“I don`t have pet peeves – I have whole kennels of irritation”, het die aktrise Whoopi Goldberg eendag gesê. Ons weet waarvan sy praat – dis daardie blêrrie klein jakkalsies wat ons lewens kom versuur. En die probleem met hulle is – dié klein peste verniel nie net die spreekwoordelike ou wingerdjie nie – hulle verhoog ons bloeddruk, hulle gee ons plooie en al te gereeld is HULLE die rede waarom ons gewig optel…
Hoekom anders word duisende mense elke jaar deel van daardie teleurstellende 92% van die bevolking wat klokslag, presies gedurende hierdie tweede week van Februarie al hul Nuwejaarsvoornemens onder die bed inskop? Hoekom, vra jy? Want die lewe gebeur terwyl ons ander planne maak. Sien, wanneer ons op Oujaarsaand op Hartenbos `n klippie in die see gooi, `n hartswens maak, die ou jaar begrawe en al ons nuwe voornemens bymekaarmaak, dan dink ons net aan al die beloftes van die blinknuwe jaar. …Wanneer ons `n verjaarsdagboodskap vir iemand stuur, wens ons hul gewoonlik `n geseënde nuwe lewensjaar toe. Op Nuwejaarsdag wens ons mekaar `n voorspoedige nuwe jaar toe. Maar wat bedoel ons eintlik daarmee? `n Nuwe jaar kan mos nie sommer so op sy eie besluit dit gaan `n beter een wees nie. En daar`s nog al die duisende klein jakkalsies ook om mee rekening te hou. Een of ander tyd gaan die papaja êrens die “fan” tref…
Jy dreig nou al maande om al daardie foto`s van jou kleinkinders op die hardeskyf te stoor – jy voorsien mos nie dat die weerlig jou rekenaar gaan bykom en ALS uitvee nie! Jy weet jou dogter gaan Australië toe emigreer maar dink nie dat dit al in Januarie gaan gebeur nie. Jy`s niksvermoedend oor die R1000 boete wat jy gaan kry, net omdat jy in `n stadige tweede rat oor die stopstraat by die Brandweerstasie ry. Klein jakkalsies. Wanneer die nuwe jaar op 1 Januarie oor Stilbaai breek, hoe moet JY weet jou graad 1-dogtertjie gaan elke dag `n keel opsit om die groen skoolrokkie oor haar kop te trek? Hoe kan jy 5kg verloor as jou aanstaande skoondogter `n ongeskikte klein merrie is, die sinus jou nie wil los nie en jou regter groottoonnael verdomp nie wil ophou ingroei nie?
Hoe, vra jy? Deur dit alles dalk te sien vir wat dit is – simpel ou klein jakkalsies. Sien, ek was nie van plan om dié week te skryf nie. Ek skryf nou vir meer as vier jaar, elke liewe week. Voorheen was dit ononderhandelbaar – die koerant het `n spertyd gehad, my artikel moes in, Adele het die spasie in Insig-koerant spesiaal vir my uitgehou. Nou maak dit nie regtig meer saak nie. Daar`s nie `n spertyd nie, en ek is nou nog minder seker of dié skryfstukke gelees word – dis moeite om die Toep (dis Afrikaans vir App, duh!) oop te maak, dit vat data om te kliek op die blog se tuisblad. Dis `n klein jakkalsie op sy eie!
Maar ek kon nie anders nie – ek moes skryf. Want Maandag begin Louise met `n intense ses week-lange bestraling vir borskanker – en as sy dit nie vir my gesê het nie sou ek dit nie geweet het nie. Want sy`t Desember al die nuus gekry, maar sy`t nog elke dag kom oefen, met haar sin vir humor en haar droë laggie en al. Verlede Woensdag gesels ek met haar voor die vrieskas in Woolies. Terwyl ek nie regtig weet wat om vir haar te sê oor die behandeling wat voorlê nie, skerts sy oor al die flieks wat sy gaan sien en help `n gryskoptannie om die “Chicken Nuggets” van die hoë vriesrak af te haal. Sy dra hierdie pakkie sonder `n sweempie selfbejammering.
Hoekom het Louise kanker gekry? Hoekom is Lilly nog nie gesond nie? Hoekom het die Driehoek-tragedie gebeur? Selfs nie eens nugter alleen weet meer nie.
Maar ek vermoed dit gebeur om die res van ons oor die vingers te kom tik oor al ons geteem oor die klein jakkalsies. Skaars drie maande nadat ons na André Schwartz geluister het in Ermelo tydens `n Kerssangdiens, vertel hy van sy motorneuronsiekte, maar hy sê hy gaan nie so gou lê nie. “Kaarte word die hele tyd aan ons almal uitgedeel en ons moet daarmee “deal”. Ons kan nie kies nie”, vertel hy in `n openhartige gesprek op Netwerk 24.
Die tragedie wat hom die week afgespeel het by Hoërskool Driehoek nadat `n betonstruktuur op leerlinge geval het, kon by enige plek gebeur het. Hulle kon nie kies nie. Maar terwyl ons rou saam met die skool en die ouers van die 4 leerlinge wat omgekom het, slaan ons ons hande saam oor die anonieme weldoener se skenking van R700 000 en oor al die getuienisse van hoop wat uit dié hartseer dag gebore is. Hein Knoetze, skoolhoof van Driehoek, vertel hoe hy op daardie chaotiese dag in die skoolsaal afgekom het op die aangrypende prentjie van Clarissa van Zyl, hoofdogter van die skool, besig om vir die hele skool te bid.
Wanner die lewe ons van ons rusbanke en troontjies kom afstamp, dan maak die klein jakkalsies skielik nie meer saak nie. Driehoek se tragedie sê siesa dat ons teem oor toonnaels en boetebessies en kilogramme. Ons moet `n slag weer verby die chaotiese brousel van werkstres en skoolstres en lyfstres en deurmekaar huise en te min tyd en tot tien tel en rekeninge kyk, en net weer `n slag dankie sê. Leer. En luister. Veral na ons kinders. Wanneer jou seun `n vraag op `n wit bord skryf en voor jou kom hou terwyl jy die soveelste na-ure oproep van die kantoor beantwoord, kry skaam. En luister. As jou dogter opgewonde die nuwe haarstyl kom wys wat sy met haar agt-jarige vingertjies op Barbie se kop bewerk het, hou op aan ander goeters dink. Gee aandag…Praat in vol sinne. Luister. En sê dankie.
Ek wou my rekenaar die naweek by die huis los, maar ek is bly ek het hom ingepak… Vrydagaand was ons bevoorreg om die son te sien ondergaan in die pragtige Mjejane-boskamp op die oewer van die Krokodilrivier. Jammer, Mari, ek het gesê jy rus die naweek. Maar hier kom die bloginskrywing vir ons webwerf. Dit maak regtig nie saak of iemand lees nie, maar ek moes net gou kom DANKIE sê…
Mirna
082 779 0507
4 comments to “Die Klein Jakkalsies”
Mirna jou stukke word gereeld hier in Johannesburg ook gelees en aangestuur. Dankie daarvoor! Stefan Pelser.
Stefan!! Baie baie dankie! Beteken die wêreld vir my!
Hi daar
Mirna ASB hou aan skryf! Ek en baie ander mense lees jou artikel elke week. Jy het ‘n talent soos min ander. Jy “praat” met elkeen wat dit lees.