Hallo Nina…

Ek moet bieg … Net soveel as wat die ervare spul oumas in ons studio my die afgelope paar maande met blink oë probeer inlyf het oor ouma-wees, net so min het dit regtig by my ingeskop. Ja, natuurlik was ek baie opgewonde oor die vooruitsig van klein Nina se koms, maar vir my was dit steeds bietjie van ‘n abstrakte begrip …

Volgens ‘n Walliese spreekwoord arriveer volmaakte liefde nie voor mens se eerste kleinkind nie, en Laurika Rauch sing dat daar ‘n nuwe kamer in jou hart oopmaak met die geboorte van ‘n kleinkind.

Ons het vir Nina nie eintlik verwag voor die eerste week in Oktober nie, maar sy het anders besluit, en voor ons ons oë kon uitvee, het Nina Rossouw, ons wonderwerkie, die wêreld betree. Erfenisdag, 24 September 2024, 16h16, ‘n volle 3,481 kg swaar, en 56 cm lank. ‘n Baba op Braaidag! Vir my is dit so ironies dat die tema van ons motiveringsvideo in week twee van ons Challenge, juis dit was – “Life is a miracle…”

Ek kan nie regtig in woorde beskryf wat gebeur wanneer ‘n mens daardie klein bondeltjie vir die heel eerste keer vashou nie.  Dit maak nie saak hoeveel ek na hierdie spesiale dag uitgesien het nie, oumaskap is duisend keer wonderliker as wat ek my ooit kon voorstel.  Ek is uitgeboul, sommer net so. Nina Smit is reg: “’n Ouma word op dieselfde dag as haar eerste kleinkind gebore, al lyk die datums verskillend.”

Moet my nou nie verkeerd verstaan nie – dis nie dat die aarde ophou draai nie.  Mense gaan nog steeds Woolworths toe vir Schnitzels en draf by Clicks in vir toiletpapier, taxi’s jaag nog steeds oor stopstrate, en ons hou steeds asem op wanneer die Bokke speel.  Dis ook nie dat ‘n pasgebore kleinkind eensklaps beeldskoon is nie.  Volmaak geskape? Verseker!  Maar die mooigeit vat so ‘n rukkie om in te skop.

Schalk sê daar behoort ‘n wet te wees dat mens nie foto’s mag plaas of stuur voor 24 uur verloop het nie.  Adelé herinner my laggend, “Jô ek het geskrik toe ek Eswee gesien het na hy gebore is…voor dit het ek net tv-stories se pasgeborenes gesien.  Hulle jok lekker vir ‘n mens😊”

En tog het ons Nina, daardie langbeen, fluweelsagte blondekopbondeltjie met die perfekte roosknopmondjie, ons almal se harte verower.  Onmiddellik. En sy is beeldskoon!

Ek het bietjie gaan Google oor hierdie onbeskryflike ouma-gevoelens, en ek dink die bekende Amerikaanse joernalis, Lesley Stahl, beskryf dit die heel mooiste in haar boek “Becoming Grandma”:

“Then, wham! My first grandchild was born… I was jolted, blindsided by a wallop of loving more intense than anything I could remember or had ever imagined. Just when you think your days of falling madly in love are long past, you look down at that baby and find yourself in a rapture, going limp. Having grandchildren is why they say old people are happier than young people. And why, as my father-in-law used to say, this is a pretty ol’ world.”

“I was trying to understand my grandmother feelings. Why, when I looked at and held the baby, I felt I was floating, that I was on a high…. I keep wanting to burst into song! So, apparently, I wasn’t crazy, and I wasn’t alone. When a grandmother holds the baby, her brain, like a new mother’s, can also be drenched in the bonding hormone oxytocin. Aha! There it was. We grandmas literally, actually, fall in love.”

Die lug lyk skielik blouer, die dae helderder, en ek het oornag ‘n splinternuwe emoji begin gebruik… 🥺
 Daar is een “ouma” feit waarmee ek vroeg-vroeg moet vrede maak – ek gaan die ver ouma wees, met duisende afstand-drukkies-en-soene.  Maar ek gaan nie ‘n afwesige ouma wees nie.  Afstand is lankal nie meer vir oumas en oupas ‘n verskoning nie. Ek is net ‘n oproep en ‘n vliegtuigkaartjie ver. Ek kan steeds ‘n storieverteller én wiegieliedsinger wees. Ek kan hande klap, koer, en aanmoedig, elke liewe foto deel op my WhatsApp-status, en sodra Nina groot genoeg is, my kleindogter altyd herinner dat sy kan.  

Wanneer Nina kom kuier, sal Petstraat ‘n wêreldjie wees van vrymoedigheid, om-die-pinkie-draai, baie lag, en onvoorwaardelike liefde.  My ma het altyd gesê sy gaan eendag met haar kleinkinders rondry in ‘n rooi sportmotor met ‘n afslaankap en hulle tot in die afgrond bederf.  Sy het nooit daardie voorreg geniet nie.  Ek het haar in die stilligheid belowe, dat as dit my ooit beskore is, ek sal opmaak en dit namens haar ook doen. 

Die Amerikaanse skrywer, Tom Brokaw, sê nie verniet: “For parents, bribery is a white-collar crime; for grandparents, it’s a business plan…” Ek weet net nie so mooi van die rooi sportmotor nie, maar die Kaap gaan ons verseker baie meer gereeld sien!

Dit sal altyd ‘n ouma se voorreg bly om “lekker” te wees. ‘n Ouma hoef nie polisieman te speel nie, lekkergoeddae hoef nooit net Vrydae te wees nie, en oumas hoef nooit te vra, “Hoekom so laat?”, “Hoekom lyk jy so?”, of “Wat het jou besiel nie …?” Ek glo ‘n ouma hoef nie spensrakke vol lekkernye te bak, of kostuums te maak vir ‘n speelskool-konsert nie.  Sy moet net lief wees. En daar wees. En bid.  En as sy haar kleinkinders leer, en wys, dat mens moet voluit leef, dan is dit genoeg.

…Ek dink aan die duisende oorweldigende toneeltjies wat afgespeel het daar in die Vincent Pallotti-Hospitaal die afgelope paar dae.  Nie almal was stories met gelukkige eindes of beginne nie.  Donderdagoggend sien ek en Schalk ‘n hartseer mamma, op die agterste sitplek van ‘n Über-motor – sy en haar pasgebore baba gaan alleen huis toe.  Ons sien jong ouers met trane van kommer in hul oë – hul baba is gebore met ‘n gebrek…

Ek hou Zander, Mariné en Nina dop met ‘n hart wat oorloop – hulle is ‘n rustige prentjie, klaar ‘n hegte driemanskap, en vandat hul tuis is laat Leo nie vir Neis of Nina ‘n oomblik alleen nie. Wanneer Nina begin huil val Leo in. Zander sê dit voel of daar ‘n tweeling in die huis is. Ek ervaar hoe klein Nina se koms die hele familie een reusetree nader aan mekaar gebring het. Hoe lekker om te ervaar dat Eswee en Nicole nét so opgewonde is oor alles, want hulle weet, solank sy hier is, is hierdie ouma in “for keeps”, ewe veel, ewe volheid. 

Wat sou ek vandag vir Nina wou sê as sy reeds mooi kon verstaan …?

… Nina, if I could give you four things, it would be the confidence to always know your self-worth. The strength to chase all your dreams. The understanding of how truly and deeply loved you are. And the gift to always see yourself through my eyes, so you always see how truly special you are.

Nina, jou naam beteken “suiwer, die altyd reine.” Nina, jy is soos sagte reën. Jy het die Hemel vir ons aarde toe gebring.

Dankie Nina. Dankie Heer.

Mirna

082 779 0507

14 comments to “Hallo Nina…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Danie Rossouw says:

    Phew. SO mooi geskryf Mirna. Hier is ‘n Oupa wat van die berge wil af skree. HOOR HOOR en AMEN !!!!! Baie baie dankie vir die deel. Xx

    • Mirna says:

      Dankie Danie! Nina gaan hierdie oupa “love”!

      • Theresa says:

        Baie, baie geluk met jou eerste klein bondeltjie van “Ouma-vreugde”! Jy mag haar maar met liefde bederf, want dis waarvoor grootouers daar is!

        • Mirna says:

          Dankie liefste Theresa, en nou is jy Oumagrootjie!

  2. Karen Cilliers says:

    Liewe Mirna,

    Baie geluk met jou 1ste bondeltjie-vreugde-kleindogtertjie.🩷

    Ja, dis so waar, om Ouma te wees is die grootste geskenk uit Vader se Hand. Dis onbeskryflik en net wanneer jy self ‘n Ouma word verstaan jy dit volkome.

    Ek weet Nina gaan vir julle hope vreugde bring.

    • Mirna says:

      Baie dankie Karen!

  3. Susan says:

    Veels geluk met julle bondeltjie pienk vreugde, kosbaar, voorreg, geniet elke oomblik!!!

    • Mirna says:

      Dankie Susan! En een van die dae is jy ook ‘n ouma!

  4. Mariaan says:

    So pragtig geskryf Mirna!

    Oorvloedige seën vir Nina en jul elkeen wat haar omring met soveel liefde en sorg!

    • Mirna says:

      Baie dankie liewe Mariaan!

  5. Degratia says:

    Hellow baby Nina. You are dearly 😍

    • Mirna says:

      Thank you Degratia!

  6. Shereen says:

    Congrats Ouma you have earned this beautiful privilege en geleentheid!

    • Mirna says:

      Baie dankie Shereen. Een van die dae is dit jou beurt!