Die geheim is uit…

Langenhoven het gesê: “Drie kan ‘n geheim hou as twee dood is…”  Die 82-jarige bekende Italiaanse digter, Fausto Cercignani het onlangs opgemerk: “A secret remains a secret until you make some promise never to reveal it…”

Ons almal het êrens in ons lewens al hierdie woorde gesê of gehoor: “Moet asseblief vir niemand anders sê nie…”

“Kan jy ‘n geheim hou?”, het iemand eendag vir Koos van der Merwe gevra.  “Natuurlik kan ek!”, het Koos verontwaardig uitgeroep.  “Dis die ouens vir wie ek die geheim vertel wat dit nie kan hou nie!”   Hiehie.

”Wat is die geheim agter Elsabé se dramatiese gewigsverlies?”, wou almal weet daardie Sondag toe ek my Blog aan haar opgedra het.  Daar’s eintlik glad geen geheime as dit kom by gewig verloor nie – dis kalorieë tel, oefen, minder vreet, baie geduld en wilskrag en gesonde verstand…Geen kortpaaie of geheime diëte nie, ou mattas.

“Wat is die geheim van ware geluk?”, filosofeer almal so graag.  Navorsing deur die welbekende sielkundige, dr Edward Diener, ook bekend as “Dokter Geluk”, het bewys dat ons verbaas sal wees oor wat tot ons geluksvlakke bydra.  Is dit geld?  Definitief nie.  Help dit as jy jonger is, in ‘n sonnige land bly, ‘n hoë IK of ‘n goeie opvoeding het?  Nee, ook nie regtig nie.

Volgens ‘n artikel in die tydskryf “Time” onder die opskrif “The new science of happiness” het navorsing bewys – dit wat jou gelukkig maak, is die mense om jou, God, en jou geloof.  Soos Noel Langley skryf in “The Wizard of Oz”: “If I ever go looking for my heart’s desire again, I won’t look any further than my own back yard.  Because if it isn’t there, I never really lost it to begin with…”

“En wat is die geheim vir ‘n lang lewe?”  Kunstenaar Mary Flip van Arizona het onlangs haar 101ste verjaarsdag gevier – 101 jaar!  Weet jy wat behels dit?  Sy het die Groot Depressie en ‘n spul oorloë oorleef, en 18 Amerikaanse president sien kom en gaan.  Toe sy gevra is om haar unieke lewensraad met die media te deel het sy gesê: “O, my geheim?  Tequila!”

Maar wat is ‘n behoorlike geheim?  Om iets in die moderne wêreld te weet, wat net een of twee ander mense uit biljoene weet.  Is dit realisties?  Nee, dis “a tall order”, soos die Engelse sou sê.  Maar mens kry natuurlik geheime, en dan kry jy GEHEIME…

Daar is maklike wegsteek geheime, soos jou banksaldo, en jou pinnommers en die lesing op jou badkamerskaal – dit hou ons lag-lag vir onsself.  Donderdagmiddag oppad studio toe word ek afgetrek in Fouriestraat deur ‘n “boetebessie”.  Ek het 76 km per uur gery…Ek belowe nie, maar ek het haar nie omgekoop nie!  Ek het haar net gevra hoe klink twee gratis maande by Mirna’s Aerobic Studio…Sy was onmiddellik entoesiasties, het uitgevra na die klastye en wou weet of dit sou help vir haar boepensie.  “See you tomorrow!”, het sy my vriendelik totsiens gewaai…

“Ja, sure”, het ek gegrinnik.  Ek was sterk van plan om dié voorval so gou moontlik te vergeet en die geheimpie diep in my binneste te bewaar, maar ek kon nie die versoeking weerstaan om dit uit te blaker op ons Bonniebraes-groepie nie.  Toe my vriendelike verkeerskonstabel boonop Vrydagoggend, so tien minute laat, by die klas inwals, was dit neusie verby met dié geheim.  Ek was so verras en onkant betrap dat ek histeries van die lag die hele klas tot stillstand gebring het en met die hele sak patats vorendag gekom het…

Mens kry inderdaad geheime en GEHEIME…Daar is die sensasiegedrewe geheime wat opgeslurp word deur die media en op voorblaaie pryk, soos “Prinses se geheime liefdesbriewe onthul”, of “Geheim agter Rassie se flikkerende ligte uiteindelik ontbloot.”  Geheime kan lei tot gevegte, egskeidings, hofsake, skande, steelfoto’s, drama, en trane, trane, trane.

My ma het altyd gesê dat geheime uitlap niks anders is as skinder nie.  Ek onthou hoe sy altyd trots vertel het, dat wanneer iemand vir haar vra: “Lettie, het jy gehoor???”, dan het sy net met ‘n glimlag geantwoord – “Ja, ek het.”  Sy het gesê, wanneer die ketting van ‘n skinderstorie na jou kant toe kom, moenie dit aanvuur nie, en moenie dit aanstuur nie.  By gebrek aan hout gaan die vuur dood…

Maar dis nie altyd so maklik nie!  Daar is nou maar eenmaal net iets aanlokliks aan die idee om ‘n geheim te hoor.  En dit te vertel!  Spreuke 18:8 sê daarom seker nie verniet van hierdie bakhand-gefluister nie – “Skinderstories is so soet soos lekkernye, dit sink tot diep in jou gemoed…”

Toe ek klein was wou ek vir ‘n rukkie ‘n spioen word soos 007.  Net vir ‘n klein rukkie.  Want spioene moet leuenverklikkers omseil en goed kan jok, anders word hulle aan hulle toonnaels opgehang en gemartel.  So, gelukkig het ek gou my lus verloor vir vodka drink saam met die Russe, want om ‘n geheim te hou is moeilik!

AS dit by geheime kom is ek regtig nie Engel Gabriël nie, en ek was ‘n paar keer in my lewe al kniediep in die moeilikheid by die twee blondies.  Sien, ‘n ma-hart wil dikwels net-bietjie-spog-want-sy’s-trots, terwyl tieners glo dis dinge wat liefs in Petstraat 67 kan bly.  Maar al doende leer mens gelukkig, en ek dink ek raak al hoe beter met geheime.  Ek het Mariné se verloofring te siene gekry lank voordat Zander dit aan haar vinger gesteek het, ek het geweet van Zander se wittebroodplanne, en ek het geswyg soos die graf!

Toe Eswee ons twee weke gelede inlaat op die geheimhouding rondom sy verlowingsplanne, het ons geweet – hierdie is doodsake, hy wou Nicole ten alle koste verras.  Darem kon ek en Schalk en Zander en Neis oor en weer uiting gee aan ons opgewondenheid, en ek en Annebie kon gelukkig elke oggend voor klas ‘n paar sinne in die geheim fluister.  Ek sal jok as ek sê dit was maklik om hierdie geheim te hou, bloot omdat ons almal gebars het van opgewondenheid.   

Nadat die twee vir ‘n troue Kaap toe is, was Nicole onder die indruk dat Eswee daar agtergebly het vir ‘n konferensie, en ons moes almal elke dag doodseker maak ons stuur nie per ongeluk vir Nicole ‘n WhatsApp nie, want, dis mos partykeer presies hoe die noodlot dit wil hê – jy dink aan iemand en stuur dan juis vir daardie persoon die boodskap en dan is dit chaos!

Geheimhouding is ‘n uitputtende besigheid, maar gelukkig het die laaste twee weke omgevlieg, en Vrydagmiddag teen sononder het Eswee vir Nicole by putjie 3 op die verruklike Highland Gate gholfbaan naby Dullstroom ingewag, met ‘n verruklike uitsig, ‘n asemrowende ring, ‘n rooi langsteelroos, en ‘n glasie sjampanje.  Wat ‘n prentjie om hulle twee se oë so te sien blink!

Skaars ‘n jaar gelede het ons ‘n laaitie bygekry.  Een van die dae kry ons nog ‘n pragtige blonde dogtertjie by. Ons bekers loop oor, en ek dink hierdie een keer het ons Langenhoven verkeerd bewys –  Drie KAN ‘n geheim hou as hul lewens daarvan afhang, nege ook!

Mirna

082 779 0507

3 comments to “Die geheim is uit…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Cilnette Kruger says:

    Mirna, Loved your story. So humble and truthfull. God is the only one for our happinnes. Thank you for your story it is inspiring. Me and Crunchie were both intriged.

  2. Cilnette Kruger says:

    Mirna, Die storie was so mooi. Inspireerend en waar. Dankie dat jy dit gedeel het. Wow! Geen geluk kan sonder God bestaan nie. Ons was vasgevang deur elke woord. Dankie daarvoor.

    • Mirna says:

      Dankie Cilnette!