Wie’s bang?

“Jy weet mos daar’s mense wat glo dat ‘n skerpioen homself steek om selfmoord te pleeg in gevaarlike situasies,” skerts Magda Louw nou die aand op die kassie.  “Spoiler alert”, sê sy.  “n Skerpioen is immuun teen sy eie gif! Hy maak een van die moeilikste besluite van sy lewe, om dood te gaan, en hy kry DIT nie eens reg nie…”

Ek het nie Biologie tot matriek geneem nie, so ek moes eers gaan Google oor die skerpioen…Uit die aard van die saak is die selfmoord-ding ‘n wolhaarstorie – wat wel gebeur is dat hulle hitte met hul sterte wil afweer, en dit daarom op- en af beweeg.  Dit lyk net of hulle hulself in die rug probeer steek.  Maar skerpioene is kampioene van oorlewing, en hulle IS immuun teen hul eie gif.

Maar ek wil nie ‘n roofdierlesing gee vandag nie, ek dink aan iets anders wat Magda Louw in een van haar min, diep oomblikke gesê het: “Ons vrese is soos daardie skerpioengif.  Ons hele lewe lank is ons doodbang vir iets, dan gebeur dit, en dan gaan ons nie dood nie!”

Vrees is iets wat elkeen van ons verstaan.  Ons is almal bang vir iets – as jy sê ”nee”, dan jok jy lekker.  Die lewe het ‘n hele skuur vol vrese:  vrees vir armoede, vir pyn, vir die verlede, die dood, vir water, vir geslote ruimtes, vir Vrydag die 13de, vir skerpioene, hoogtes, hansworse, spoke of skaduwees.  Party mense is bang vir gimnasiums en spieëls, en ander, of meeste, vir mislukking. Ja, almal van ons is bang om ‘n fout te maak. Wat so ironies is, is dat almal wat sukses in die lewe behaal het, voorheen foute gemaak het.  

Volgens die slim ouens is daar slegs twee vrese by die mens aangebore; die vrees om te val en die vrees vir harde geluide.  Al die ander vrese is aangeleer.

Het jy geweet dat die nommer een vrees in die wêreld is om ‘n toespraak voor mense te lewer? Die derde grootste vrees, is die vrees vir die dood. Ek weet nie wat is die tweede grootste vrees nie . . . ek raai maar dis jou skoonma!  Nee, ek grap sommer.

Suid-Afrikaners se bangmaakdinge lyk bietjie erger as dié van baie ander lande…Ek glimlag nogal oor die komediant Schalk Bezuidenhout, wat in ‘n onlangse eenmanvertoning vertel van sy taxi-rit in Australië.   Toe die bestuurder met Schalk ‘n geselsie aanknoop en hoor hy is van Suid-Afrika, roep hy uit: “So you’re from that country where people feel so unsafe, mate?!”  “Yes?”, aarsel Schalk.  “Yeah, mate, because of all the snakes…”

“Hene, mense!”, het Schalk uitgeroep.  “If snakes were the main source of fear in our country, I would walk naked in the streets all day, singing ‘Waka Waka’!  Vandag, in 2024, met Covid amper nou net ‘n vae herinnering, sit ons met die oorblyfsels, en meeste mense wat ek ken is onrustig oor finansies, onveiligheid, en onsekerheid, omdat afbrand mooier as opbou geword het, daggaplante welig groei in die Uniegeboue se tuin, en alles voor ons oë bietjie vir bietjie agteruitgaan.

Toe ek klein was het ek die donker en die skoolsuster gevrees – haar inentings, en haar jaarlikse “vonnis” – “Jy het skoliose, doen oefeninge anders gaan jy ‘n rugstut moet dra en verlam wees voor jy 30 is”.  Dankie tog, hier’s ek nou nog, met ‘n lysie ander bangmaakgoed.  Veral plooie.  En soms Kunsmatige Intelligensie, veral nadat Eswee my aan ChatGPT bekend gestel het.  Maar ek is nie regtig bekommerd dat ‘n robot ooit my plek as aërobiese instruktrise sal inneem nie.  Ek dink dis juis vir ons menslikheid, en die feit dat ek, Jacqueline en Michelle saam met die lede sweet, lag, foute maak, en swaarkry, dat hul dit geniet om saam met ons te oefen.

…Wanneer mens die dag ‘n ma word, verdriedubbel jou vrese – Sê nou net die blondies gaan op my skoot wil sit tot hulle die dag 30 is, het ek gesidder toe hul kleuters was. En jare later:  Sê nou net ek was te ongeduldig, het nie genoeg geluister nie, was nie genoeg langs die baan nie, het nie genoeg vir hulle gebid nie…Sê nou net ons kinders kom iets oor…

Ons almal vrees slegte nuus.  En ouderdom…Ons geliefde Tannie Elsa, ons 86-jarige erelid, het hierdie week verneem dat haar dae van Treadmill-stap en gim getel is – die heup wil nie meer mooi saamwerk nie.  Ek kan die teleurstelling in haar sagte oë sien.  Vir ons is die nuus net so ‘n terugslag – haar daaglikse twee uur-lange gimritueel was ‘n instelling in ons studio.  Maar ou mattas, sy laat haar nie onderkry nie.  Swem is nou haar voorland, en Oktober vlieg sy weer oorsee, hoor!

…Wat vrees jy?  As jy duisend verskillende mense vra wat hulle vrees, sal jy heel moontlik duisend verskillende antwoorde kry. Ons almal is bang vir iets, of soms vir ‘n paar ietse. Baie soos die Dapper muis. Ons is vir niks bang nie, behalwe… en hoe langer ons dink hoe langer raak die lysie.  Daar is min dinge op aarde wat mense nie vrees nie. Inteendeel, mense vrees goed wat nie eers bestaan nie.

Ja, vrees is ‘n snaakse ding – dit veroorsaak ‘n knop op jou maag en laat jou hart vinniger klop. Vrees kan jou aptyt wegneem of jou laat vreet vir ‘n vale.  Niemand dwing ‘n mens om te vrees nie, en tog laat vrees ons kleiner lyk in ons eie oë as wat ons werklik is.  Vrees laat ons probleme ook groter lyk as wat dit regtig is, want ons sien nie noodwendig dinge soos dit is nie – ons sien dit soos ONS is.

Een van die dinge wat mense die meeste vrees, is hul verlede. As jy jou verlede vrees, vergeet jy om in die hede te leef en sal jy nooit regtig ‘n hoopvolle toekoms hê nie. Sielkundiges sê jy kan vergeet om van die geraamtes in jou kas ontslae te raak as jy nie daadwerklik daarmee gaan deel nie.  Ons moet dit ophou bepeins, bedink en herleef.

Maar, sielkundiges sê OOK dat tot 77% van die dinge wat ons vrees ons nooit sal tref nie.  ‘n Studie toon dat 60% van ons vrese ongegrond is en glad nie gebeur nie, 20% is gebaseer op dinge wat in ons verlede met ons gebeur het en buite ons beheer was. 10% is gebaseer op dinge so eenvoudig dat dit nie ‘n verskil in ons lewens sal maak nie. En van die res wat oorbly kan slegs 4-5% regverdig word.

Die emosie van vrees is egter ‘n werklikheid, want jy voel dit. En ons mag dit ervaar, want, dis ‘n ware emosie.  En soms is vrees nodig.  Sonder vrees sou nie een van ons in die moderne wêreld kon oorleef nie. Ons sou die eerste dag op straat doodgery word.  Vrees is ons natuurlike alarmstelsel.

Bekommernis is iets heeltemal anders.  Dis ʼn vorm van vrees vir iets wat in die toekoms kan gebeur. Mark Twain het gesê: “Ek het baie bekommernisse in my lewe geken – maar nie een van hulle het ooit gebeur nie.  Kan die dinge wat jy vrees moontlik met jou gebeur?  Moontlik. My vraag is kan mens vir 80 jaar van jou lewe in vrees lewe vir die 5% moontlikheid dat dit wel met jou kan gebeur?

Mark Twain het ook gesê moed is weerstand teen vrees, oorwinning oor vrees; nie die afwesigheid van vrees nie. 

Om skrikkerig te wees is nie verkeerd nie. Liewer bang Jan as dooie man, of hoe? Maar, om nie te wil probeer nie, is die ergste fobie.  Ek aanvaar dat ek my nou nie moet simpel hou en die Anaconda by Gold Reef City gaan ry nie – my kristalle gaan verseker weer uitfoeter, maar wonderwerke gebeur ook nie met ‘n bewende broek nie. Soos Tania Smit skryf:

“Wat as Aspoester die Goeie Feë weggewys het, uit pure vrees? As Fleming bang was vir muf, het ons nie vandag antibiotika geken nie. Sou Bond nie gewaag het nie, sou daai mannetjie met die goue vinger gewen het.”

 As ek te bang is die skermunkels gooi spykers op die Hendrina-pad, gaan ek nooit in Pretoria kom nie.  As ek geluister het na ‘n fiksheidsinstruktrise jare gelede, wat gesê het: “Mirna, jy’s nog nie gereed om vir opleiding te gaan nie, jy moet eers nog ‘n klomp van my klasse bywoon, en die “Shape”-tydskrif lees, dan het ek nou nog agter gestaan in die stepklas, watertand na die verhoog gekyk en gedink, “shit, dit moet lekker wees om ‘n instruktrise te wees’!

Moenie dat enige fobie jou wonderwerk terughou hierdie jaar nie. Ontdek, verken, probeer, misluk, waag, en om hemelsnaam… hou op bang wees vir al die asse en sê-nou-maars. Skryf in vir die kursus, bak die koek, koop die karavaan en toer, hardloop die Oxpecker. Ek en jy het die krag om ons vrees in ‘n fenomenale verhaal van vryheid te omskep, en hierdie jaar klaar te maak, beter as toe ons begin het.

As ons God vrees, hoef ons niks anders te vrees nie!

Ek en jy, ons is kampioene van oorlewing!  So, kom wêreld!  Wie’s bang?

Mirna
082 779 0507

4 comments to “Wie’s bang?”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Dis n wonderlike stuk vir die begin van die jaar. Baie inspirerend
    Pragtig!

    • Mirna says:

      Dankie liewe Colette!

  2. Linda Labuschagne says:

    Net so Mirna♥️ Mooi gesê! Dankie dankie vir alles, ek kyk op na julle 3tjies👌💪

    • Mirna says:

      Baie dankie Linda. Jy bly ‘n groot aanwins vir ons studio!