Ek was nog altyd ‘n groot aanhanger van Barbara Streisand. In my standerd 9 jaar het dié legendariese sangeres, aktrise, en regisseur ons harte verower met haar onvergeetlike rolprent “Yentl.” Haar loopbaan het oor ‘n volle 7 dekades gestrek, en verlede jaar, op 80-jarige ouderdom is haar outobiografie, “My name is Barbra” uitgereik. Sy skryf: “You’ve got to discover you, what you do, and trust it…”
Vrydagoggend, na ‘n klipharde week van oefen in die studio, plons ek op die bank neer en kyk na die hoogtepunte van SAG-toekennings…Ek sien hoe die 81-jarige Streisand minute lank staande toegejuig word, terwyl sy op aangrypende wyse vereer word met ‘n lewensprestasie-toekenning. En ek kry hoendervleis… Kiertsregop en trots stap sy op daardie verhoog, en sy lyk skaars ‘n dag ouer as 50…
Verlede jaar sê die 78-jarige countryster, Dolly Parton, in ‘n onderhoud: “Ek sal eerder dood neerslaan voor ek aftree…” ‘n Paar maande later sing sy saam met Pitbull die poptreffer “Powerful women”. Die lys van bittereinders in Hollywood is eindeloos – Clint Eastwood, Judy Dench, Sophia Loren – net ‘n paar van die baie bekende persoonlikhede wat verseg om af te tree.
Iemand het êrens geskryf dat aftrede is om soos van ‘n trein af te klim wat jou tot by ‘n seker punt gebring het. Maar as jy jou bestemming bereik, het jy eintlik nog ‘n keuse. Bly op die trein, of klim af…
Hier in ons eie Ermelo is die weier-om-af-te-klim-ding ook ‘n algemene verskynsel. Ek dink aan ‘n swetterjoel lede in ons studio – “afgetrede” onderwyseresse, wat eintlik nie naastenby afgetree is nie – Lizelle, Cecile, Elna – hulle is kort-kort terug by die skool. En Gerda, sy’s sommer nog heeltyd daar.
Moet nou net nie idees begin kry nie – ek word nou wel hierdie jaar ‘n ouma, maar ek is nog ver van aftree. Ek skryf net oor aftrede hierdie week, want my sus Delien het verlede Donderdag, op 60-jarige ouderdom, amptelik die tuig neergelê. En sy kon nie wag nie! Ons het omtrent saam met haar die slapies afgetel. Toe ek haar Saterdagmiddag vra hoe dit voel, het sy geskerts: “Dit voel nog soos vakansie!” Ek gun haar dit, met my hele hart, en ek weet sy gaan nie stilsit nie! Ek dink ook nie sy gaan koekies bak en kousies brei nie. Sy’t duisende planne!
Delien was ‘n volle 38 jaar in die Staatsdiens, eers as joernalis en toe redakteur. Haar loopbaan het in 1986 begin, en sy het elke moontlike greintjie transformasie ervaar – vir haar was dit ‘n wonderlike ondervinding. Sy het gedien onder De Klerk, toe Mandela, tot Ramaphosa, en sy vertel dat sy haar mede Suid-Afrikaners leer ken het, en respekteer…
Oor haar werk sê sy: “Ek was geseën met gesondheid en krag om my alie af te werk met tye, en dit is altyd raakgesien, erken en waardeer. Dit was n goeie tyd. I paid my dues…Maar nou is dit MY tyd. Vryheid. Geen spertye (alhoewel ek vryskutwerk gaan doen), geen vergaderings, geen base, behalwe my katkinders, meer gholf en vars lug, meer tyd om dinge op my tyd te doen, tyd om terug te gee deur vrywilligerswerk. Tyd vir my stokperdjies en mense en elke ding wat my gelukkig maak. Nou lewe ek nie meer vir naweke nie, want elke dag is een! En ek bid dat ek geseën sal bly met lewenslus en gesondheid om die meeste van my tyd te maak.”
Sjoe, dis ‘n mooie, lekker mondvol. En Delien bevestig wat ek raaklees in Bob Buford se boek, “Halftime”: The second half can and should be more creative, more impactful, more meaningful, more adventurous and filled with more learning and contribution than the first half.”
Aftree of nie aftree, ek dink die geheim lê presies hierin – om te glo dat jy ‘n groter impak kan maak in die volgende 30 jaar as in die vorige 30 jaar. En dis nogal ‘n interessante vraag om te vra – sien jy jou beste jare voor jou, of agter jou?
Ek dink Delien het hierdie vraag wat sy so mooi hier bo beantwoord het, seker ‘n spul keer gehoor die afgelope paar maande: “Wat gaan jy doen as jy aftree?” En ek wonder hoekom soek mense so naarstigtelik na ‘n antwoord op die vraag. Dis mos nie dat mens wag vir aftree voor jy begin lewe nie? Miskien is ons probleem dat ons groot gemaak is met die idee dat ons moet lewe om te werk en nie werk om te lewe nie. Die Amerikaanse skryfster Natalie Babbitt het hierdie lewenstragedie baie raak saamgevat toe sy gesê het dat ‘n mens nie die dood moet vrees nie, maar ‘n lewe wat nie geleef is nie!
Het jy geweet dat mense eers êrens in die 20ste eeu lank genoeg bly leef het om te kon aftree?! In die Steentydperk was die gemiddelde lewensverwagting 18 jaar, in die Middeleeue 25 jaar, en teen 1900 was dit 44 jaar. Goeiste!
Ek hou net nie so baie van die woord “aftree’ nie – dis hard op die oor, soos skoonma, en moerkoffie. Die Engelse term “retire” doen dit ook nie so lekker vir my nie – dit herinner my te veel aan tennisspelers wat tydens groot toernooie moet onttrek as gevolg van beserings. As jy dan moet aftree, doen dit eerder in Frans – “se retire”.
Ek kan heeltemal verstaan dat mens by ‘n punt kom wat jy wil “se retire” as jy van 8-tot-5 in ‘n kantoor werk. Maar “aftree” beteken definitief ook verskillende dinge vir verskillende mense. Vir baie mense is dit ‘n lekker gedagte om te weet jy kan pouse hou, sonder dat jy moet wag vir ‘n klok om te lui! Vir party mense is dit dalk aftree van ou gewoontes, aftree van oudergewoonte 6.00 wakker word, aftree van saans na werk gim toe gaan, aftree van die roetine om dinge oor en oor dieselfde te doen. Om af te tree kan wees om party oggende seker eers 9 uur op te staan, dalk vir ‘n verandering êrens in ‘n mooi land wakker te word, of soos Jakkie en Ronel elke kort-kort die boendoes in te vaar…
Dian Nyad was 64 jaar oud toe sy die eerste persoon geword het om van Kuba na Florida te swem. Kolonel Harland Sanders was in sy laat sestigs toe hy Kentucky Fried Chicken begin het, Louise Bourgeois, die beroemde kunstenaar, het tot laat in haar negentigs bekende beeldhouwerke geskep, en ek het vergeet om te sê – Barbara Streisand het eers verlede jaar, op 80, amptelik afgetree.
Kenneth Cooper, of beter bekend as “The father of aerobics” het eendag gesê: “Ek wil Vrydag nog werk en Maandag ‘n vinnige dood sterf.” Vandag, op 93-jarige ouderdom, besoek Cooper steeds 5 dae van die week die gim,en hy is steeds direkteur van “The Cooper foundation” in Dallas. Dis alles te danke aan hóm dat ons vroue vandag so lekker kan oefen. Besef jy, in 1972 was dit nog onbetaamlik vir ‘n dame om uitermate te sweet?! Mal, né!
Daar word vertel dat Zig Zaglar, die bekende motiveringspreker, altyd reg was met ‘n antwoord wanneer vriende hom oor aftrede gepols het. Hy het dan gesê: “There’s no mention of retirement in the Bible. Except for Jesus, Mary and Joseph, David, and a few others, nobody under 80 made an impact. I’m not retiring, I’m refiring! I’m not gonna ease up, let up, shut up or give up until I’m taken up. As a matter of fact, I’m just getting warmed up!” Zig het inderdaad tot sy dood, op 86, aanhou werk.
Daarom gaan ek ook nie afklim nie. Nooit. Want dit wat ek doen kan mens in elk geval nie regtig “werk” noem nie. Ek dink wat waarskynlik sal gebeur, is dit: As ek op 81-jarige ouderdom nog leef, gaan ek op my verhogie wees. Besig om klas te gee, natuurlik…Dan gaan Jacqueline en Michelle (O jitte, teen daai tyd is hulle self al 61), my net stilletjies aftel en eenkant neersit…Dalk is ek gelukkig en kom dit nie eens agter nie!
…Ek het geen idee op watter ouderdom ek gaan doodgaan nie, maar ek sal graag eendag wil sterf met die wete – die Here het my opgebruik. Tot dan gaan ek volspoed, want daar is nog soveel om te leer, en soveel om te gee.
Ek het êrens gelees: “Die lewe eindig wanneer jy ophou droom. Liefde hou op wanneer jy ophou gee, en hoop eindig wanneer jy ophou glo…”
“You’ve got to discover you, what you do, and trust it…”
Mirna
082 779 0507
4 comments to ““Se retirer””
Shoe Mirna…..dit is so wonderlik vir ons om te weet… ‘the best is yet to come’, wat groot geword het met ouers wat ‘af geklim’ het en sommige ophou lewe het….en dat ons ‘n keuse het….bly op die trein! Dankie vir ‘n kosbare stuk deel.
Baie dankie, Jeanine!
Dit was nou lekker om te lees! Ek “refire” ook al vanaf 65. Eķ is amper 70 en gaan aanhou werk.
Fantasties Nelia. Dankie vir die saampraat en lees.