Ons het almal verlede week lekker gegiggel oor die vreemde insident by Capitec Bank in Stanger, toe twee vroue met ‘n lyk daar ingestap het. Dié familie wou blykbaar hul ouma se lewenspolis opeis, toe die bank aandring op ‘n bewys dat sy regtig dood is. Dit was konsternasie! Kliënte het by die bank uitgestorm, en die tak was vir ure na die voorval gesluit!
Die wêreld wemel van bewyse. Die Skepping bewys ‘n Skepper. Opgrawings bewys die geskiedenis. Kinders wat dankie sê bewys ‘n mooi opvoeding. ‘n Lekker drukkie bewys iemand gee om, en die sagte geritsel van ‘n boom bewys dat daar ‘n windjie waai, al kan ons dit nie eens sien nie. Ons weet die winter kruip nader wanneer ons sien hoe die swaeltjies hulle oë rol en hulle vere regskud op die bure se dak, en die eerste kosmosse windgat sê “hoessit” in die vlei langs die Sport-Inn.
Ons mensdom leef eintlik vir bewyse. Wanneer nuwe lede by ons aansluit, is een van die eerste vrae gewoonlik: “Wanneer gaan ek resultate begin sien?” Met oefen voel ons almal maar so – ons soek bewyse. Bewyse dat ons nie verniet opdaag nie. Bewyse dat die sweet iets beteken. Bewyse dat die vroeg opstaan die moeite werd is.
Verhoudings raak soms troebel oor bewyse. Die ou redeneer,”sy weet mos ek het haar lief.” Die meisie voel, “Bewys dit!”
Ons almal floreer op bewyse, en sosiale media sterk ons in ons kwaad. Dit por ons aan om gedurig digitale getuienis te lewer, so asof spesiale ervarings self nie genoeg is nie. “Likes” word bewyse. “Views” word bevestiging. Kommentaar word identiteit.
Ons bou ons bestaan om bewyse. Ons voel gesond … Maar ons wag eerder vir die bewys van die bloedtoets voor ons gemoedrus het. By die werk sloof ons ons af. Maar waar is ons bonus? Waar is ons bevordering? As daar nie ‘n tasbare beloning is nie, voel dit of dit nie tel nie.
Ons bid, en ons hoop. Maar ons raak moedeloos, want daar’s nie onmiddellik bewyse nie. Ons vertrou nie wagtyd nie. Ons vertrou nie prosesse nie. Ons wil sien. Ons soek bewyse om die onsekerheid stil te maak.
Die lewe is ‘n gedurige gespook om bewyse. Matrikulante kan onderskeidings in Meetkunde op hule mae skryf, as hul nie kan bewys dat driehoeke kongruent is nie. ‘n ATKV-beoordelaar lig haar wenkbrou as ‘n toespraak nie ‘n beredenerende tema het en met drie standpunte bewys word nie.
In howe kan die regstelsel nie werk sonder bewyse nie. Ure se getuienis. Forensiese verslae. Ballistiese toetse. Elke detail onder ‘n vergrootglas. Vermoedens en woorde alleen is nooit genoeg nie. En keer op keer word bewyse die ongenaakbare muur tussen “skotvry” en “skuldig”, tussen ‘n oop deur, en die toeslaan van ‘n seldeur.
Bewyse, bewyse! Ons wil bewys dat ons reg is, dat ons opinies saak maak, dat ons nie dom is nie, dat ons waarde het. En kort-kort voel dit of ons onsself moet bewys …
Ons probeer bewys ons is goeie ma’s, ons is lojale vennote, ons werk hard genoeg, ons eet gesond genoeg, ons lyk nog goed genoeg vir ons ouderdom. Ons soek naarstigtelik na bewyse – ‘n beter nommer op die skaal, ‘n mooier kompliment, ‘n trotsser klop op die skouer.
Want die skaal bepaal of ek goed genoeg is. Sy boodskappe bepaal of hy lief genoeg is. My salaris bepaal of ek suksesvol genoeg is. Ons sosiale media bepaal of ons relevant genoeg is.
En dalk is dit ons probleem. Ons glo net wat ons sien. Ons glo net wat gemeet kan word. Ons glo net wat op ‘n skaal, ‘n bankstaat of in die spieël gebeur.
… Vrydag moes elke Challenge-deelnemer vir my ietsie stuur waarin hulle voel hul het verbeter. Dit kon enigiets wees. Dit kon iets kleins wees. Ek het die hele dag met ‘n knop in my keel rondgeloop van trots. Ek het ervaar hoe meeste van ons lede nie sommer net iets stuur om die punt in te palm nie – hulle was eerlik en het hul harte met my gedeel. Ek het opnuut besef hoe bevoorreg ek is om hierdie vroue te ken.
Die woorde van die Suid-Afrikaanse liedjieskrywer, Ash Alves, het onwillekeurig by my opgekom: “You don’t need to prove yourself. You’ve just got to stand in your light and let it speak for itself …”
Dis ‘n allemintige mondvol! Maar ek dink ons het almal nodig om onsself hieraan te herinner – miskien moet ons leer om minder bewyse te soek, en so bietjie meer vertroue te hê in die proses. Nes ons Challenge lede … Hulle het dit reggekry om almal verlede week die positiewe te vind in klein dingetjies: Konsekwent op te daag, bietjie vroeër te gaan slaap, nee dankie te sê vir ‘n Gosia-kolwyntjie, bietjie meer van hulself te hou …
En as jy niks gestuur het Vrydag nie, oor jy gevoel het daar is niks om te sê nie, dan het jy dalk net vergeet – Jy het ook opgedaag toe jy moeg was. Jy het geoefen toe niemand gekyk het nie. Jy het weer begin toe jy wou opgee.
Die lesing op jou badkamerskaal is na hierdie drie weke dalk nog dieselfde, maar ek wed jou, jy slaap al beter, jou energievlakke is al hoër, en jy hyg nie meer terwyl jy van jou motor af werk toe stap nie.
Vandag wil ek jou kom herinner … Jy is nie ’n saak wat bewys moet word nie. Jy is nie ’n projek wat reggemaak moet word nie. Jy is nie ’n fout wat herstel moet word nie.
Jy is ’n mens wat groei.
En groei maak nie altyd geraas nie.
Groei wys nie altyd dadelik nie.
Groei vra net een ding:Opdaag.
En as jy môre opdaag – by die gym, vir jou man, vir jou kinders, in jou huis, en in jou lewe – dan het jy klaar genoeg bewys.
Mirna
082 779 0507
2 comments to “Bewyse, bewyse …”
“I will praise You, for I am fearfully and wonderfully made; Marvelous are Your works, And that my soul knows very well” (Psalm 139:14, NKJV)
Amen!