AFKOELSTOEL

…Ek probeer dink, maar daar`s steeds niks op aarde wat daarby kom nie – al twee ons Stellies kuikens uit en tuis onder die Petstraat dak, `n vleisie op die kole, `n glasie Warwick First Lady Cabernet en `n land en sand kuier om die etenstafel – net ons 4.  Saterdagaand was weer sulke tyd, en dit was onuitspreeklik lekker.  Want dit proe altyd soos tuiskoms…Ons gesels oor alles en nog wat, redeneer oor klankverskynsels en polisindeton (ja, trek skoon die Errie Taalgids nader), redekawel oor die Sewes-rugby se geelkaartstelsel en tower kosbare herinneringe op. 

Mariné vra of ons kan onthou toe sy haar eerste geel kaart op die hokkieveld gekry het en vir 5minute op die afkoelstoel moes gaan sit.  Ek kan so goed onthou hoe sy altyd geskerts het dat sy ook wil voel hoe dit voel om op die sondige stoeltjie te sit, en toe, die dag toe dit gebeur, daar op die Astro teen Marais Viljoen, skiet daardie blou ogies oombliklik vol trane…

Ja, jy kan sê wat jy wil, om `n geel kaart te kry en koelkas toe gestuur te word, is nooit lekker nie.  Vir niemand nie.  Vra maar vir Sewes-speler Ruhan Nel oor die geel kaart wat skeidsregter James Doleman Vrydag teen Engeland uitgeruk het vir sy onkantspel – daardie twee minute op die afkoelstoel het vir hom soos `n ewigheid gevoel.

…Maar hoekom skryf ek vandag oor geel kaarte en afkoelstoele?  Want hierdie is vandag my laaste Blog vir 2019, laaste een van die dekade, dit moet `n groot een wees.  2019 WAS `n groot jaar, `n jaar waarop ek met soveel dankbaarheid en trots terugkyk.  Maar soos Desember maar altyd met my maak, klokslag wanneer Kersfees nader kruip, laat dit my met groot selfondersoek.

Ek bedoel, ek weet dis deel van die lewe dat ons foute maak, dis menslik.  Ek dink ook nie ek is regtig blind vir my eie foute nie – maar die deel wat my altyd laat kopkrap is die foute wat ek onbewustelik maak.  Soms wens ek die lewe het `n afkoelstoel gehad, `n sondige stoeltjie waar ons vir 5 minute moes gaan sit as ons fouteer het – sommer dadelik, woerts, koelkas toe, oor die vingers getik, gestraf en dan’s die bloedneus en beteuterd weer oor en verby en kan die lewe weer aangaan.  Baldadig en begeesterd!

Ek kyk terug op `n wonderlike 2019, `n jaar waarin die studio gegroei het, ek en Schalk soveel nader aan mekaar gekom het, Eswee en Mariné doelgerig, suksesvol, blinkoog en gelukkig is, en ek is so ontsettend dankbaar.

En tog kan ek nie help om te wonder nie – het ek my twee kinders in 2019 genoeg liefgehad, het ek Schalk genoeg waardeer, het ek my spannetjie instruktrises genoeg geprys en het ek my vriende genoeg ondersteun? Wat het ek nagelaat om te doen en te sê in 2019, waar het ek iemand onnadenkend te na gekom, watter lede gaan in 2020 ander weiveld soek omdat hul nie heeltemal gelukkig was in ons studio nie, en wanneer het ek iemand onwetend met ‘n sêding gekwets?  Vir hoeveel ure van 2019 was dit eintlik my verdiende loon om in die sondige stoeltjie deur te bring???

Want dit kan tog nie altyd iemand anders se skuld wees nie…

Maar dalk is Thomas Carlyle reg wanneer hy sê: “Die enigste onvergeeflike fout is om van geen fout in jouself bewus te wees nie…”  Dalk is dit genoeg om te weet en te erken ons is nie foutloos nie.  En dalk kan dit glad nie skade doen om onsself so af en toe bietjie in heroënskou te neem nie.  Dit laat my dink aan die ongeletterde jong ou van so 23 jaar oud, wat geen skoolopleiding gehad het nie, en eendag die apteek binne stap. Hy gaan reguit na die apteker en vra vir hom of hy asseblief net gou sy telefoon vir ‘n plaaslike oproep kan gebruik.

Die apteker moes vir hom die nommer skakel want die knaap kon nie lees of skryf nie. Die apteker doen dit en oorhandig die spreekbuis aan die ongeskoolde jongman om te praat.

“Hallo”, sê die jongman, “Hallo, dr Anderson.”

“Dr Anderson…soek u nie dalk iemand om te huur om u gras vir u te sny, u motor te was en u aflewerings en al die ander los werkies vir u te doen nie?
O, u het alreeds ‘n knaap wat dit vir u doen, maar dr. Anderson, is u doodseker, u is 100% heeltemal tevrede met die werk wat die knaap wat u het vir u doen?

‘OK’ dan, ‘totsiens’, dr. Anderson.” Toe die jongman die gehoorstuk terug plaas en die apteker bedank vir die oproep, sê die apteker vir hom……

“Wag so ‘n bietjie……

Soek jy werk, want ek kan doen met ‘n handlanger soos jy?”

“Dankie oom,” sê die jongman, “maar ek het ‘n ‘job’.”

Verbaas vra die apteker; “Het jy dan nie nou net probeer om by dr Anderson werk te kry nie?”

“Nee oom,” sê hy, “u sien, ek is die knaap wat vir dr. Anderson werk.

Ek het myself maar net so ‘n bietjie ‘opgecheck’.”

…Mag jy hierdie Kersfees saggies dra wanneer jy jouself “opcheck”.  As jy, soos ek, hier in die doodsnikke van 2019 probeer orde skep van die warboel goeters en laaste verpligtinge in jou kop, mag ons elkeen opnuut vrede vind in die wete dat Sy genade vir ons genoeg is.  Mag jy saggies omgaan met jou vriende, jou familie en elke vreemdeling, en mag jy hierdie Kersfees vir `n paar kosbare dae helderheid en geluk beleef in `n wêreld wat al meer uit fokus voel.      

Mag jy tyd maak om stil te wees.  Nie heeltyd besig wees nie…Jy`t nie nodig om nog `n manier van servetvou te ontdek en in die gewone gammon en trifle-koma te verval nie, jy`t nie nodig om haastig te wees of enige iets anders wees nie.  Jy MAG net jouself wees.  En onthou, jy hoef nie gewig op te tel nie!  Voor jy die “reset” knoppie druk om op 1 Januarie 2020 weer van voor af te begin, mag jy rus, afskakel en herstel.  Mag 2020 vir jou vreugde en vrede bring saam met elke klein golfie wat dreig om jou voete onder jou uit te slaan.

Mag jy hierdie Oujaar terugkyk op 2019 en besef dat jy sterker was as wat jy gedink het.  En wanneer jou toekomsdrome verder as die maan lyk, mag jy en ek saggies vir onsself sê: “Toemaar, môre probeer ons weer…”

Mirna

082 779 0507

NS: `n Reuse dankie, Mari Kruger, dat jy elke liewe Sondag in 2019 hierdie Blog gepost het op ons webblad.  En baie dankie, liewe leser, dat jy week na week op die link gekliek het, en gelees het, van voor tot agter.  En soms selfs vir my kommentaar gelos het.  Dis my inspirasie.  Fluit-fluit, my 2019 storie is nou uit.  Ek skryf graag weer, as als goed gaan, op Sondag 12 Januarie 2020.

 

Has one comment to “AFKOELSTOEL”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Tina says:

    Baie dankie vir hierdie jaar se blog-inspirasie! Altyd wyse en aanmoedigende woorde van n ware ikoon in my lewe!
    You nailed it!👌❤