GEKEUVEL…

…Een van my loshande-gunsteling-oomblikke in Januarie gebeur altyd klokslag in die studio tussen 17:00 en 17:14, daardie eerste Donderdag van ons oefenjaar, voor stepklas.  Die geroesemoes van stemme, die blye weersiens van wat’s-nuus-hoe-was-die-vakansie-ek’s-opgewonde-oor-die-nuwe-steproetine-ek-kan-nie-wag-dat-die-Challenge-begin-nie, is keer op keer musiek in my ore!  Gewoonlik is ek in daardie paar minute nie so bevoorreg om êrens deel van ‘n kuierkringetjie te wees nie – ek staan slaggereed voor die rekenaar om die Zoomlede te verwelkom.  Dis behoorlik ‘n gestoei om hulle te groet en te hoor wat hul sê bo die gedruis, gelag en gesels.

“Maaind you”, die luidrugtigheid is eintlik elke Donderdagmiddag se storie, na die vakansie is dit net ekstra rumoerig🤣!  Keer op keer wanneer ek soos `n vlieg teen die muur dié spulletjie geamuseerd so bekyk en beluister, weet ek dis presies waarna die Amerikaanse skryfster Sarah Jio verwys wanneer sy sê: “Everyone has a happy place, a dot on the globe where life is cozy, safe and warm.”

And this, is ours.  Our happy place.

Gewoonlik moet ek teen 17:11 my stem begin verhef en por, “Maak julle sinnetjies klaar”…nie dat iemand hul regtig daaraan steur nie, hoor 🙄.  En wanneer die musiek begin speel praat almal eers vir nog 10 sekondes twee keer harder voor ons kan laat waai met die steproetine.

Die Nederlanders noem hierdie geklets “gekeuvel”, en die Engelse praat van “chit-chat.”  Ek sukkel om die mooiste Afrikaanse woord daarvoor te vind, maar dis sekerlik iets tussen k€kpraat en babbel.  En dis nie altyd diep geselsies nie, hoor, dis sommer net ‘n uitruil van heerlike ditjies en datjies en koeitjies en kalfies.  Amper soos waarvan Steve Hofmeyr onlangs op sy Facebookblad vertel:

“Oppad na Jakkalsvlei val ek vas: tussen koeie.  Gelukkig praat ek Koei.  Ek bulk en hulle moeee terug…”  Mmmm, “chit-chat” is baie dieselfde.  Al is ons nie koeie nie. En dit bly lekker. 

Solank dit positiewe koeitjies en kalfies is, nie gekeuvel oor blaffende honde of oor Facebook en onbeskoftheid nie.  En veral nie oor die weer nie, al het die son net vier dae sedert begin Desember geskyn.  Nee, daar’s regtig niks fout met gesellige, genoeglike, gemoedelike gekeuvel oor troeteldiere, familiekuiers, spesiale verjaarsdae, merkwaardige uitstappies en lekker oefen nie.  En ja, lekker styf wees van oefen is ook aanvaarbaar en positief🙈.  Dink ek.

…Dis so bemoedigend om vanuit alle oorde te hoor dat Covid moontlik in 2022 homself kan uitwoed.  Dis hoog tyd.  Ons is amal moeg gewonder wat mense vir ons sê wanneer ons hul raakloop in Clicks.  Want die verdekselse masker is heeltyd in die pad.  Ons weet nie eers of hulle bly is om ons te sien nie! En wanneer ons iemand ‘n broodnodige drukkie wil gee, moet ons eers oor ons skouers loer of iemand nie in die verbygaan dalk hul asems intrek nie.

Darem was meeste van ons bevoorreg om ‘n “normale” Kersfees, soos vroeër, saam met geliefdes te vier, in Ballito het die strandsambrele die vakansie soos sardientjies ingeryg gelê, en hierdie Vrydag het elke laerskool in ons dorp ‘n behoorlike atletiekbyeenkoms gehou.  Lekker!  Meeste van my langverlore lede het teruggekeer na die studio (nog lekkerder!), en toe lees ek boonop Woensdag Izelde se hoendervleis-Facebookplasing.  (Sy’t gesê ek mag haar maar aanhaal):

“Ek hou nie van chit-chat nie.  Praat met my oor jou hart.  Oor wat jou siel aan die brand steek.  Oor die dood, oor die lewe.  Oor jou kinderdae.  Vertel my hoe jou kos proe, of hoe jy voel as jy ‘n vars, ryp aarbei eet.  Praat met my oor jou gunstelingwyn.  Vertel my hoe jy voel as jy vir ‘n sonsondergang kyk.  Luister jy na die golwe by die see?  Praat met my oor boeke, antieke biblioteke.

Ek wil nie “chit-chat” nie, ek wil jou ken, wie jy regtig is.”

…Verstaan mooi, onse Izelde is nie Engel Gabriël nie.  Sy’s die koningin van “chit-chat”!  Veral Woensdae voor Cardio Fun en Donderdae voor step.  Dis gereeld háár klokhelder stem gevolg deur daardie kenmerkende uitbundige, borrelende skaterlag wat tot diep in haar maag kielie, wat hoog bo die geroesemoes van stemme uitstyg.  Maar ek hoor haar hart.

Sy beaam wat die gewilde Ierse komediant, Mauve Higgins, onlangs gesê het: “Small talk needs to get big at some phase.”   En ek dink dis minder gewigtig as wat dit klink.  Dis om glimlagte uit te ruil, werklik te kan luister en regtig te kan hoor.  Om in eerlikheid en baie opgewondenheid bereid te wees om jou hart te deel en te sê hoe jy voel.

Dis om te kan sien wanneer iemand met ‘n skaduwee van hartseer om die mondhoeke by die studio se deur inkom en na ‘n geselsie na klas wegstap met ‘n broos glimlag wat tot in hulle oë strek…Dalk is “big talk” bloot om net so bietjie meer van onsself te gee.  En waarskynlik, om meer te gaan beleef in 2022.

Skryfster Liz Luyben slaan eintlik die spyker op die kop in haar boek “Surviving smalltalk”.  Sy skryf: “If you feel like you never have anything to say, go out and do something you’ll want to talk about.”

Izelde, ek en jy het een groot ding in gemeen – ons wag elke jaar tevergeefs vir nog ‘n telefoonoproep van ons mammies.  Maar ek het Oujaarsoggend die son sien opkom op Ballito se strand.  Dit het geruik na sout en seewier.  Presies nege minute oor vyf het goue sonstrale geruisloos oor die horison getuimel en die mislagie oor die water in ‘n manjifieke  spookasem verander.  Dis toe wat ek sommer geweet het, 2022 gaan beter wees.

…Ek het êrens gelees dat die persoon wat ek en jy oor vyf jaar gaan wees, bepaal word deur die boeke wat ons lees, die mense met wie ons onsself omring en die kanse wat ons waag.  Jy’s reg – die sinvolle gesprekke wat ons gaan hê moet hier bykom…

Mag ons almal in 2022 weer voel hoe dit voel om maskerloos glimlagte te stuur, meer komplimente gee wat ons opreg bedoel, probeer om die son te soek al skyn hy net een keer per week, ‘n geliefde bel sonder om een keer oor die weer te praat,  meer in verwondering te leef, opreg glo dat daar steeds meer goeie goed as slegte goed gebeur, minder keuvel, en nooit vergeet nie:

“Mens moet van twee kante kom om mekaar te ontmoet…” Stef Bos

Mirna

082 779 0507

2 comments to “GEKEUVEL…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Dis altyd n plesier almal na die vakansie te sien. Dis n geklets soos jy sè! Mooi geskryf!

    • Mirna says:

      Dankie Colette! Mooi 2022 vir julle!