RHORH!

Nee skuus, dis nie ‘n spelfout of ‘n uitheemse vloekwoord nie, gee kans…

Dié besigheid is nou al geruime tyd in my agterkop.  Dis hierdie hele bohaai oor RHOPTA, Die real housewives van Pretoria, en nou weer die opskudding wat die spul in die Wynlande ontketen.  Dit voel vir my ek is een van die min mense wat nié die realiteitsreeks slaafs volg nie – ek weet nie eens wie is die deelnemers nie…

My verskoning is nie dat ek nie tyd het om daarna te kyk nie – ek is mal oor “Survivor”, het nie een episode van “Fraksie” gemis nie, en ek en Schalk het die een episode na die ander van “Yellowstone” verslind.  Ek het “The Queen’s Gambit” in ‘n dag kaf gedraf, en was versot op “Wednesday”.  (Jip, ons het selfs die “Bloody Mary-Wednesday”-danspassies op die Rebounder uitgehaal!)

Ek het ‘n halwe episode van die Pretoria-huisvroue deurgewroeg, toe kon ek net nie myself langer straf nie.  En ek weet ek is in die minderheid – dis blykbaar een van die gewildste realiteitsreekse op Kyknet.  Vir duisende kykers is dit hoogs vermaaklik om ‘n voorsmakie te kry van hierdie bogemiddeld welgestelde vroue se intriges, interaksies en uithaal en wys-leefstyle.  Tsk, ja, ek is seker net jaloers, maar ek weet ook dit het net 10-minute geneem om my daaraan te herinner dat nié geld, óf 56 pare skoene vir jou styl en mooi maniere kan koop nie.

Dis in elk geval nie oor húlle wat ek vandag wil skryf nie.  Die RHOPTA-reeks het my net aan die dink gesit oor die woordjie “huisvrou.”  Dit was nog nooit vir my ‘n baie mooi woord nie, dis soos moerkoffie, skoonma en galblaas.  Tuisteskepper klink weer so “Emsie Schoeman-rig”, en dis so ‘n verskriklike laaaaang woord…

Maar wat is ‘n regte huisvrou nou eintlik, vandag, in 2023?  Is dit daardie vroue van die realiteitsreeks, en daardies wat jy soggens om 10.00 in die gym sien en daarna in die winkelsentrum waar hulle ‘n latte geniet terwyl hulle kla oor die au pair wat alweer laat was om die kinders skool toe te neem?

Of is dit vroue wat self huis skoonmaak, kook, bak, en uithelp by die skool se snoepie?  Vroue wat die titel skoonmaker, kok, tuinier, kinderoppasser, “handywoman”, verpleegster, en taxi-bestuurder met trots dra?  Mammas.  Ma’s wat altyd prentjies het van Namakwaland-blomme vir ‘n skooltaak of deurnag sit en stik aan ‘n Lentedag-kostuum?  

Of is die huisvrou van 2023 die model-vrou, wat haar en haar gesin se lewe as ‘n perfekte paradys aan die wêreld voorhou, een Facebook-plasing op ‘n slag?  Alles word met kleur en geur gedeel – van hoe sy die kinders skool toe neem, tot waar Mamma en sus vir Pappa bederf met ontbyt van hartjie wafels en room in die bed…

…My ma was ‘n onderwyseres in my laerskooldae, maar daarna, vir baie jare, ‘n huisvrou.  Lank voor die dae van Desperate en Real huisvroue, internet, of skotteltelevisie.  Sy het elke dag self gekook, en kilometers agter ons en al ons aktiwiteite aangery.  Sy het ons elke drie weke biblioteek toe geneem, en ons vuil wasgoed gewas en op die draad gehang…nie geplaas op ‘n blad waar almal dit kan sien en kommentaar daarop lewer nie…Daar was nie tyd om vir ure te klets op WhatsApp of om albums te skep op Facebook nie.  En al was ons mams ‘n huisvrou, het haar planne nooit opgeraak nie.

My ma se kindersielkunde was haar houtlepel, lank voor Google haar wou vertel hoe om die perfekte huisvrou te wees en kinders groot te maak.

Maar dit was toe.  Vandag is anders.  Ons leef in tye waar nie-werkende vroue amper as ‘n minderheidsgroep beskou word.  Daar is duisende vroue wat alleen die broodwinners van hulle gesinne is, maar daar is ook dié wat ‘n beroep beoefen net omdat hulle te lui is om hul huiswerk self te doen. (O jitte, ek dink ek val dalk in hierdie kategorie! 😂)

Nee, alle grappies op ‘n stokkie.  Ek het nooit nodig gehad om te werk nie, maar Schalk het my die ruimte en geleentheid gebied om my passie voluit te kon uitleef – dis net so gelukkig en toevallig dat mens dit eintlik ook ‘n beroep mag noem.

Daar is ‘n spul huisvrouens wat oefen in ons studio, en ek dink hulle is dalk die grootste rede waarom ek nie die “Real Housewives” kyk nie.  Ek sien elke dag regte egte huisvrouens.  Hulle mag dalk nie saampraat oor bevorderings, sperdatums en bonusse nie, maar hulle is altyd vrek besig, het hordes ysters in die vuur, en raak ook met tye emosioneel uitgeput.

Hulle is lopende bewyse dat ‘n huisvrou in 2023 veel meer is as ‘n vrou wat dag na dag tuisbly om na die swembadpomp te luister.  Die huisvroue wat ek ken is elke oggend vroeg in die gym want hulle dagboeke is vol en die ure in hul dag dikwels heeltemal te min.  Hulle is betrokke, behendig en belese… 

…Maar as ons mooi daarna kyk, of ons werk of tuis bly, ons is almal maar huisvrouens.  Want ons het almal huise.  En al maak ons almal ons huise vol met verskillende dinge, is daar een ding wat ons in elke huis sal vind.  Harte.  En in ons huise groei harte, bloei harte, sing harte, huil harte, word nuwe harte gebore en word harte ook soms gebreek…

Ah, hier’s die titel van my Blog nou: RHORH.  “The real housewives of real households…”  Dis ons.  Almal van ons.  Party van ons beoefen beroepe, ander skep tuistes.  Ons is almal huisvrouens.  En wat saak maak is nie ons roostuine of beskuit resepte nie.  Nee, net die grootte van ons harte.  Ons is almal vroue.  En ek kan dit doodeenvoudig nie mooier beskryf as Tania Smit nie:

“Vroue van hierwees, en opstaan, en voel, en lag, en liefhê, en leef.  Regte vroue.  Ongeplastic surgery.  Ongenaakbaar mens.  En DIS real.”  

Mirna

082 779 0507