Live a good story…

Ek het al skoon vergeet dié aanhaling is op my WhatsApp profiel. Ek sien op Susan s’n pryk die Afrikaanse weergawe – “Leef ‘n mooi storie…” Iemand wil in die week weet – waar kom ek hieraan? Toe dink ek dis mos nou die lekkerste onderwerp vir my Blog, en die perfekte tema vir ons weeklikse motiveringsvideo. Ek kan dit self byna nie glo dat ons al klaar by week vyf trek nie!

Ek is ‘n storie mens – stories is regtig my taal, my troos, en my inspirasie. Ek kan myself verloor in ‘n goeie storie. Ek is net partykeer bietjie agter die tyd. Lank nadat almal al “Nêrens, Noord-Kaap” gekyk het, het ek die meesterstuk een Sondagaand ontdek. Gelukkig was dit voor die New Year Challenge begin het, want ek het albei Seisoene in ‘n paar dae deurgedraf. My oë natuurlik uitgehuil in elke episode, en teen die Vrydag het dit gevoel of ek self al praat met daardie plat, Kaapse aksent!

“Nêrens, Noord-Kaap” is ‘n swaar, stadige storie. Dit beaam die skepper van die reeks, Nico Scheepers, in ‘n onderhoud op Netwerk 24. Hy sê dis sosiale media se skuld – ons word gebreinspoel om alles vinnig te wil verteer. Ons mense is bang om stil te sit; bang om vir onsself te kyk, want ‘n deel van oorlewing is om te maak of alles oukei is. Alles is regtig NIE oukei nie, maar dis nie ‘n lelike ding nie. Die mooi van die lewe, en van hartseer stories, is juis dat alles nie oukei is nie, maar kyk hoe veg ons…

So ja, nie alle goeie stories is gelukkige stories nie – baie is hartverskeurend, rou, en ongemaklik, maar dis juis hierdie stories wat die diepste indrukke laat, ons aanraak, en ons die meeste leer. Ek dink die grootste bekoring van stories, vir my, is dat dit my herinner dat ek deel is van iets groter. En dat iemand anders ook soms ervaar wat ek ervaar.

…Ek het “Live a good story” raakgelees in Donald Miller se bekende boek, “What I learned while editing my life.” Daarin skryf hy ook: “You are the author of your own story. Make it a good one. Live with purpose, embrace challenges, and create a life that inspires.”

Sy filosofie is dat elke mens die hoofkarakter van hul eie storie is, en dat ons deur ons keuses en optrede, ‘n betekenisvolle en inspirerende lewe kan skep. Hy beklemtoon dat ‘n “goeie storie” nie net oor gemak of sukses gaan nie, maar oor uitdagings, groei, risiko’s neem, en ander mense beïnvloed. ‘n Goeie storie bevat drome, struikelblokke, deursettingsvermoë, en betekenisvolle verhoudings. Dit moedig mense aan om doelgerig te leef, en die boodskap is eenvoudig maar kragtig: Leef só dat jou lewe die moeite werd is om oor te vertel!

In ons Challenge-video van hierdie week gebruik ek ‘n bekende aanhaling van die motiveringspreker, Joe Rogan: “Be the hero in your own story…” En ek wonder, dink ons lede dis ‘n idealistiese en soetsappige redenasie, of kan hulle met iets daarvan identifiseer?

Ek hoop hul kan dit raaksien vir wat dit is – om bloot op te daag, al is jy moeg. ‘n Held wag nie vir perfekte omstandighede nie; sy staan op en doen wat nodig is. Selfs al het jy ‘n slegte dag, selfs al het jy ‘n hele Pick ‘n Pay melktert alleen opgeëet, selfs al het jy verslaap vir jou Bootybarre klas, selfs al het jy twee kilogram gedurende die Challenge opgetel in plaas daarvan om dit af te skud – jy maak klaar. Want jy’t ingeskryf. Jy trek jou tekkies aan. Jy ry weer studio toe. Jy begin van voor af.  Dan is jy ‘n waardige hoofkarakter in jou storie, al sê wie ook wat, en al voel jy ook hóé! Helde is gewone mense. Hulle leer, kry seer, trotseer, en probeer weer. Duisend keer.

…In haar inspirerende roman oor drome en selfverwesenliking, “Everyone has a story”, skryf die Indiese skrywer, Shavi Sharma: “Everyone has a story. It might not be a love story. It could be a story of dreams, friendship, hope, survival, or even death. And every story is worth telling. But more than that, it’s worth living.” 

Jou storie IS belangrik. Want jy’s hier. Elke klein, persoonlike oorwinning, waarin jy beloftetjies aan jouself nakom, maak van jou ‘n inspirerende, ware sukesstorie. Elke keer wanneer jy bereid is om te groei, jouself uit te daag, oor te begin, en op te daag, wys jy vir ander vroue dat hulle dit ook kan doen. Nie alle heldinne haal die nuus, pryk op Sarie-voorblaaie, of pronk op Kyknet-rusbanke nie. Meeste van hulle is net hier, reg onder ons neuse. Jy word die heldin van jou eie lewensstorie, wanneer jy besluit, veg, opstaan, en leef – by die werk, in jou huis, in die gim, tussen jou mense, langs ‘n vreemdeling, binne jou gemeenskap, en ja, selfs wanneer jy stoksielalleen en verveeld voor die yskas staan…

Elke keer wanneer jy ‘n moeilike dag oorwin, skryf jy ‘n inspirerende hoofstuk. Dan skryf jyself jou storie, met jou eie pen. Jy wag nie vir ander om dit namens jou te doen nie. Jy besluit hoe jou lyf, jou loopbaan, en jou lewe lyk. En as ‘n hoofstuk sleg was? Dan skryf jy ‘n beter een môre. Want, dis elke dag van voor af ‘n keuse.

Dit gaan nie daaroor om perfek te wees nie – dit gaan daaroor om aan te hou veg. Vir jou gesondheid, jou geluk en jou beste lewe. Nie al die oefenstories in ons studio het gelukkige eindes nie. Ek sien soms hoe mense sommer opgee, nog voor hulle behoorlik begin het. Maar ek sien meestal heldinne voor my, om my, elke dag. Vroue wat my herinner dat dit moontlik is om moeilike tye te oorkom, beter te word, te groei.  Ek sien regte stories wat blydskap, trane, opwinding, empatie, en nostalgie bring.  Die enigste jammerte is, dat my merkwaardige oefenmaats driekwart van die tyd nie besef hoeveel hoop hul uitstraal, en watse verskil hulle maak nie.

Ek sien stories oral – in my lede se oë, in ‘n hardop lag, in iemand wat stil-stil voor stepklas op ‘n kassie sit en droom met ‘n glimlag. Of ‘n traan afvee terwyl sy haar Rebounder bêre. Een van die dae sien ons weer lekker stories van persoonlike oorwinnings by ons Challenge prysuitdeling…En heeltyd weet ons, alles IS nie altyd oukei nie, maar kyk hoe veg ons.

Ek leef vir stories, omdat hulle my elke dag herinner dat ek self ook besig is om een te skryf.  So, “Live a good story” is my leuse, want stories IS die lewe, en ek wil baie graag ook ‘n goeie een wees.

Mirna
082 779 0507

4 comments to “Live a good story…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Baie mooi. Dis inspirerend en laat mens dink hoe jou eie storie is

    • Mirna says:

      Dankie liewe Colette!

  2. Leonie Burmeister says:

    Absoluut in die kol Mirna
    Dis ‘n uitdaging wanneer ‘n mens as nuweling jou plekkie vir jouself langs al die ander begin skep
    En dan vergeet jy in die sweet van inspanning dat jy ooit op ‘n ander plek was met jouself
    Mens begin jou spiere weer vertrou…die wat jy afgeskeep het jare van fokus op beroeps vestiging en volhoubaarheid
    Dis asof daar nuwe suurstof in jou bloed gedra word
    En om dit saam met ander te doen is sosiale terapie

    • Mirna says:

      Hierdie is so mooi Leonie. Trots op die paadji wat jy reeds saam ons gestap het!