Betyds in 2019

Nuwejaarsoggend 2019, in die slapende hoofstraat van Beaufort-Wes, gaap die bordjie op die deur van “Tessie se Flessie” die Tuisnywerheid – BOT TOE.  Dit was  ‘n paar gelukkiges van ons se leuse ook die afgelope paar weke – Bot toe vir besigheid, wawyd oop vir niksdoen en herlaai, sorgvryheid en saamwees. `n Paar blêrrie lekker weke van net in jou eie vel wees. En geniet wat vir jou gegee word.  Van ophou dink hoe dit moet wees, en geniet hoe dit IS.

Verbeel ek my of was die vuurwerke TOG ook bietjie minder daar oor die noordelike deel van ons dorp dié oujaar – het almal uiteindelik bietjie begin dink?  Of was dit die ongure weer?  Of het ons net BETYDS ons troeteldiere gepaai en ons ore toegedruk?

Betyds… Teen die tyd dat jy dié skrywe onder oë kry, lê die Desembervakansie op sy rug, met die gerusstellende gedagte dat jy eers weer volgende Desember jou strandlyf gaan nodig hê…Die ratte van 2019 het lankal aan die gang geknars en daarmee saam die gespook om van voor af orals betyds te wees en alles betyds te doen. Betyds die kinders by die skool kry, betyds die rekeninge betaal, betyds opdaag vir Step-klas, betyds reageer op die WhatsApp-groep om nie die plekkie in die Booty Barre-klas te verbeur nie…Ek het `n kleintjie dood aan laatkom – as die klasskedule sê ons begin 5uur, dan begin ons 5uur, buig of bars…maar tog het ek ook al mettertyd geleer dat die laatkommers nie noodwendig disrespekvolle mense is nie… Navorsers aan die Universiteit van San Fransisco het bevind dat laatkommers se slegte gewoonte blykbaar te doen het met hul persoonlikheidstipe – die adrenalienbruising van op die nippertjie opdaag voel vir hulle byna soos `n eindstreep wenpaal toe.

“Betyds” laat my ook dink aan die fliek “Sliding doors” waarin Helen Quiley (vertolk deur Gwyneth Paltrow) se lewe as`t ware in twee gedeel word nadat sy afgedank word by die werk.  Alles wentel rondom die feit of sy betyds die trein haal of nie…In die eerste scenario is sy net betyds in die trein voor die glydeur toeskuif.  Sy ontmoet `n aangename ou, James, sy kom vroeër as gewoonlik by die huis en betrap haar kêrel op heterdaad waar hy ontrou is aan haar…In die alternatiewe weergawe mis sy net-net die trein, word sy beroof en betrap sy nie haar kêrel nie.  Die fliek bou op elk van dié verhaallyne voort – In die eerste geval neem sy beheer van haar lewe, sy verhuis, kry `n nuwe haarstyl, `n opwindende nuwe werk en bou aan `n moeitewerd verhouding met James.  In die paralelle verhaal bly sy in daardie afbrekende verhouding met haar ontroue kêrel en moet sy later as kelnerin werk om hulle te onderhou.  Die uiteindelike gang van haar lewe word uitsluitlik bepaal deur haar doelbewuste inspanning om die trein betyds te haal.

“Betyds was nog nooit te laat nie, en laat was nog nooit betyds nie”, lees ek onlangs op iemand se blog…Ek is seker nie heeltemal betyds om jou voorspoedige Nuwejaar toe te wens nie, maar dis darem ook nie heeltemal te laat om so `n paar gedagtes daaroor te wissel nie, sou ek sê.  Ek kan my elke jaar verwonder aan dié jaarlikse ritueel – nuwejaarsvoornemens.  En al die wense wat met die nuwe jaar gepaard gaan.  Dié jaar was daar Blouwillem se wens vir `n maer lyf en `n vet beursie, daar was die kostelike kreefsmous op Paternoster met sy jubelende: “Eet vars vis vir geluk en word 120 jaar oud!”   En mens kan nie nalaat om ons eie Steve se Facebook-nuwejaarswoorde aan te haal te nie: “Ek wens jou die beste 12 maande ooit, en sommer 52 weke se sukses, 365 dae se vrede, 8760 ure se wins, 525 600 bede elke minuut en 31 536 000 seëning elke minuut…”  Mooi né?

Maar wat beteken “voorspoedige nuwejaar” eintlik?  Sonder om swartgallig te raak weet ons tog die brandstofprys gaan nie halveer nie, selfs nie op Swart Vrydag nie, daar`s steeds verhoudings wat in 2019 tot niet sal gaan, gesinne wat sal verbrokkel, kibbelendes wat sal kibbel, praters wat sal praat en donderjaers wat sal voortdonner.  Selfde ou storie…    

Miskien sal dit daarom help om aan die nuwe jaar te dink as `n trein wat ons BETYDS moet haal om `n nuwe lewenstorie te skryf.  En anders te dink.  In plaas van om te vra: “Ek wonder wat my vanjaar gaan tref?”, vra eerder: “Wat kan ék vanjaar doen om dinge om en in my nuut te maak?”  Soos die Franse skrywer Marcel Proust reeds in 1920 gesê het: “Die grootste ontdekkingsreise bestaan nie daaruit om nuwe lande te verken nie, maar om met nuwe oë te kyk…”

Ek hoor van ʼn vrou wat ʼn klompie bottels water wou by mekaar maak om Vrystaat toe te stuur, en toe sy weer sien, het sy binne ʼn dag 50 000L water en twee vragmotors wat die water Vrystaat toe aanry.  En ons het gedink ONS doen goed om `n 5 liter bottel drinkwater agter te laat in die gastehuis op die droë, bedremmelde Beaufort-Wes…

Die punt is dit – Of jy `n laatkommer of `n pynlike pliggie is, 2019 het op presies dieselfde tyd oor elkeen van ons gebreek – die vraag bly staan – gaan vanjaar ook net nog `n slagveld van leë beloftes aan jouself wees?  Of gaan dit `n jaar word van weerbegins.  Beterdoen.  Diepergaan haal?  Het jy vanoggend op die skaal geklim en met `n grusame donderslag besef dat jou lyf nou offisieel uit meer kilogramme as breinselle bestaan?  Daar`s genoeg tyd om dinge anders te doen.

Die jaar lê uitgestrek voor ons, duisende klein opwindende haltetjies wat wink.  Ons moet net betyds by daardie glydeur inklim.  Mag jy in 2019 oop-oog en met verwagting reis, mag jy telkens groter as jou wilskrag wees en weier om daai sak maer klere wat al vrot gewag is vir suurstof uit te gooi. Mag jy bly glo in eendag is eendag en mag jou dapper elke slag voor jou bang gaan staan,

Moenie te veel nuwejaarsvoornemens maak nie.  Die enigste “moets” is om teenwoordig te wees, regtig te luister as die kinders gesels, dankbaar te bly vir die sirkel van mense wat in jou glo, om jou staan en jou arms oplig, en te baljaar in die Liefde wat alle verstand te bowe gaan.  Onthou net, as dit nie lekker is nie, moet dit nie eet nie!

Nes Steve, wil ek ook sê:  “Jammer as ek ook soms vervelig, lastig of irriterend was in 2018.  Gun my asseblief nog ‘n jaar om weer so te wees.

Voorspoedige nuwejaar!

Mirna   

4 comments to “Betyds in 2019”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Marthie Botes says:

    Jy is n awesome mens en dryf ons tot die beste van ons vermoëns. Jy is my super-ster en ek wil in jou voetspore volg. Dankie vir alles waarmee jy altyd gereed is en dat jy altyd daar is vir ons.

  2. Mirna says:

    Dankie Marthie! Dis lekker woorde om 2019 mee af te skop!

  3. Delien says:

    Uitmuntende skryfwerk week na week! Trots op jou!

  4. Mirna says:

    Dankie Delien! Jy’t my mooi geleer!