SPEKBOOM-MENSE

Verlede jaar dié tyd het ons nog geen sprak of sprook daarvan geweet nie, en skielik, sommer net so, het die Spekboom `n groot ding geword.  Nes die Coronavirus…

Dit het alles begin toe die Boplaas-wynlandgoed in Caltizdorp einde verlede jaar onderneem het om teen 2025 `n miljoen spekbome te plant om klimaatsverandering teen te werk.  Van daar het duisende Suid-Afrikaners ingespring, deel geword van die #spekboomchallenge en onderneem om in 2020 tien spekbome te plant.

Hoekom?  Want dié meneertjie kan ontslae raak van amper 10 ton koolstofdioksied per jaar, omdat dit kompleet soos `n spons die koolstof uit die atmosfeer absorbeer. Boonop kan dit tot 200 jaar lank leef en het baie min water en sorg nodig.  Want laat ons nou maar eerlik wees – nie almal van ons is met groen vingers gebore soos Chris van Gerda nie.  Sy sê Chris druk sommer net `n spekboom-blaartjie in die grond dan kom daar `n boom op…

Einde verlede jaar gee Salmi vir my `n spekboompie persent met `n kaartjie wat sê: “Jy herinner my aan die spekboom, Mirna…”  Toe het ek nog nie die storie agter die spekboom geken nie, maar die laaste tyd dink ek baie daaroor – ek dink daaraan hoe ons elke dag voor die keuse staan om `n spekboom-mens of `n energievampier te wees…Bloot net met dit wat ons dink en sê.

In haar boek “Red Flags” skryf Brandi Bates: “We speak life or death, success or failure”.  Dit laat my dink aan die storie van die paddas…`n Groepie paddas het deur die woud “gereis”(gehop☺) en twee van hulle het in `n diep put geval.  Al die ander paddas het rondom die put vergader.  Toe hulle sien hoe diep die put is, vertel hul die twee paddas dat hulle so goed as dood is.

Die twee arme paddas het die kommentare ignoreer en probeer om uit die put te spring vir al wat hul werd is.  Uiteindelik het een van die paddas gehoor gegee aan wat die ander paddas sê, moed opgegee en desperaat neergeval.  Die ander padda het vervaard aanhou spring so hard en hoog hy kon.  Weereens het die paddas buite die put vir hom gegil om op te hou omdat hy homself pynig en sy poging nutteloos en onmoontlik is.  Tog het die padda nie bes gegee nie en aanhou spring totdat hy uiteindelik bevry is…

“Hoekom het jy jou nie aan ons gesteur nie?”, wou die ander paddas ontnugter weet.  “Ek is doof”, verduidelik die padda toe aan sy maters.  “Ek was vas onder die indruk dat jul my aanmoedig om nie moed op te gee nie…”

“People inspire you, or they drain you. Pick them wisely”, het die bekende skrywer Hans F. Hansen gesê.  Klink maklik.  Maklik om te sê ons moet die toksiese, suurstofdiewe uit ons lewens verban, maar ons kan nie altyd nie.  Hulle is om ons.  Elke dag.  By die werk, op die pawiljoen langs die sportveld, in die gim, by die robot, in die lang tou by die bank.  Ons ken almal sulke mense – “mompelooms en sugsusters”, noem Nataniël hulle in sy Kaalkopboek.  Hulle maak ons wêreld ondraaglik met hul onvergenoegdheid, kwale, kwaadgeit en swartgalligheid.

Hoekom word hulle so?  Niemand weet nie – te veel televisie, `n sieldodende beroep, te veel bier, te min hormone, te veel slaggate in hul straat, `n aaklige matriekafskeid, te veel geld, te sleg opgevoed?  Ek weet nie.  Maar hulle steel ons suurstof en maak die wêreld ondraaglik en trek ons af.  Boelie ons emosioneel, laat ons twyfel in ons vermoëns en later glo ons self ons kan nie uit die put spring nie.  Nes die paddatjie.

“Woorde is belangrik”, skryf Abel Pienaar 22 Januarie 2020 op Netwerk 24.  “Dit dra die krag van lewe en dood.  Watter werklikheid skep jy met jou woorde?”, vra hy.  Ja, dis eintlik ongelooflik om te dink ons kies self.  Elke oomblik.

Elke liewe dag het ons die keuse – ons kan toelaat dat die vuil lug van negatiwieit ons hoop ondergrawe.  Of ons kan kies om gulhartige, groeiende spekboom-mense te wees, wat klein teugies suurstof bring, die wêreld inkleur met ons teenwoordigheid en lafenis bring aan hulle wat ons pad kruis.  Hoe?  Sommer net met ons woorde.

“Words have energy and power to help, to heal, to hinder, to hurt, to harm, to humiliate and to humble”, skryf Yehuda Berg in “The power to change everything…”

*As jy deel is van die New year Challenge, WhatsApp die woorde “I want to be like a Spekboom” na Mirna se nommer voor Sondagaand 21.00 – jy kan `n ekstra sessie verdien… (Toemaar, ek kyk net of hulle lees…) 

As jy wil deel word van die #spekboom-challenge is dit nog glad nie te laat nie.  Hulle sê dis maklik, al het jy nie groen vingers nie:

  • Breek of sny `n takkie van jou oorspronklike spekboom (of jou vriendin se spekboom af).
  • Laat dit vir sowat twee dae effens uitdroog.
  • Plant die uitgedroogde takkie en gee dit `n bietjie water. Gee die spekboom sowat een maal elke twee weke `n bietjie water.
  • En siedaar, jy het `n spekboom.

Maar WORD liewer eers `n spekboom – spreek lewe.  Dink twee keer, praat mooier, glimlag wyer, glo vinniger, bid gereelder, komplimenteer makliker, verwag meer, werk harder en hoop beter.

En laastens:

“Especially watch how you talk to yourself – because you are listening…”

Mirna

082 779 0507

4 comments to “SPEKBOOM-MENSE”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Sonja Luus says:

    Yes!! Dit is die oplossing vir vandag. Laat ons nooit moed op gee nie, maar liewer lewe spreek en d lug suiwer. Dankie dat jy voor loop.

    • Mirna says:

      DANKIE SONJA!

  2. Colette Barnard says:

    Spekbome is pragtig, hulle dien ook n baie goeie doel. Dankie vir die inligting wat jy so goed weergee

    • Mirna says:

      Dankie liewe Colette dat jy aanhou lees!