Ek het altyd op skool gewonder wat ons hokkieafrigter, meneer Boonzaaier, bedoel wanneer hy halftyd gepor het, “Fokus, meisies!” Het hy bedoel ons moet beter vir die bal kyk? Dis tog nie asof ons aspris sou probeer verloor nie!
Om die waarheid te sê, is dit nog altyd vir my moeilik om hierdie begrip in woorde vas te vang … Fokus. Wat is fokus nou eintlik? En wat doen jy as jy fokus? Ek is nie heeltemal seker nie, maar ek is wel bewus van ‘n swetterjoel spul situasies in my lewe waar ek nie gefokus het nie …
Soos verlede Donderdagmiddag, toe ek my misgis met die horlosie en sommer vir 50-minute lank step. En Donderdagoggend, drie weke gelede … Ek het oudergewoonte presies 4.05 opgestaan, aangetrek, en klaargemaak om studio toe te ry vir my Bootybarre klas. Ek moes net my grimeer-ritueel afrond met my “Derma color fixing spray”.
Spuit.
Sekondes later besef ek iets is verkeerd. My oë traan. My wange brand soos twee kole vuur. Ek kyk weer na die blik in my hand. “Hot and Icy Muscle and Joint Spray”. “Ai, meisie. Fokus man!”.
Ons almal ken daardie oomblikke – jy soek oral na jou karsleutel … en iemand moet jou vriendelik daarop wys dat dit reeds in jou hand is. Jy stap kombuis toe … en staan twee minute later daar met ‘n leë koppie en geen idee hoekom jy soontoe gekom het nie. Jy ry winkel toe vir melk … en kom terug met ‘n sak vol kruideniersware, sonder melk.
Dis hierdie soort momente wat ons daaraan herinner dat fokus nie net ‘n groot filosofiese konsep is nie – dis ook ‘n baie praktiese daaglikse vaardigheid. Mario Andretti, een van die grootste motorrenjaers in die geskiedenis, het ‘n baie waar ding oor fokus gesê:
“Don’t look at the wall. Your car goes where your eyes go.”
Andretti het verduidelik dat dit alles te make het met fokus. Waar jy kyk, is waar jy ry. As jy op die muur fokus, gaan jy verseker in die muur vasry. Maar as jy jou oë op die pad hou, volg jou wiele vanself. Nou verstaan ek hoe Marlize dit reggekry het om in die rugbypaal vas te ry met haar fiets!
Andretti se uitlating is eintlik ‘n lieflike metafoor vir fokus in die lewe. Wanneer jy fokus op jou vrese of op dinge wat verkeerd kan gaan, gebeur dié dinge gereeld. Maar wanneer mens dit regkry om jou oë gerig te hou op jou doel en eindbestemming, kom jy makliker daar uit.
“Energy flows where attention goes”, het die bekende Amerikaanse skrywer John Demartini eenmaal gesê. Volgens hom is fokus een van die grootste kragte wat ‘n mens se lewe vorm. As jy presies weet waarheen jy oppad is, en hoekom dit vir jou belangrik is, dan word fokus baie makliker.
Dis waarskynlik ook waarna die legendariese Bruce Lee verwys het, toe hy gesê het: “The successful warrior is the average man with laser-like focus …”
Ek dink fokus is eintlik net ‘n ander woord vir aandag. Gewone, alledaagse aandag. En dalk lê die probleem juis daar: Ons aandag is deesdae besig om oral te wees … behalwe waar ons is. Ons koppe is oorlaai met dinge wat ons moet doen, boodskappe wat ons moet stuur, take wat ons moet afhandel, en probleme wat ons moet oplos. Ons leef in ‘n wêreld wat ons aandag versplinter!
Een studie beweer dat die gemiddelde persoon 2 617 keer per dag aan sy of haar selfoon raak. Aandag het ‘n beperkte bron geraak, en verskeie navorsers beweer dat mense net vir 8 sekondes lank regtig kan fokus, terwyl selfs ‘n goudvissie se aandagspan langer is, met 9 sekondes!
Die vraag is, hoe kry jy weer jou kop stiller sodat jy beter kan fokus? Mel Robbins sê ons moet die vyf sekonde reël volg. Dis nou nie die ene waar jou kos op die grond val en jy net vyf sekondes het om dit op te tel anders is dit vuil nie. Sy sê jy moet van vyf af terug tel tot een, en dan fokus.
Wanneer jy uit beheer voel, verloor jy die funksionering van jou pre-fontale korteks. Dis die deel van jou brein wat te doen het met jou aandagspan en doelgerigtheid. Die hele geheim van fokus is om in-die-oomblik te wees waar jy jou nou bevind, en jou aandag te skenk aan die één ding wat nou belangrik is. Soos Stephen R Covey skryf in sy boek, ‘The 7 Habits of Highly Effective People: “The main thing is to keep the main thing the main thing …”
Ek glo natuurlik daar’s niks wat mens kan leer fokus soos ‘n stepklas of Cardio Fun roetine nie!
Fokus is ook nie die afwesigheid van afleiding nie. Fokus beteken net, jy kies. Jy kies om op die positiewe te fokus. Jy kies watter gedagte aandag kry. Jy kies watter stem in jou kop die mikrofoon kry. En jy kies in watter rigting jy jou energie aanwend. Want, uiteindelik is die keuse van ‘n fokusgebied, die verskil tussen gelukkige en ongelukkige mense.
In sy boek, “The Light in the Heart” beskryf Roy R Bennett dit so mooi: “Focus on your strengths, not your weaknesses. Focus on your character, not your reputation. Focus on your blessings, not your misfortunes …”
Ek weet nie van jou nie, maar ek wil nie net werk nie – ek wil werk doen wat sin maak. Ek wil nie net besig wees nie – ek wil teenwoordig wees. Ek wil hard werk, maar ook ruimte skep vir geloof, vir stilte, vir nadenke, vir familie, en vir rus.
Fokus gaan nie daaroor om meer dinge te doen nie. Dit gaan daaroor om minder dinge tegelyk te probeer doen.
En soms leer ’n mens dit op die harde manier. Soos wanneer jou oë begin traan, jou wange brand … en jy besef, dalk is dit juis die les: Fokus begin nie by perfeksie nie.
Dit begin regtig by teenwoordig wees – genoeg om te sien wat in jou hand is voordat jy spuit. En genoeg om jou aandag terug te bring na dit wat regtig saak maak.
Mag jy in hierdie mooie herfstyd kies waarop jy fokus … Kyk verby die vuil plastieksakke en die stukkende strate, en fokus op die laaste kosmosse en die dowwe olyf en heuninggeel van die bloekombome, amper soos klein spieëltjies wat die lig vang. Mag jy elke dag fokus op wie jy wil word, nie wie jy gister was nie. En mag fokus hierdie week vir jou ‘n geskenk wees – vir jou werk, vir jou mense, en vir jou siel.
Mirna
082 779 0507