Dinsdagaand 17 Oktober om 21.30 het ons paps gaan rus. Vrydagoggend het ons Pa Stoffie se vol lewe van 84 jaar gevier, en met ‘n swaar hart van hom afskeid geneem. By hierdie Totsiens-diens van Pa, was daar baie trane, maar darem ook glimlagte, en vinnige agterna geselsies met vriende en familie wat ons bitter lanklaas gesien het.
Ek het die afgelope paar maande dikwels oor my pa geskryf – dit was ook maar ‘n manier vir my om te probeer sin maak van hierdie vyf swaar maande, wat soms soos ‘n ewigheid vir ons gevoel het. Dit was een van die moeilikste dinge wat ek nog ooit moes verwerk – om ons groot, sterk pa week na week so te sien wegkwyn…
In Pa se begrafnisblaadjie, wat Delien en Nerésa met soveel sorg aanmekaar geslaan het, het ons vir oulaas aan hom hulde gebring. Dit was kosbaar. Uit die penne van Adèle en Theresa het ek ook sommer opnuut weer ‘n paar dinge van ons Pa Stoffie geleer waarvan ek al vergeet het.
Adèle skryf: “Pa het die wêreld se geduld gehad…Hy het ons leer bestuur sonder om na handvatsels te gryp of sy stem te verhef, dit was maar net altyd, “Ai, my skatjie”, of “O jou moer!”. Selfs toe Mirna oppad Drakensberge toe verdwaal het terwyl hy slaap en ons amper by die see gaan draai het, het hy maar net sy kop geskud…”
Theresa vertel hoe haar lewe vyf-en-twintig jaar gelede verander het toe Pa Stoffel in haar lewe ingestap het. Sy herroep hul aangename vakansie herinneringe, die stappies langs die see en in die berge, en hoe sy en Pa elke maand op die 14de iewers gaan ontbyt eet het om hul troudag te vier. Ons het gedurende hierdie 5 maande so baie by Theresa geleer – sy was ‘n rots, het nie een dag gekla nie, was elke dag langs Pa se bed, en het elke aand ‘n sorgvuldige stemboodskap vir elkeen van ons gestuur.
Ai. Ons Pa, wat nooit van hoofpyn gekla het nie, en nooit siek geword het nie – wat geliefd en bekend was onder die werkers en inwoners van Willow Haven, en elke dag ‘n draffie ingekry het. Ons Pa, wat grappies kon uitryg, uit volle bors kon sing, veral in die kerk, en nooit die geleentheid laat verbygaan het om met die kelners in restaurant te skerts en hul te “karate-chop” nie.
…Ek sou so graag vir Pa, Zander en Mariné se trouvideo wou wys. Ek sou so graag Eswee en Nicole se verlowing met hom wou deel. Dis amper ondenkbaar dat Pa nie Dominique en Chanelle se gradelegtighede gaan beleef nie, dat hy nooit weer saam met Delien ‘n glasie witwyn sal geniet nie, en dat hy nie hier gaan wees wanneer Hannah gaan kom kuier uit Australië nie. Pa en Theresa gaan nooit weer oudergewoonte op ‘n Dinsdagoggend in die Botaniese tuin stap nie, en hul tradisie van ‘n Vrydag-vissie eet is ook nou sommer eensklaps iets van die verlede.
Wat bly dan oor, wil mens amper vra. Kosbare herinneringe. Pa het vir elkeen van ons ‘n groot bruin koevert gelos…Hy het elke kaartjie en briefie gebêre. In graad 4 het Eswee geskryf: “Liewe Oupa, ek is jammer en baie spyt dat ek Oupa nie nou gaan sien nie. Daar is so baie goed wat ek vir Oupa hier op die plaas wou wys. Ek hoop ek sien vir Oupa gou weer, en ek hoop ons kan weer Kalahari toe gaan. Oupa sal so trots wees op my.”

In Graad 6 het Neis geskryf: “Ek het net een oupa: Die beste Oupa! My Oupa is ‘n drukkie-mens, ‘n Kalahari-mens, ‘n ek-is-lief-vir-jou mens. Ek sê julle – sterker as Simson, slimmer as Salomo, die boomhuis op die plaas, en die pophuis in my kamer, sê: Oupa Stoffel is ‘n kan-dit-alles-doen-mens!”

In my koevert ontdek ek ook die kaartjie wat ons gemaak het vir Pa Stoffel se 80ste verjaarsdag. Daarin het ek geskryf:
“Pa het ons geleer dat elke praktiese probleem meestal ‘n praktiese oplossing het. Eers wanneer Pa nie meer ‘n ding kon regmaak nie, is dit amptelik stukkend verklaar. Pa het die beste humorsin in die hele wêreld, ‘n reuse algemene kennis, en Pa is een van die eerlikste mense wat ek ken. As ek nie geweet het van Pa Chris nie, sou ek nooit geweet het dat Pa Stoffel nie eintlik my regte pa is nie…”
Dankie dat niks ooit te veel moeite was nie, dankie vir die Sondagmiddag draffies in Danie Cravenstraat, en die roomys by Milky Cove.
Pa het ons geleer van nederigheid.
Pa het ons geleer om WA Hickey se “Twee vir ‘n stuiwer” te geniet.
Pat het ons geleer vloek – dankie vir “o jou gai” en “o jou moer”.
Pa het ons geleer, as jy iets reg gedoen wil hê, doen dit self.
Pa het ons geleer, ‘n besige lewe is ‘n goeie lewe.
Ons sou so graag vir Pa nog lank by ons wou hou, maar die Groot Opsteller het ‘n ander Sodoku-plan vir Pa se lewe in gedagte gehad.
Dankie dat Pa ons Pa was. En is. Pa is nou in ‘n Beter Plek.
Ons seder het geval. Delien het gister ons “Pa-troosdiens”-WhatsApp groepie verander na “Stoffel se meisies.”
Ons is dankbaar, trots, en ewig lief. Ons meisies sal Pa altyd onthou.
Mirna
3 comments to “Ons seder het geval”
Ons Koekemoers het met Delien kennis gemaak deur Amanda. Delien het ons aan julle ma, Lettie voorgestel en ek en sy het baie gelag, die meisiekinders gehelp trek. Vir 35 jaar is Delien vir ons gesin soos n tweede dogter. Ek oom Peet Delien en Amanda was by jou ma se sterfbed en n jaar gelede moes ons gesin ook soos julle vir vyf maande by ons man en pa se sterfbed staan, sien hoe hy ly en op 31 Julie 2022 het Ons Hemelse Vader gesê genoeg is genoeg – Ek gaan vir jou saanvat en plek berei in die Hemel waar jy sonder pyn en lyding sal wees. Ons het ook wonderlike memories en sal hom nooit vergeet nie. Pom Peet was ook n man wat alles kon doen en het n lang en goeie lewe van 87 jaar 4 maande gehad. Groete van ons almal, ekke, Johan, Amanda Marius, en hulle gesinne.
Baie dankie tannie Ria!
♡ Kosbaar♡