…`n Klompie geslagte gelede was dié sêding niks om oor grappies te maak nie, want sekere mense het werklik gedink dat die maan `n mens van jou verstand kon beroof. As jy jou snags te veel aan maanlig blootstel – so het hulle geglo – was jy `n goeie kandidaat vir die sielsiekegestig. Sedertdien het mense op die maan geland en weet ons gelukkig nie een van hulle het “snaaks” geraak nie…
Verlede Maandagoggend stuur `n vriendin dié Whatsapp: “Nooi jul om saam met ons na die maan te kom kyk vanaand. Rondom half-ses, 7km uit op die Amsterdampad…ons verwag `n oop horison en `n droommaan…Dan drink ons `n heildronk op die nuwe jaar en die eerste vol maan en op vriendskap en samesyn. Laat weet of julle kan kom, vir beter padaanwysings…”
Tot my spyt kon ons nie gaan nie, want ek gee klas tot sewe en Schalk werk tot agt, maar ek het tog so stilletjies my kop so `n bietjie in skaamte laat sak…So met die harwar en hellevaart van pens-en-pootjies in Januarie het die vooruitsig van dié langverwagte superbloed-wolfmaansverduistering heeltemal by my kop uitgewaai…
As ek so luister, was daar gelukkig baie maanaanhangers wat 2019 se grootste volmaan gesien en waardeer het: Marthie sê haar vier-jarige dogtertjie het dit Jesus se selfoonliggie genoem, iemand op Instagram beskryf sy motorrit huis toe na `n lang werkdag met die maan soos `n koperskinkbord laag teen die horison. “Die maan is so helder dit lyk of die stoeplig brand”, laat weet my pa. My nig Whatsapp: “Ek kyk en geniet `n glas koel witwyn saam met Beethoven se maanligsonata. Kyk julle?”
…Blykbaar was die Amerikaners veral opgewonde, omdat dit die eerste keer in drie jaar was dat hulle `n totale maansverduistering kon sien. Van die gloeiende skouspel, laag en blink en laggend op die horison – het ek darem agterna `n paar foto`s gesien. Die goue bal hét my ook huis toe vergesel en toe dit glimmend bo die dakvenster kom hang, het ek gedink aan Mahatma Gandhi se woorde: “When I admire the beauty of the moon, my soul expands in worship of the Creator…”
Maar ons volmaan het my ook opnuut bewus gemaak van die term “persepsie”: Ons kyk almal verskillend na die maan – In `n roerende gedig skryf Corné Welman:
“Ek wonder hoe lyk die maan vir jou
Lyk hy vir jou soos vir my?
Ons almal kyk met annerste oë na alles.
Jou oë en my oë kyk nie dieselfde nie.
Ons sien dinge nie dieselfde nie.
Daarom voel ons dinge nie dieselfde nie…”
Vir die ou heidene was die maan iets om te aanbid, vir wetenskaplikes is dit iets om te bestudeer, en vir verliefdes is dit iets wat die romanse aanwakker. Ons weet dat die maan die getye van die see beïnvloed, en daar`s selfs hulle wat so ver gaan om te sê dat die stand van die maan vulkane en aardbewings veroorsaak. Reeds in 1831 het Bellini `n opera oor die maan komponeer, en in Januarie 1889 het die asemrowende nagligte so `n indruk op Vincent van Gogh gemaak dat hy een van die wêreld se bekendste skilderye ooit geskilder het. My ouma het vas geglo dat die maan die groei van haar tamatieplantjies bepaal, en volgens Oupa was `n sekelmaan `altyd n aanduiding dat dit binnekort sou reën: “die maan gooi uit”, het hy graag gesê.
Nou die dag, op daardie einste derde Maandag in Januarie kon jy kies of jy saam met die doemprofete wou sug oor dit die blouste, neerdrukkendste dag in die hele jaar is. (Ja, kwansuis omdat die vakansie verby is, meeste van ons terug is by die werk en besef hoe platsak ons is na die feesseisoen). Jy kon dink aan die maan as `n dooie stuk klip wat in die lug hang, of jy kon blinkoog uitsien na sononder en toelaat dat die natuur jou so bietjie uit jou eie klein wêreldjie kom gryp en jou die groter heelal ingooi. Ek weet nie wat was JOU persepsie op 21 Januarie 2019 nie, ek weet net, om daardie maan-jifieke toneel te sien MOES jy so `n bietjie met die maan gepla wees☺
Dalk moet ons almal in 2019 so bietjie meer gepla raak met die maan – met kinderlike opgewondenheid meer ingestel raak op die klein wonderwerke, en meer daarna uitsien om ons omstandighede te verander vir onsself. Ophou om ander te blameer vir ons gewig, ons vooroordele, ons hartseer en ons vrese. Meer kere stil word, selfondersoek instel, kragte opbou en dankie sê. Die maan is nie net `n hemelliggaam nie – dit IS die Groot Hand se selfoonliggie wat ons herinner dat ons nie die enigste ou lewenskolletjie in die heelal is nie.
As ek weer `n uitnodiging kry om na die maan te gaan kyk, gaan ek nie sê ek kan nie. Kannie is dood van kruiwa stoot. Ek weet ek kan jou nie oorreed om “manies” te raak nie. Ek kan jou nie oortuig om liries te raak oor die maan as hy vol is nie, of om opgewonde te raak oor die lewe nie. Maar ek kan vir jou sê dat as jy nie KYK nie, sal jy nie weet watse betowering hy na jou siel toe kan slinger nie.
…Moet nooit weer sê daar gebeur niks moois in Ermelo nie! Die volgende supermaan op die sterrekalender is Dinsdag 19 Februarie! Dis nét om die draai. Gaan JY kyk? Onthou net: “Dis nie jou REG om te sien nie. Dis `n genadige geskenk. Jou kop moet stil wees as jy kyk – dan kan jy sien.” (Martie Swanepoel, Karoo-maan)
Mirna
082 779 0507
6 comments to “Met die maan gepla”
Wow… Die beste skrywer. Baie dankie Mirna
Uitstekend, soos altyd! Ek het 19 Feb in my dagboek aangeteken………..,.,
En hier maak jy al weer my dag, Marthie!
Lenie! Waardeer dat jy tyd inruim om dié te lees. Dankie…
Die onderwerp is pragtig en pas mooi by die nuwe jaar! Ek het dit baie geniet!!
Baie dankie Colette! Dié jaar gaan ek nog oor JOU skryf!