In sy Kaalkoprubriek in Sarie van Mei skryf Nataniël: “Wanneer oueres woedend of ontsteld raak, begin `n sin dikwels met IN MY TYD…” Ek sal myself nog regtig nie graag wil kwalifiseer as `n “ouere” nie, maar “maaind you”, dis ook nou nie dat ek myself meer in die dertigs kan inlieg nie… en as jou dogter boonop wil weet of Freddy Mercury al oorlede is IN MAMMA SE TYD, dan is “ouere” seker nie `n vergesogte titel nie…☺
Ek is nie woedend of ontsteld nie, maar IN MY TYD was boetebessies kwaai, maar nie almal was oorgewig nie. IN MY TYD was daar nie “express” bane in die supermark nie, want almal is ewe vinnig in en uit gehelp. En IN MY TYD was daar net enkele klimmers, die bestes onder die bestes, wat daarin kon slaag om Everest te tem… Ek was presies twee jaar getroud toe Cathy O`Dowd in April 1996 geskiedenis maak en die eerste Suid-Afrikaner word om dié hoogste bergpiek in die wêreld te verower…
…Vandag lyk die wêreld soveel anders. Het jy geweet dat 5000 mense dit al reggekry het die afgelope paar jaar om daardie legendariese bergpiek van 8848m bo seevlak te betree? En het jy geweet, in 2019 alleen het `n rekordgetal 820 mense al probeer om die piek te bereik…? Maar dis toe ek daardie onlangse foto in Beeld sien van 200 bergklimmers in `n “verkeersknoop” oppad na die bergpiek wat ek opnuut besef het… die mensdom het ‘n spesie van toustaners geword…
My pa sê IN SY TYD het die bankbestuurder uit sy kantoor gestorm en self ingespring om kliënte te bedien. Vandag wonder mens of banke nog bestuurders het, want waar is hulle? Niemand weet nie… Ons staan tou om `n draai te loop in Menlyn se Ster-Kinekor, ons staan tou om geld te trek by die kitsbank, ons staan tou in die kasregisterry by Checkers en in nog `n tou by die kreupel poskantoor. By die lisensie-kantoor gaan dit nog erger, danksy `n “swak rekenaarstelsel” wat geskryf is vir mense wat nie haastig is nie.
Ek weet nie hoe dinge oor 20 jaar gaan lyk nie, maar wanneer ek eendag dalk op die ouetehuis se stoep sit en Bingo speel, gaan ek onthou – IN MY TYD HET ons tou gestaan. `n Insiggewende verslag van die US News and World Report het onlangs aan die lig gebring dat `n mens 5 jaar van jou lewe mors deur in `n tou te staan, en meer as 6 maande om by `n rooi verkeerslig te wag. Ek begin dink dis wat die term “Functional fitness” EINTLIK beteken – oefen om fiks te bly vir toustaan.
Jy moet ook nie dink toustaan is net `n Nuwe Suid-Afrika-swak-dienslewering-ding nie – o nee, in 2008 het die Southern Vectis-maatskappy in Brittanje aangekondig dat buitelandse studente wat na die suide van Brittanje kom om Engels te leer, `n nuwe kursus moet byneem, naamlik hoe om tou te staan by bushaltes om nie die plaaslike inwoners te verontrief nie. In Rusland sal huisvrouens blykbaar gereeld opmerk: “Wat doen `n mens as jy nie heeldag in ‘n tou hoef te staan nie…?”
Kyk, toustaan beteken waarskynlik verskillende dinge vir verskillende mense, maar die feit is, iets gebeur met mense wanneer hulle in `n tou staan – of jy nou die goedheid vanself, kwaad, opgewonde, haastig, bedruk of geïritteerd voel, as daai tou nie beweeg nie, raak jy êrens lus om `n lelike tantrum te gooi. Al weet jy dit gaan niks help nie. Ek kan nie Zoeloe praat nie, maar ou matta, toustanery het my vinnig geleer om te sê: “Sicela ujoyine i-line…” (Hey, klim in die tou, wêna…)
Dis `n vreemde ding, dis tog nie dat ons nooit geleer het van rye en toustaan en ons beurt afwag nie…Wag is nog altyd deel van die lewe – ons wag op mekaar, wag op beter dae, wag vir môre, wag vir `n nuwe begin, wag vir `n beter geleentheid om oor ons pad te kom…
Ons ouers het ons vroeg-vroeg geleer dat wag goeie maniere is – dis deel van die lewe, van dissipline, orde en regverdigheid. Jy leer dit op jou eerste dag van skool al, voor die juffrou nog kom by lees en skryf en een plus een. IN MY TYD het seuns ook na skool geleer van in rye staan, op aandag met jou maag ingetrek terwyl jy verskreeu word deur een of ander gefrustreerde sanmajoor wat nooit op skool klaskaptein was nie.
Wat het dan verander – hoekom het ons so ongeduldig geraak? Ek dink Carl Honoré het `n punt beet wanneer hy sê dat ons doodeenvoudig net te bederf geraak het met kitsoplossings. In sy boek “The slow fix” skryf hy: “Kitskos moet binne ‘n paar sekondes op die toonbank wees. Kitsresultate word verwag van sportspanne anders word afrigters afgedank. Kitsmiljoenêrs word op die voorblaaie van finansiële tydskrifte opgehemel. Politieke oplossings moet in ‘n kits geskied. Dié kitsverslawing word bevestig daarin dat mense in Brittanje gemiddeld 40 000 pille in hulle lewens gebruik. En die beste bewys van die verslawing aan kitsoplossings? Dit vind ek in myself.”
Ek ook. Ongeduldig om te sien dat my lede daardie kilogramme verloor wat hul pla, ongeduldig dat die kinders moet huis toe kom die vakansie, ongeduldig dat die volgende seisoen van How to get away with murder weer op die kassie moet verskyn. Ongeduldig dat die Rebound choreografie video op ons YouTube kanaal moet laai… Ons is nie gewoond om so te wag nie.
Dis ook ongeduld wat maak dat vanjaar sover een van die dodelikste klimseisoene op die berg Everest is… Onervare bergklimmers en die rekordgetal permitte van 391 wat die Napalese regering sover in 2019 uitgereik het moet die blaam dra vir die minstens 12 mense wat die afgelope jaar reeds dood is op die berg… Dalk moet elke voornemende bergklimmer die Wit Haas in Alice in Wonderland se woorde ter harte neem: “Don’t just do something, stand there…” Stop en dink eers mooi. Wag `n bietjie.
Net verlede Sondag preek ds. Herman oor wag – ons moet leer om beter “wagters” te word. So dalk is dit wat die getoustanery IN ONS TYD ons wil kom leer – om beter veterane van afwagting te word. Dalk is dit waarna Brendan Peyer verwys wanneer hy sing “klim jou Everest…” Word `n beter toustaner.
Want of jy nou praat van MY TYD of MY PA SE TYD of NATANiëL SE TYD, uiteindelik staan elke liewe aardbewoner, elke een van ons, in die lang tou om die tydige met die ewige te verwissel. En is dit nie darem net so bietjie ironies om te weet dat NIEMAND voor in daai ry wil beland nie?
Volgende keer as jy in `n lang tou staan, haal diep asem en onthou Oscar Wilde se woorde: “To do nothing at all is the most difficult thing in the world, the most difficult and the most intellectual…”
Thomas A Kempis, bekende priester en skrywer, het gesê: “As jy nie die lewe met vreugde kan leef nie, doen dit ten minste met geduld”. Die lekker van `n tou is dis `n groot gelykmaker – of jy nou lelik of mooi, arm of ryk is, jou beurt is jou beurt. Ons is almal in dieselfde tou-bootjie, ons kan net sowel besluit hoe ons daarin wil staan… Jy kan verlore raak in die skerm van jou foon, sug-sug en brom-brom, of besluit om `n geselsie aan te knoop met die persoon voor jou. Jy kan `n bottel water en `n lekker boek saamvat en tussendeur `n paar kuitoefeninge doen deur jou hakke op en af, op en af te lig. Of jy kan braaf wees en `n visvangstoeltjie, `n fles koffie en toebies saamvat – wie weet, dalk lat wiel hulle dan!
Mirna
082 779 0507