Ons instruktrises het al op interessante plekke foto’s geneem – op ‘n treinspoor, in die veld, en op Michelle hul se stofpad. Niemand wil my glo wanneer ek sê dat ek nie besonder mal is daaroor om afgeneem te word nie, en ek neem hul nie kwalik nie! Ons studio se program word elke Sondag vergesel van ‘n foto, op elke liewe Challenge-promosie pryk ons lewensgroot, elke tema klas en prysuitdeling gaan gepaard met hordes foto’s, en Anton sit gereeld op die studio se verhogie om ‘n klomp aksiefoto’s te neem.
Als vir ‘n goeie doel – om ons studio te bemark, en die wêreld ‘n kykie te gee in ons doen en late. Toe ek verlede jaar vir Adele sê ek soek ‘n foto op die vliegveld se aanloopbaan, was sy dadelik gewillig en entoesiasties. Wanneer dit by foto’s kom, is letterlik NIKS vir haar onmoontlik nie.
…Daardie Vrydagmiddag in Desember verlede jaar was ‘n hoogtepunt wat ek regtig nooit sal vergeet nie. Ons fotosessie saam met Adele en Pikkie het in die studio afgeskop, met 7 Sweatgear-uitrustings, groot glimlagte, en baie pret. En toe is ons vliegveld toe, met nie net een nie, maar sommer twee regte vliegtuie in die agtergrond om ons foto’s verder op te kikker…
Maar hoekom ‘n aanloopbaanfoto vir ons New Year Challenge, en al hierdie sentimentele snert van “Sprei jou vlerke, styg op met moed, en vlieg hoog…”? Want ek glo met my hele hart dis regtig nie snert nie…
My pa het jare gelede vir my ‘n kinderboekie present gegee: “Vlieg arend, Vlieg hoog!”, deur Christopher Gregorowski. Dis ‘n Afrika-storie, die verhaal van Aggrey, ‘n boer wat na sy verdwaalde kalf gaan soek en in die proses op ‘n arendskuiken afkom. Uitgewaai uit die nes deur die wind. Die kuiken gaan saam huis toe om saam met die hoenders groot te word. Om hoender te word, want die boer is vas oortuig dit IS ‘n hoender.
“Haai”, sê ‘n vriend eendag. “Hierdie is nie ‘n hoender nie – dis mos ‘n arend!”. Die boer hou vol dis ‘n hoender. Hy loop dan soos ‘n hoender, eet soos ‘n hoender, en dink soos ‘n hoender.
Vir twee dae probeer die vriend die boer oortuig dis ‘n arend – hy probeer alles om die arend te laat vlieg. Vergeefs. Donker, op die derde dag, is die vriend terug. Hy neem die voël en met Boer op tou begin hy die tog terug na die berg waar die kuiken gevind is. Hy is haastig. Hy moet die berg bereik voor sonsopkoms…
Net voor die son kop uitsteek, is hulle naby die kruin. Die vriend dra die groot voël tot bo-op ‘n rotslys, en begin praat: “Kyk na die son, arend. En as dit opkom, styg saam daarmee op. Jy hoort in die lug, nie op die grond nie.” Op daardie oomblik skiet die son se eerste strale oor die berg uit, en skielik is dit asof die hele wêreld brand van lig. Die groot voël verslap sy greep op die rots, sprei sy vlerke om die son te groet en voel die lewegewende warmte op sy vere. Die boer raak stil. En toe, sonder dat hy werklik beweeg, leun die groot voël vorentoe, onder sy vlerke ‘n opwaartse stroming magtiger as mens of dier. Hy laat los die rots en word omhoog gedra, hoër en hoër, om nooit weer op die grond tussen die hoenders te leef nie…
Die die verhaal van die arend. Maar ook die verhaal van ons almal. Pik ons mielies, of sweef ons hoog? Glo ons genoeg in onsself om die rotswand te los en op te styg? Of bly ons liefs hier op die grond, want, dis net makliker om te skrop in dit wat ons elke dag voor ons sien…
…Elkeen van ons maak een of ander tyd ‘n noodlanding tussen die hoenders. En dis okei. Want die wêreld het mossies, duiwe, en kwikstertjies ook nodig. Maar ons is nie gemaak vir skrop en geelmielies pik nie. Ons hoort nie in hokke met koeltebome omring en vreetkrippe wat gemaak is uit ou buitebande wat deurgesny is nie. Want ons is die Kroon van die Skepping, en ons hoort op die hoogtes.
Die probleem is net, as jy wil hoog vlieg moet jou vlerke sterk genoeg wees om jou te dra, en jy moet geen vrees vir hoogtes hê nie. En dis partykeer makliker gesê as gedaan. Partykeer voel dit vir my of ek hoër probeer vlieg as wat my vlerke my kan dra. Maar dan staan ek verbaas oor wat ek bereik het. Ander kere voel dit of my vlerke slap agter my hang. Magteloos. Onbeholpe. Gestrand.
Is jy ook soms vlerkloos? Sonder daardie iets wat jou bo jou omstandighede wil laat uitstyg? Dalk het 2023 jou vlerke kom knak, dalk is jy teleurgestel in die lewe, in dinge, of in jouself, of in mense, wat veroorsaak dat die naaste gedagte wat jy aan vlieg kan kom, ‘n kwaai “vlieg in jou glory in” is! Dalk voel jy net te moeg om weer te probeer vlieg. Maar afvlerk gaan ook nie noodwendig gepaard met seerkry nie – dis ook om sommer net vreeslik gemaklik te voel. Te gemaklik. En as niks verander nie, dan bly dit mos net dieselfde…
Maar wat beteken dit nou eintlik om jou vlerke te sprei…? My ma het altyd gesê: “Die begin van die einde is die dag wanneer jy nie meer jou horisonne wil verbreed nie…”
Ek dink ek begin nou eers mooi verstaan wat sy bedoel het. “Vlerke sprrei” hoef nie vir aardbewings te sorg nie, maar dis regtig veel meer as ‘n gesigbehandeling by ‘n salon, of ‘n glas wyn aan die einde van ‘n stresvolle dag. Dis meer as betrokkenheid by die Vroue-aksie se welsynsprojek, of om die skool se gronde deur te trap en altyd gereed te staan. Dis meer as goeie kos, ‘n lekker huis, ‘n duur genoeg kar, en niks om oor te kla nie. Dis veel, veel meer.
Om jou vlerke te sprei is om ‘n slag weer te wens. Want wense met vlerke word drome. Behalwe as jou wense ek-het-nie-tyd-nie vlerke kry. Drome kan ook nie op daai arme-ek-weet-nie-hoe-nie vlerke vlieg nie. Jy kan nie die ou langs jou se vlerke leen nie, want ons het nie almal dieselfde drome nie. Elkeen se vlerke is anders…
Wat ek en jy nodig het, is selfondersoek en moed. Dit begin met die geloof in onsself, die erkenning van ons eie talente, en die wil om uit te reik na die onbekende. En dan die besluit, om daai droom wat ons weggebêre het, vir eens en vir altyd te verwesenlik. Kom ons weier om hoenders te wees. Kom ons sweef hoog, ons gesigte na die son, ons drome binne bereik. Sentimentele snert? Nee. Want ons is nie hoenders nie. Ons loop nie soos hoenders nie, ons eet nie soos hoenders nie, en ons dink nie soos hoenders nie. Ons VOEL net partykeer soos hoenders.
“If you hang out with chickens, you’re going to cluck and if you hang out with eagles, you’re going to fly. Don’t miss the opportunity to fly with eagles tomorrow because chickens invited you to run with them today.”, skryf Matshona Dhilwayo in sy boek “The art of winning.”
My wens vir jou die week is ‘n oop hart, moed, ‘n briesie, of dit nou koel of warm is, ‘n vriendin wat sê “bel as jy my nodig het”, die vreugde van musiek, die son op jou rug, energie om jou horisonne te verbreed, vlerke vir hoog vlieg, en hierdie gebed:
“Here, gee my krag om aan te hou. Gee my ‘n sambreel vir wanneer dit reën. Gee my hoop vir my silwer randjie.
Here, help my om te glo sodat ek berge kan versit. Gee my ‘n kwas om die lug in te kleur. Gee vir my ‘n glimlag vir die volgende dag.
“Here, gee my vinne om bo die water te bly. Gee my skoene vir die steil heuwels. Gee my vlerke vir wanneer ek val.”
Mirna
082 779 0507
PS: Ons New Year Challenge begin môre. Ons gaan hoog vlieg, pappie! Daar’s nog tyd om in te skryf…Volgende naweek is ons in die lieflike Mjejane – dan gaan ek net asemhaal, nie ‘n woord skryf nie.
2 comments to “VLIEG HOOG!”
Baie dankie dat jy ons elke week bemoedig met jou mooi (en waar) woorde
Baie dankie dat jy elke week lees, Trudie!