heel enigste keer wat dit gebeur het, was tydens Ouma Burger se begrafnis…
Ouma Eloff, my mammie se ma, was my Danie Cravenstraat-drukkie ouma, my skoot-sit-storie-lees-Ouma, en sy het my geleer dat “blerrie” nie ‘n vloekwoord is nie. (Wanneer my ma nie met ons saamgestem het nie, het Ouma net vir my geknipoog…)
Ouma Grimm, my pa Chris se ma, was ons deftige ouma – jy kon haar altyd deur ‘n ring trek. En tog, al het ek haar nooit in plat skoene gesien nie, was sy nie ‘n neus-in-die-lug Ouma nie. Ek onthou dat ek verskriklik baie van haar gehou het. Ek mis my oumas…
Ons het almal maar hierdie idilliese prentjie rondom oumas…Onlangs lees ek ‘n kleinkind skryf: “n Ouma hoef niks te doen nie, sy moet net daar wees. Sy sê nooit jy moet gou maak nie. Oumas hoef nie slim te wees nie, hulle moet net weet hoekom baklei katte en honde, hoekom hoenders nie kan vlieg nie en wat is husse met lang ore. Oumas is goeie feë en wonderlike kokke sonder reëls. By hulle kan jy jellie en roomys vir aandete geniet en krummels op hul lakens mors. Almal moet probeer om ‘n ouma te hê, want hulle is grootmense wat tyd het om met jou te speel.”
…My mammie het presies vir een week lank geweet sy gaan ‘n ouma word. En toe het ons haar begrawe. Ek probeer daardie laaste hartseer week van haar lewe herroep, maar al wat ek onthou is die elke dag se bietjies-bietjies afskeid neem. Ek weet ek het my ma belowe ek sal saam met Delien gaan om ‘n nuwe rok te koop vir die begrafnis, en ek weet ek het, op ons ma se aandring, ‘n borslappie by Woolies gaan koop. Daar gaan nie ‘n dag verby wat ek nie dink aan my ma, en watse fantastiese ouma sy sou wees nie…En, ten spyte van die ontsettende seer in daardie tyd, was daar altyd die trooswete – die Here neem, en die Here gee.
Ek is ook innig dankbaar vir die voorreg dat ons kinders vandag nog kan spog met twee liewe oumas – Nellie en Theresa, albei gespaar vir ons vir meer as tagtig jaar.
In 2016 het ek geskryf: “Om te kan leef om eendag jou kleinkinders te sien, is sekerlik een van die grootste voorregte in die hele wêreld. Nie almal is so gelukkig om dit te beleef nie. Ek is nog lank nie ‘n ouma nie, maar ek weet net, onder die vroue wat by my oefen het ek nog geen klaerige stywelip-ouma teëgekom nie.”
2016…Sjoe. Mariné was in matriek, en vandag, op hierdie Sondag in September, 10 jaar later, kan ek skryf: Ek gaan ‘n ouma word! En skielik, sommer so oornag, kyk my oë ook bietjie anders. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg om in een jaar ‘n dogter én ‘n kleinkind ryker te word…
Eers was daar die verrassende oproep sowat drie weke gelede, toe Zander en Mariné die wonderlike nuus in vertroue met ons gedeel het, met glimlagte wat strek van wang tot wang. Nicole se opgewonde stem en Eswee se boodskap met hoofletters en uitroeptekens: “EK GAAN “N OOM WORD, OU!”
En toe was daar die video van die eerste sonar, die helder hartkloppie, die onmiskenbare beeld van ‘n nuwe mensie, en die voorreg om die opwinding met vreugde saam met ons kinders te vier in die mooie Kaap. My hart en my binneste bokspring buite my lyf. Ek gaan ‘n ouma word! Dit is my opstaan gedagte, en my gaan slaap gedagte, en die hele wêreld lyk ‘n paar skakerings helderder. En mooier. Selfs ‘n stepklas voel lekkerder!
Die Amerikaanse skryfster, Sue Monk Kidd het onlangs gesê: “Grandmotherhood initiated me into a world of play, where all things became fresh, alive, and honest again, through my grandchildren’s eyes. Mostly, it retaught me love.”
Ek is nog nie heeltemal seker watse ouma ek gaan wees nie, ek is net baie verlig dat babaskoentjies brei en perskes inlê nie ‘n vereiste is nie. En al gaan ek waarskynlik ook die ver ouma wees, glo ek daar gaan ‘n hele paar wonderlike dinge bykom: verstaan-ouma, cool-ouma, speel-ouma, fikse ouma, lief vir woorde-ouma, bederf-ouma, konkel-ouma, net nog tien minute wakkerbly-ouma, tennis-en-Padel-ouma, Instagram-ouma, en bo alles liefie-ouma en bid-ouma!
Mirna
082 779 0507
10 comments to “Keriekstieks Ouma!”
BAIE geluk Mirna!! Saam met julle opgewonde! Jy gaan die beste -este ouma vir daardie lyfie wees!
♥️
Ag jy maak my dag, Marjorie! Dankie!
Ai Mirna,
BAIE geluk!!!! 👶
Dis wonderlike nuus.
Jy gaan ‘n amazing Ouma wees.
Dankie liewe Karen!
Dit was vir my altyd ‘n genoeg-idee dat my kinders se ouma op haar kniee is vir al haar kleinkinders … Dat sy hulle elke dag aan haar God toevertrou het.
Mirna, ek sooo bly/dankbaar saam met julle, dink jy gaan nogal ‘n cool ouma wees.
Nogal gewonder hoekom jy so “afwesig” was, nou verstaan ek ook
n Insprasie ouma!
Baie geluk
Geniet jou nuwe titel!
Dit is so mooi geskryf Mirna! Baie geluk en ouma wees is voorwaar ‘n groot blessing….die grootste gevoel van liefde en verwondering oor lewe!
Baie geluk! Dit is die beste nuus.
Dankie Mari!