Vanselfsprekend

Het jy toe dié keer gesien?  Ja, almal het hart en mond belowe hul gaan dié bloedmaan met hoopvolle verwagting inwag 19 Februarie…Dit was Dinsdag, tjomma.  Was jy betyds om die prentjie in te drink?  Of was dit weer `n keer net `n vanselfsprekendheid?  Jy sal mos volgende keer kyk…

Verlede jaar dié tyd was dit vanselfsprekend dat Roydon Olckers van Hoërskool Driehoek oudergewoonte dié jaar weer aan die 1500 m sou deelneem by die Interhoër…Hy`t so hard geoefen, maar dié jaar WAS hy nie hier nie, daarom het sy ma, Sharlene, dit namens hom gedoen.  Dinsdagmiddag in die Germiston-stadion het Roydon se ma, in sy atletiekdrag, saam met sy atletiekvriende `n 400 m gehardloop.  Al die ondersteuners op die pawiljoen het knop in die keel spontaan staande hande geklap, die tragiese gebeure by Hoërskool Driehoek nog vars en seer in almal se geheuens.   

“My liefste Roydon. Vandag hardloop ek jou laaste wedloop en sommer ook vir Marli, Jandré en Magnus (die ander drie kinders wat dood is) en al die kinders wat seergekry het”, het Sharlene Olckers in `n roerende brief geskryf wat hardop voorgelees is voor die byeenkoms se aanvang.

Ek raak bietjie skaam as ek dink hoe ons Ermeloërs dié week hare gekloof het oor die werklike uitslag van Interhoër, terwyl hier stukkende ma`s is wat enigiets sou gee om hul kinders net nog een keer te sien deelneem by `n byeenkoms.  Net nog een Interhoër, net nog `n slag.  Ongeag watter plek hulle behaal.  Ongeag wie wen.

André Schwartz was verlede jaar oudergewoonte besig om te repeteer vir sy soveelste Janice Honeyman-pantomine.  “Ons was besig met `n r-klank oefening toe ek agterkom dat net `n deel van my tong werk”, vertel hy openhartig oor sy neuronsiekte op Kwêla. “Wat jy gedink het is ʼn toekoms, is glad nie meer daar nie en wat jy gedink het is môre, word ʼn twyfel”.  Skielik is niks meer vanselfsprekend nie – nie eens om `n potlood vas te hou of `n hemsknoop vas te maak nie.

In sy boek “The Eigth page”, skryf die bekende berader Craig D Lounsborough: “In a very tragic kind of way, sometimes things have to be gone before we fully realize that they were ever there.”  

Vanselfsprekend.  Dit herinner my aan Ouma se tamatieplant jare gelede op die plot in Vereeniging.  Om teen skemer saam met Ouma tuin toe te stap met die vergiettes en die mooiste klein tamaties met hul songebakte rooi skilletjies uit te soek, was een van die lewe se groot lekkertes.

 Maar ons het ook maar lekker bederf geraak met Ouma se vrygewige tamatieplant.  Tamaties was nooit op my ma se kruidenierslysie nie, want Ouma het handevol aangedra.  Tamaties, tamatiekonfyf, tamatieblatjang, tamatiebredie.  Elke keer as ons dink nou`t ons klaar gepluk, dan pluk ons weer en weer.  En toe, een dag, sommer net so, is Ouma se tamatieplant vaal en verlep.  Morsdood. Ouma het vas geglo dit was Oupa se pyprook-hande wat die tamatieplant die nekslag toegedien het, maar dis nie die punt nie.  Eers TOE het ons regtig die tamatieplant waardeer.  Toe dit weg was.

Vanselfsprekend.  Die Engelse noem dit “entitlement”.  Ek is geregtig daarop.  Ek kwalifiseer daarvoor.  Dit kom my toe.  En dit gaan oor veel meer as tamaties.  Ons haal so vanselfsprekend op `n koue dag `n warm baadjie uit ons kas.  `n Baadjie met baie ander maters in allerhande kleure en groottes vir `n variasie van geleenthede en temperature.   “Hoe meer iets ondervind word, hoe alledaagser word dit gewoonlik”, skryf iemand in `n bloginskrywing. “En die versuim om tyd af te sonder om seëninge en redes tot dankbaarheid te tel, was nog altyd een van die grootste tekortkominge van die onvolmaakte mensdom…” Die son kom elke oggend op en gaan elke aand onder, alledaags soos klokslag.  Vanselfsprekend.

Jy kon die een gewees het wat vanoggend vir die laaste keer opgestaan het, vir die laaste keer `n koppie koffie afgesluk het, die laaste keer jou seun by die skoolhek afgelaai het.  Ons het nie waarborge in hierdie lewe nie.  Net die wete dat tyd min is en die lewe bitter kort en kosbaar is.  Josh Groban se “Granted” is lirieke wat ons gerus bietjie stadig moet lees:

“Have you ever felt it could all go away 
If you blink
If you never stop running you won’t fall behind
So you think
And you wonder in your heart
If you’re still not who you are
Who are you?
Nothing’s as it seems till it all falls apart

If you have a dream, go chase it
If you feel hope, don’t waste it
If you find love, embrace it
And never take a single breath for granted
The story’s yours, go write it
Tomorrow’s undecided
Our days are counted on this planet
Never take a single breath
Take a single breath for granted

Maybe it’s time you bet on yourself…”

Op jouself wed?  Ja, wanneer laas het jy `n kans gevat, `n sprong gewaag, `n droom gejaag?  `n Besluit geneem vandag, want môre is nie gewaarborg nie.  Ek moes hierdie week die groot besluit neem om 30 paar Pound Ripstix® uit Amerika te bestel – ons het dromstokkies in die studio, ek weet, maar as ons Pound® aanbied, moet ons die ware Jakob hê.  Watse waarborg het ek dat almal net gaan aanhou opdaag vir hierdie klasse?  Geen.  Aanvaar ek dit as vanselfsprekend? Lankal nie meer nie.  Ek dink mens noem dit hoopvolle verwagting…☺ Want terwyl ons kan knope vasmaak en potlode vashou en asemhaal en oefen, moet ons die bloedmaan sien en minder hare kloof en leef en dankie en asseblief en ekstra dankie en ekstra asseblief sê.  En hoopvol verwag.

Want: “TODAY, THIS MOMENT, IS ALL THAT`S PROMISED. ACT LIKE IT. LIVE.”

Mirna

082 779 0507

6 comments to “Vanselfsprekend”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Soooo waar! Dankie v d artikel

  2. René says:

    Baie waar woorde en laat mens diep dink!!!!!!!

  3. Carien Bester says:

    Jy het weereens die spyker op die kop geslaan met *vanselfsprekend” Mirna. Jy kon jouself nie beter in woorde uitdruk nie. Dis ook iets wat al geruime tyd met my praat. Die lewe is kort en vol mooi en slegte verrassings maar op die einde van die dag is dit al wat vanselfsprekend is. en die res is wat ons met ons alledaagse lewe maak en met groot genade van bo…

  4. Mirna says:

    Baie dankie, Berdine!!!

  5. Mirna says:

    Dankie René! Jy moet nou terugkom ons mis jou!

  6. Mirna says:

    Dankie vir jou terugvoer, Carien! En jyt ook nou lank genoeg vakansie gehou hoor jy!! ❤