HOEKOM

“Hoekom” is ‘n vraag waarmee ons gemeenskap die afgelope week opnuut konfronteer is.  Die tragiese nuus van Ettienne se grusame ongeluk en afsterwe, het elkeen van ons aan die hart gegryp.  Ons is almal stom-verslae, en die beeldskone, jong Michelle se hart is verpletter.  Dié 28-jarige paartjie sou oor twee maande trou – die pragtige rok was gekoop, die wittebrood was bespreek – alles was in plek vir die twee mooi jongmense se droomdag…

Ons is almal tot stilstand geruk, trooswoorde ontbreek heeltemal, en ons wonder opnuut oor die eeu-oue vraag:  Waarom gebeur slegte dinge met goeie mense?  Hoekom nou?  Hy was so jonk.  Hoekom, Here?  Dis asof elkeen van ons van voor af stoei met al die moeilike lewensvrae. 

Ek kan my nie indink waardeur hierdie families moet gaan nie.  Ek dink veral aan Johanita, Michelle se mams, wat nes elke ander mamma, haar hele lewe nog altyd daaraan toegewy het om haar 4 kinders te beskerm teen seer.  En nou dit…

Dis gewigtige “hoekom”-vrae hierdie wat ons bombardeer.  Wanneer ons kinders klein is, wil hul weet: “Hoekom is water nat?  Hoekom is die lug blou?  Hoekom simboliseer kruisies soene?  Hoekom slaap ‘n vlermuis onderstebo?”  Van ons kinders kleuters is, peper hulle ons met nimmereindigende hoekoms en waaroms.  Baie van die vrae kan ons antwoord, ander laat ons self kopkrap, soos “hoekom hardloop grootmense nie ook rond wanneer hulle te veel suiker eet nie?  En hoekom dra rollerige tannies en oompies stywe hempies?”  Nugter weet.

Sielkundiges meen dis fantasties as ons kinders hoekom-vrae vra.  Die mens is immers as ‘n soekende wese geskape.  “Hoekom” is ook die rede vir ons totale wetenskaplike verstaan en vordering.  Soos Amit Ray skryf in sy boek “Mindfulness meditation”:

“Asking “Why” can lead to understanding.  Asking “Why not?” can lead to breakthroughs. Millions saw the apple fall, but only Newton asked why.” 

Die lewe gebeur terwyl ons ander planne maak, en ek wens ek het geweet hoekom dit so gebeur.  Maar elke ma weet ook, dat al probeer ons WAT om ons kinders te beskerm teen seerkry, dis onvermydelik.  En soos ons kinders ouer word, word hul hoekom-vrae ook moeiliker: “Hoekom het Tigger weggeloop?  Hoekom wil die maatjies nie pouse met my speel nie? Hoekom reën dit nie op die plaas nie?  Hoekom het Oupa doodgegaan? Hoekom sê Mamma ‘toemaar’ as ons bloei?”

Dikwels moet ons ons eie onkunde dan teenoor ons kinders bely.  “Ek weet nie…Ek verstaan dit ook nie, my liefste kind…”

Daar is baie vrae waarop ons nie altyd antwoorde het nie, dalk omdat ons eie alledaagse hoekom-vrae ook nie minder word nie: “Hoekom wil al my lede dan nie aan die Winter Challenge deelneem nie, dis dan soo lekker? Hoekom stamp mens jou maermerrie en kleintoontjie op een dag?  Hoekom trap die boelie die Lego-blokkie mis?  Hoekom is die eerste bord kos lekkerder as die tweede een?  Hoekom is die tweede glas wyn lekkerder as die eerste een?”

En dan, ons eie wroeg-vrae van hoekom: “Hoekom loop Oui se moordenaar vry rond?  Hoekom kry kinders kanker?  Hoekom moes Ettienne en Michelle se droom so skielik eindig?”  En saam met Elizma Theron wonder ons dan: “Hoe kom ek hieroor?  Hoe kom ek hier verby?” 

Soos wat ons die lewe leef en beleef, kom ons agter dat elke ‘hoekom’ nie noodwendig ‘n aanvaarbare antwoord het nie.  Tussen miljoene sinne wat ons in ‘n leeftyd kwytraak, sukkel ons meer met die wat op ‘n vraagteken eindig.  Veral as hulle nie antwoorde het nie.

Ons het elkeen ons eie hoekom-vrae, want ons elkeen se pakkie lyk anders.  As jy een vraag vir God sou vra, wat sou dit wees…?  Dit sal sekerlik verskil van persoon tot persoon, maar die skrywer, George Barna, het blykbaar een keer so ‘n navorsing geloods.  Toe sê die Amerikaners, hulle sou vir God vra hoekom daar soveel lyding in die wêreld is.  Hoekom gaan dit goed met slegte mense, en sleg met goeie mense?

In sy boek “The Question that never goes away”, skryf Philip Yancey: “Die vraag waarna hier verwys word is – waarmee is God besig – of nie besig nie – in ‘n wêreld vol tragedies en pyn?  Hy sê dis interessant dat God nooit hierdie hoekom vraag antwoord nie.  Yancey skryf: “God doesn’t reveal his grand design.  God reveals Himself…”

As God dan nie vir ons sê hoekom tragedies gebeur nie, hoe moet ons dit hanteer?  Is daar hoop?  As jy my 28 jaar gelede hierdie vraag gevra het, het ek waarskynlik gesê “nee”.  As 30-jarige vrou het ek vir maande opstandig geworstel met die ongenaakbare realiteit dat ek vir Eswee en Mariné sou moes grootmaak, sonder dat my eie mams dit ooit sou kon beleef.

…Die oomblik wanneer iemand na aan jou sterf, betree jy ‘n stuk van jou lewensreis met baie donker kolle. Die rouproses het ‘n definitiewe begin, maar ongelukkig nie ‘n einde nie. Daar is nie ‘n stel reëls wat jy moet volg en dan skielik is jy oor dit nie. Tyd genees nie wonde nie. En mettertyd besef jy dat jy ‘n doelbewuste keuse moet maak om aan te gaan…

Ek het nie destyds geweet waar om antwoorde te soek nie, maar, soos duisende ander, het ek geweet by Wie.  En daarom, dink ek, nes ons kinders, mag ons ook ons Vader vra. En dan MOET ons blindelings vertrou: “Hy SAL alles ten goede meewerk…”  Wanneer ek nou terugkyk, besef ek net hoe het Schalk so ten volle ingetree in my ma se afwesigheid in daardie eerste weke na ons blondies se geboortes – dit was hy wat vir Eswee en Neis gebad het, hy was daar wanneer hulle koors gehad het, tande gesny het, en later, toe hul bang was vir die donker…

En ek besef ek het hierdie week ook weer die verkeerde vraag gevra – ek het gewonder hoe Johanita en Michelle “hieroor” gaan kom.  Om OOR IETS te wees moet ons eers daardeur gaan.  En mag ons vra “Hoekom, Here?  Ek glo dit, 100 maal ja.  Want in hierdie wroeging kry ons nie noodwendig by Hom ‘n bevredigende antwoord nie, maar ons leer Hom ken, en besef dat Hy ook in die middel van hierdie storm staan, met oop Arms, en Hy wag…Soos Charles Spurgeon honderde jare gelede al opgemerk het:

“God never promised us smooth sailing, but He did promise us a safe landing.”

Hy hou ons hand vas, met ons hoekom-vrae en al.  En Hy herinner ons, niks is vanselfsprekend nie, en alles is geleen. Ek het hierdie lied van Austin French raakgeluister, en hierdie week bring dit dalk  bietjie troos vir ‘n seer en stukkende hart:

“Why God, do people have to die?
A daughter or a son, sudden and so young
Long before their time?

I don’t understand, but I understand

Why God? I need You
It’s why God, I run to Your arms
Over and over again
It’s why God, I cling to Your love
And hold on for dear life
And I find You are right by my side

Give me a faith stronger than I have
I need to know when it hurts this bad
That You hold my heart when it breaks
And I’m not alone in this place

Always right by my side
Even here in the why, God…”

Mirna
0827790507

4 comments to “HOEKOM”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Susan says:

    Pragtig, waar….dankie.

    • Mirna says:

      Dankie dat jy lees, Susan!

  2. Ek lees nie altyd tot die einde nie, maar jou woorde het my tot die einde toe aangegryp.
    Dankie.

    • Mirna says:

      Dankie Colette…