Wie’s JOU Antjie Somers…?

My ma het nooit nodig gehad om ons met Antjie Somers te dreig nie…Die woord “houtlepel” was genoeg om ons hare te laat rys.  Tot vandag is ek baie seker Ma se houtlepel en pantoffel is die rede waarom ek moeiteloos 4uur soggens opstaan en elke liewe week `n Blog skryf…lekker pak gekry, gereeld!  Gesorg dat ek sommer vir altyd op my tone bly…☺☺☺ Ja, ons is lekker geneuk – by die huis én by die skool…

As dit nie was vir meneer Vosser se dik houtplank in matriek nie, het ek nooit  Mussolini se Fascistiese beleid onder die knie gekry nie, en die enigste rede hoekom jy my moeilik sal vasvrae met die “Past perfect tense” is omdat “mam” Booysen dit by ons inge”dril” het met haar papierdun kweperlatjie.    

Dis hoekom Jana Marx se voorbladartikel in Beeld van 23 September my lae bloeddruk die hoogte laat inskiet het – verbeel jou, `n pa wat nou regshulp nodig het net omdat die juffrou glo gehoor het hoe die leerling aan `n maatjie vertel het sy het drie houe by dié pa gekry! Gmpf!!!  Skynbaar was dit nie erg genoeg dat lyfstryf verban is uit skole nie – nee, `n lekker pak slae by die huis is nou ook taboe. 

Verby is die dae van `n raps op die hand as jou peuter aan `n kragprop vat of `n plat hand op die boud as jou vierjarige oor `n besige straat wil hardloop…Jip, dis bokveld toe met die paplepel, die leerbelt, die haarborsel en die plathand en ja, jy mag nou dagga in die huis aanhou maar net nie `n “moeg-gepraat-paplepel” nie…

Antjie Somers-bangmaakstories van die vreesaanjaende man wat soos `n vrou aantrek en kinders vang wat nie wil slaap nie het boonop dalkies in Ouma se tyd gewerk om kleingoed in toom te hou, maar vandag?  Nee, pappie! Meeste van ons kinders weet op tien-jarige ouderdom in elk geval reeds wat `n “cross-dresser” is…  

…Tydens `n onlangse Woordfees het Antjie Krog dié baie waar woorde gesê:  “Wanneer die gruwels van die werklikheid dié van die verbeelding oortref, maak gogga nie meer vir baba so bang nie…”

Die lewe self het `n bangmaakding geword…en vrees, die siekte van ons tyd.  Het jy geweet dat gewone kindertjies vandag banger is as psigiatriese pasiënte in die 1950`s?!  Hoe dan anders met boelies en gesinsgeweld en werkloosheid en onveiligheid…?  Maar, het jy ook geweet dat daar slegs twéé vrese is waarmee `n mens gebore word?  Kenners sê die vrees vir val en `n vrees vir harde geluide. Alle ander vrese word later aangeleer…

Amptelik is daar 538 fobies op aarde, alhoewel wetenskaplikes meen die getal is nader aan oneindig.  Vir alles wat op aarde bestaan, is daar `n vrees. Mense ontwikkel vrese vir pers, ballonne, blokkieshemde, stoom, hoenders, lang woorde, baarde en telefone…en elke fobie het `n vreeslike naam.  (Soos Arachibutyrophobia – fear of peanutbutter sticking to the roof of the mouth, of Catoptrobhobia – fear of mirrors)

Die slim ouens sê `n gril is nie `n fobie nie (dankie tog), want `n muis, gogga en spinnekop het my nog altyd lag-lag in `n vlaag van histerie gedompel.  Ek sou myself nie as `n bang mens beskryf nie, maar as ek kyk na die amptelike lys van fobies, moet ek bieg dat ek verseker ly aan Hemophobia (vrees vir bloed), en my Rhytiphobia (vrees vir plooie!) raak ek elke jaar erger…

Maar, hierdie is `n fiksheidsblog, onthou, so kom ons gooi so `n bietjie vandag `n klip in jou fobie-bos…`

…`n Paar maande gelede verwys Marizanne Kok in Rapport na die Engelse krieketsensasie, Ben Stokes, as Nieu-Zeeland se Antjie Somers tydens daardie legendariesde wêreldbeker-eindstryd…

Wie of wat is JOU Antjie Somers…?   Bang vir vet bly, bang vir maer word?  Bang vir seerkry? Bang vir `n inspuiting, vir vlieg, vir kanker, vir cholesterol, vir verwerping, vir mislukking, vir verandering, vir probeer?

…As jy nou al vir hoe lank wonder of jy iets moet doen, selfs vir 20 jaar al, is dit nie nou die tyd om iets daaromtrent te doen nie?

Dis wat die 33-jarige Larry Walters gedoen het.  Op 2 Julie 1982 sit dié Viëtnam-oorlogveteraan oudergewoonte in sy agterplaas en wens dat hy kan vlieg. Toe kry hy dié idee: hy maak 45 weerballonne gevul met helium aan sy stoel vas. Gewapen met ’n windbuks om die ballonne mee stukkend te skiet sodat hy weer kan afkom, ’n paar toebroodjies, bier, ’n kamera en ’n burgerband radio, gaan sit hy op sy stoel.  Daar is verskillende weergawes van wat volgende gebeur het. Maar toe die een tou losgemaak word, breek die ander twee en daar trek hy, soos `n pyl die lug in! 

 Walters het ’n hoogte van sowat 4 880 m bereik, en toe die Long Beach-lughawe van hom hoor, was hulle nie beïndruk nie. Ten minste twee kommersiële vliegtuie het hom daardie dag gesien. Kan jy die verbasing van die loods indink toe hy by die venster uitkyk en ’n ou op ’n tuinstoel buite die vliegtuig sien hang!

Die goeie nuus is dat alles in sy guns getel het om weer veilig te land. Nie sonder skade nie, want sy toue het die kragdrade geraak en Long Beach vir 20minute sonder elektrisiteit gelaat. Hy moes ook ’n boete betaal aan die lugvaartowerhede. Hulle het wel die klag laat vaar dat hy ’n siviele vliegtuig vlieg wat nie ’n lugwaardigheidsertifikaat het nie – want dit was nie heeltemal toepaslik vir sy tipe “vliegtuig” nie.

Volgens Robert Fulghum, wat oor dié petalje skryf in sy boek “Everything I really need to know I learned in kindergarten” het Larry Walters vir die nuusmedia gesê: “Wel, ’n mens kan nie net daar sit nie.”

Toe hulle vra: “Was jy bang?”

Antwoord hy: “Yes… wonderfully so.”

Gepas het Walters daardie dag sy stoel gedoop: Inspiration!  Sy storie het talle nuwe volgelinge geïnspireer en onder meer tot die Australiese fliek Danny Deckchair gelei. 

Soms moet ’n mens juis insprasie put uit die ding waarvoor jy bang is.  Vyfhonderd jaar gelede het die Franse filosoof Michel de Montaigne, gesê: “My lewe was teëspoed, waarvan die meeste nooit gebeur het nie”.

Hou op bang wees vir jou eie skaduwee., bang wees jou kanse is verby, bang wees die druk word te erg, bang wees jy maak dit nie, bang wees om `n fout te maak, bang wees om `n fout te erken, bang wees vir wat kan gebeur…

Hou op bang wees vir die “wat asse” en die “wat as ek nie`s”.  Wonderwerke gebeur moeilik met `n bewende broek. Soos Chantelle de Wet skryf in “Fobie”: “Wat as Aspoester die Goeie Fee weggewys het uit vrees?  As Fleming bang was vir muf het ons nie vandag antibiotika geken nie.” As Abraham Lincoln gehoor gegee het aan sy onmenslike vrees om in die openbaar op te tree het hy nooit president geword nie.

  “Fear has two meanings – Forget Everything and Run, OR Face Everything and Rise, skryf Zig Zaglar in sy boek “Face the struggle”. 

…Ek sê regtig nie jy moet jouself aan `n tuinstoel vasmaak en probeer opstyg met ballonne nie – maar hekel daai kombers, bak daai koek, gaan op daai dieet, lees daai boek, skryf in vir daai kursus, gaan hardloop daai wedloop.  Moenie dat jou Antjie Somers jou droom in die wiele ry nie. Begin net. Gaan jy steeds bang wees? Ja, wonderlik so! Die lewe IS `n bangmaakding. Maar hy`s ook `n liefhê-ding, `n blymaakding, `n moed-verloor-en-aanhou-ding, `n oorkom-jou-vrees-verander-en-floreer-ding…

Gelukkig hou ons nooit op leer nie.  Solank ons aanhou probeer, sal ons leer en leer totdat ons, anderkant uitkom, deur die lewe, blink gepoleer!  `n Mens kan mos nie net daar sit nie, of hoe…?

Mirna

082 779 0507

2 comments to “Wie’s JOU Antjie Somers…?”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. A most entertaining read! Thanks

  2. Mirna says:

    Thank you, dear Elsa! ❤