My dag

Ek het verlede jaar dié tyd ook oor verjaar geskryf, maar toe was dit nog vir Ermelo Insig se gedrukte weekblad, en ek moes my woorde mooi kies…Want wat as die hele Ermelo dit dalk onder oë kry, né…

Nou`s dit MY Bloginskrywings, en jy hoef nie op die link te klik nie.  As jy lees, is dit op eie risiko en uit pure vrye wil…☺☺☺

Dié jaar het ek nie opgesien om te verjaar nie – trots op myself – dalk was dit oor ek geweet het ek word `n jaar ouer by die mooie Tolderia, saam met 2 van my liefste hartsmense, Schalk en Mariné.  Eswee is nog in Stellenbosch, aan’t kliphard hard swot vir sy eerste CFA-eksamen.  Darem is ons almal saam oor minder as `n wekie van vandag…

…Hierdie jaar kon ek nie help om te dink aan Marita van der Vyfer se Sarie-rubriek van 11 jaar gelede nie – op 20 November 2008 skryf sy: “Vandag is my dag.  Die volgende 364 dae kan julle maar kry, maar vandag is my verjaarsdag – dié dag behoort aan my…”

My verjaarsdag was so `n dag – `n wonderlike, dromerige, warm dag, sonder selfoonopvangs, koeke, kersies of kuiermense, maar `n dag wat vir my part sommer maar net kon aanhou en aanhou en aanhou…

Ek, wat nooit eintlik kon verstaan hoekom die mensdom so `n ophef kan maak van verjaarsdae nie, weet nou, een keer `n jaar is elke mens die middelpunt van belangstelling en dis reg so.  Want iewers in die loop van die geskiedenis het ek en jy ons verskyning gemaak.  Geen toeval, noodlot of noodwendigheid nie.  Alles so bestem.

Ek dink aan Dozi wat hierdie jaar sy 55ste verjaarsdag gevier het met `n flambojante konsert saam met Adam Tas, Brendan Peyper, Elandré en Spoegwolf in Hartebeespoort.  Ek wonder oor Meghan Markle, wat hierdie jaar haar eerste koninklike verjaarsdag moes vier sonder die gewone, gebruiklike fanfare en Instagram-captions.  Ek dink aan ons ou goedige huishulp, Lizzy, wat `n paar weke gelede opgewonde vir Eswee wou terugbel oor sy WhatsApp op haar 59ste verjaarsdag…

Ek het hierdie jaar opnuut besef – Elke mens verdien om een maal per jaar `n dag te hê.  Om al die aandag op jou gevestig te hê, bederf te word, gewys te word jy word bewonder en bemin.  Om te begryp jy`s met `n rede op aarde.  Al is jy die koningin van Engeland of die tandlose boemelaar op die carboardboks voor Allan se slaghuis.  Jy verdien ook, soos wyle president Nelson Mandela en die skoolhoof van Die Hoërskool Menlopark en Charlize Theron en elke ander hooggeplaasde, dat daar oor JOU `n bohaai opgeskop word.  Dis jou geboortedag en die wêreld behoort dit te weet. Al is jy wie! 

Vroegoggend, daar op die houtbankie onder die wilgerboom by die dam, was ek bevoorreg om MY jaar af te sluit en die nuwe lewensjaar te begin met my Eenjaarbybel.  Dankbaar teenoor Hom wat my nog `n jaar gespaar het en so onuitspreeklik goed is vir my.  Dankbaar vir soveel fantastiese mense in my lewe wat my elke dag aanmoedig, inspireer en op my tone hou.  Dankbaar vir Schalk wat my, na 25jaar, liewer het as ooit, en elke dingetjie wat ek aanpak entoesiasties analiseer, ondersteun en salueer asof dit sy eie is.  En dankbaar vir Eswee en Mariné, die diepste punte van my hart, wat my kort-kort verryk met hul onbevange eerlikheid en spontane aangryp van elke geleentheid.  `n Ma kan nie vir enige beter geskenk vra op haar verjaarsdag as dié woorde nie: “Danksy Mamma gee ek nie sommer moed op nie, doen ek alles na die beste van my vermoë en maak ek klaar waarmee ek begin het…”       

…So, het Schalk en Mariné Woensdag op Tolderia van my die lekkerste ophef gemaak, ontbyt bedien, ‘n vonkelwynprop die hoogte ingeskiet, foto`s geneem en drukkies uitgedeel.  Ek het nie `n vinger verroer nie.  En ek het selfs geswem, al is dit nie eers tussen Kersfees en Nuwe jaar, my gebruiklike swemseisoen nie.  Vir Eswee kon ek vinnig bel en darem sy stem hoor uit Stellies, daar bo by die Alpakkas se kamp… oudergewoonte het Ronel en my pa geraas agterna oor hul my nie in die hande kon kry nie, maar oppad terug Ermelo toe Donderdag het ek probeer om elke verjaarsdag-boodskap te beantwoord.

“Jy haal my nou in, my skatjie”, het my pa geskerts.  “Tannie is een van die coolste mense wat ek ken”, het Nicole geWhatsapp.  (Kyk, so `n boodskap, op, 53, van `n mooie matriekkind, dit vat ek met grasie en tonne waardering, pappieeee) “Tannie is my heel gunsteling-mens”, het Marie-Louise geskryf.  “Happy birthday.  Thank you for existing”, het Thoko gestuur.  “Gelukkige verjaarsdag aan my EHS-tennis- en  Afrikaanse juffrou 1990 – 1993”, skryf Charl Rademeyer op Facebook.  “Nou’t ek Juffrou se ouderdom weggegee”, las hy by.

“Ag toemaar wat”, antwoord ek terug.  Dit maak regtig nie saak nie.  Want net vanoggend haal dominee Herman vir Nikos Kazantzakis aan in die kerk: “Since we cannot change reality, let’s change the eyes that see reality…”

Nog `n jaar ouer?  Nee, nog `n jaar ryklik geseën en gespaar.  Nog `n paar sproete en plooie by?  Nee, nog `n paar goue herinneringe en lieflike lewenservaringe by.

“I don’t mind getting older; it’s a privilege denied to so many!”, skryf Chris Geiger in The Cancer Survivors Club.   Ja, ek dink, nou aan die hopeloos verkeerde kant van 50, sien ek verjaarsdae ook so bietjie anders, amper soos die Amerikaanse humoris, Gina Barreca, wat onlangs gesê het: “A birthday is a reward for having shown up 365 in a row. It’s like getting a badge for attendance.”

Daarom MOET `n mens een dag in die jaar aan jouself kan afstaan, sonder verskonings of skuldgevoelens, ongeag hoe besig of ingewikkeld jou lewe geword het.  Jy MOET kan sê – vandag doen ek net wat ek wil…

Ja, ja, binne perke, natuurlik.

As jy êrens, alleen, by ‘n Spa wil platval, doen dit, of as jy heeldag in die bed wil bly met `n bottel rooiwyn, ‘n sondige sjokoladekoek en ‘n wonderlike boek, “by all means, go for it”, reël natuurlik net dat iemand die kinders by die skool gaan kry.  Natuurlik.

Maar as AL jou oefenklassies uitgedeel is by die studio, en Helen en Edrei oor elke ding `n ogie hou, en Schalk en Mariné aandring daarop dat jy nie eers jou voete in die kombuis sit nie, dan verjaar jy, met onblusbare oorgawe.  Die ander 364 dae kan die wêreld kry, maar nie daardie dag nie.  Woensdag WAS my dag.  Net myne…

So, wat ek eintlik oor verjaarsdae probeer sê, is wat my gunsteling kunstenaar Nataniël vir liewe Lelie sê in sy eerste Kaalkopboek:

“Lelietjie, dis dan jou dag!  Ten spyte van elke traan, steilte, vraagteken, donkerte en lange nag het jy dit gemaak tot hier.  Haal uit die balonne, poets die silwer, stof af die koets, rangskik die trompette en nooi die koning…”

As jy al die pad tot hier gelees het, en ek weet dalkies nie wanneer jy verjaar nie, wil ek graag sê, as daai dag kom, sit hom eenkant, vier hom met vrolikheid, vat hom vir jou, en maak dan hierdie mooi woorde van Catherine Ryan Hyde uit “Love in the present tense” joune:

“Celebrate your journey of life.  For a birthday is a very big thing.  It should be big from the minute you wake up.  It should be such a big thing – that you fall down into sleep that night all worn out from so much bigness…”

`n Goeie verjaarsdag is ons aan onsself verskuldig.  En, nie een keer durf ek en jy ons geboortedag laat verbygaan sonder dat ons stilstaan en omkyk en met trots, let wel, trots, NIE teleurstelling, ons glase lig nie.

Mirna

082 779 0507