’n LEKKER MENS

Onlangs twiet sanger Jakkie Louw: “Dis lekker om `n mens te wees, jy moet net `n lekker mens wees…”

Ek onthou hoe Tania du Toit destyds vir Tolla van der Merwe beskryf het in haar biografie “Konsert van die lewe”. Oor dié legendariese storieverteller se lewe het sy gesê: “Vir Tolla van der Merwe was daar nie soorte mense nie – jy was óf `n lekker mens, óf nie `n lekker mens nie.”

Jare gelede toe ek nog 7de Laan gekyk het, het die flambojante Jerome dikwels gesê: “Ek is nie `n lekker ekke nie…” Toe het ons geglimlag maar ook heimlik geweet sy karakter was vasgevang in die greep van depressie. Dis belangrik dat jy weet dat ek nie dié ernstige siekte vandag wil wegpraat in my skrywe nie. Annette de la Porte, bekende maatskaplike werker en depressie leefkundige het net verlede week aan “Leefstyl” genoem dat daar vandag in Suid-Afrika elke uur van die dag `n persoon is wat `n einde aan hul lewe maak…” Daar is baie mense vir wie dit regtig egtig nie meer lekker is om `n mens te wees nie.

Maar laat ons nou maar eerlik wees – sommige mense is regtig sommer net nie lekker mense nie. Jy kan hul onvergenoegdheid op `n myl aanvoel. Selfs die manier waarop hul asemhaal maak jou moeg. Niks is ooit vir hulle lekker nie, en niks is ooit vir hulle genoeg nie. Hulle is net nie lekker mense nie. In Namakwaland sou hulle sê dis `n “onlekker” mens. Befoeterd. Klaerig. Nors. Hulle kry skoon sooibrand van hul eie onvergenoegdheid. Hulle voel nooit baie lekker nie, en “Google” hulself weekliks goorder. En banger. En moeiliker. Jy hoor nou al hoe min lus hulle het vir die familie se tweejaarlikse Kersete op die stoep. En hulle kry warm. Hel, dis warm! En kry jy ook so warm? Hulle kan nie onthou wanneer laas hulle so warm gekry het nie! Sug.

Maar. `n Lekker mens…wat is `n lekker mens nou eintlik? Dink jy jy`s `n lekker mens? Maak jy die lewe vir jouself en ander om jou lekker? Beur jy op? Is jy die oorsaak van `n glimlag op iemand se gesig? Sjoe. Ek weet ek gee baie lekker klasse, maar ek`s nie so seker of ek altyd `n lekker mens is nie. Armand Steenkamp sing “Dis jou eie besluit of jy `n lekker mens wil wees”. Jou en my definise van `n lekker mens sal waarskynlik verskil, maar dié is mos mý Blog, so hier mag ek besluit…

`n Arabiese spreekwoord lui: “Hy is een van daardie mense wat, as jy hom in `n rivier gooi, met `n vis in die mond boontoe kom.”

Om `n lekker mens te wees beteken glad nie jy dat jy brandewyn en Coke moet drink of die pap saam jou braaivleis altyd met botter en suiker moet eet nie.

As jy `n lekker mens is, is jou stem sag, jou glimlag breed en gereeld, en jou siel sonder angels of haakspelde. `n Lekker mens sien jy sommer van ver af aankom. Hulle energie is aanvoelbaar nog voordat hulle `n woord sê, hulle word nooit oud nie en daar is vonkies in hulle oë. Lekker mense is dikwels snaaks, altyd positief en vol deernis. Jy voel veilig by hulle want hulle oordeel jou nie en hulle stel regtig belang. Lekker mense laat jou lekker voel. Punt. Voel lekker mense altyd lekker? Natuurlik nie. Het lekker mense die lewe altyd maklike en lekker? Nooit gesien nie.

Armand Steenkamp sing “Dis jou eie besluit of jy `n lekker mens wil wees…” Om `n lekker mens te wees is nie `n “default setting” in ons genetiese pakkie nie. Dis iets wat ek en jy moet kies om te wees. Hoe wonderlik is dit! Ek en jy het die vermoë om iemand se dag te maak, hoop te gee, vrees te besweer, troos te bring, te vermaak, aandag te gee, op te beur en te kalmeer. “Lux in Tenebris”. “Lig in duisternis” te wees.

Elke lekker mens se liglysie sal anders lyk, maar oral het ons die keuse en vryheid om optimisites, waarderend en betrokke te wees. Die Amerikaanse skrywer Henry Miller beskryf dit die mooiste in sy boek “Tropic of cancer”. Hy sê: “There are men who come to you and they fill you to overflowing. They ask nothing of you except that you participate in their superabundant joy of living. They never inquire which side of the fence you are on because the world they inhabit has no fences.” Dis hoe dit is – jy`s óf `n lekker mens, óf jy`s nie n lekker mens nie.

Ek dink baie aan skilders soos Renoir en Monet wat meesters daarin was om die terloopse oomblikke van die lewe vas te vang. Daardie doodgewone gebeure, soos twee mense wat langs die see stap, of ‘n vrou op ‘n swaai, of mense wat vrolik om ‘n tafel saamgesels, is meesterlik deur hulle uitgebeeld. En dis juis daardie fyn kuns wat lekker mense bemeester het. Om nes die impressioniste die gewone oomblikke van die lewe te vier.

`n Lekker mens voer nie `n idilliese bestaan met vrolikheid, reënbogies, voëltjies wat sing en pienk spookasem nie…Lekker mense het ook aaklige stok-in-die-speek-Maandae en verkies dikwels stil Vrydagaande na oormoeg werksweke. Lekker mense spring nie noodwendig elke dag uit hul velle van vreugde nie – hul vreugde is daardie gevoel van krag, energie en vertroue dat hul lewens in `n Hoër Hand is.

Ons kan verseker nie mense in koeksisterstroop doop of in versiersuiker rol om van hulle lekker mense te maak nie. Maar ek kan myself verander, elke dag, om mooi stories en goeie nuus te soek, die wêreld in te kleur met my glimlag, op te hou anderpad kyk, minder te sug en `n lekker mens te word. En te wees!  En te bly!

Want jy’s óf `n lekker mens, óf jy’s nie `n lekker mens nie!

Mirna

082 779 0507

2 comments to “’n LEKKER MENS”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Pragtige stuk! Dis ons gesin se motto in die lewe en sê dit gereeld vir mekaar. Ek gaan dit vir almal aanstuur!

    • Mirna says:

      Dis verseker die Barnards se motto! As ek aan julle dink sien ek Lekker mense!