
Dis nie net mý gedagtes wat op loop gaan oor hierdie twee woordjies nie…Ons eie Andriëtte sing, “Partye dae wonder ek net hoekom? En of als die moeite werd is?” Die Ierse rockgroep U2 neurie, “Some days are slippy, some days are sloppy. Some days are honest, some days are not. Some days you’re thankful for what you’ve got…”
Party dae IS beter as ander. Party dae tref ek al die verkeersligte in Kerkstraat groen terwyl ek vroegoggend studio toe ry, ander dae moet ek by elke liewe een stop. Party dae is ek lank voor vier-uur wakker, opgewonde oor die dag wat voorlê, gretig om ‘n nuwe roetine of klas aan te bied. Ander dae verwens ek my 10 oor 4-wekker met ‘n groot sug. (Laasgenoemde gebeur darem nie te dikwels nie, ek belowe, jy kan maar vir Schalk vra.)
Party dae wens mens mos sommer jy kon ‘n verkleurmannetjie wees, onopsigtelik, gekamoefleer, terwyl jy ongesiens êrens sit en die lewe dophou. Ander dae voel dit of mens die wêreld kan verower.
Nou die dag vang ‘n komieklike Facebook-plasing my oog. Dis dié van Mielie Senekal, daardie kleurvolle tong-in-die-kies karakter op Karen Zoid se program, onthou jy haar? Sy sê: “Party dae is lekkerder as ander dae. En nou sms my ma my en se ek lyk dik in die boud op die foto en gaan nie ‘n man kry nie…”
Laat my dink aan Marieta. Verlede Woensdagoggend draf sy by die studio in vir ‘n InBody-assessering. Ek wil by haar weet hoekom sy voel ‘n assessering is nodig, want sy’s plankdun, soos altyd. “Ek lyk dik op foto’s”, glimlag sy verleë. Nodeloos om te sê hierdie was haar beste assessering ooit, en was sy nou nog ‘n lid van die studio, het sy waarskynlik ons New Year Challenge loshande gewen.
Maar, dis maar hoe ons vrouens is. Party dae is ‘n bliksem, dan verfomfaai die spieël sommer eiehandig jou dag…Party dae voel mens beeldskoon en twintig jaar jonger. Ander dae het jy gemoedsbekakking soos Magda Louw, in die oortreffende trap – dae wanneer jy ook voel jy dra ‘n baksteen in jou maag rond, dae wanneer jy oorbewus is van elke heuwel, daal, homp, slaggat en kraak in jou lyf.
Party dae is luilekker vakansiedae van Netflix en Jojo Moyes en stadig asemhaal. Ander dae is holderstebolder. Party dae is propvol hoogtepunte, lekkerkry oomblikke, glimlagte en verrassings. Ander dae is voorspelbare roetine-dae, gewone dae, te-min-ure-in-die-dag-om-alles gedoen-te-kry-dae. Partykeer hou sulke dae sommer ‘n hele week aan, met die enigste ligpunt ‘n paar nuwe episodes van Yellowstone op die kassie, of iemand wat tydens ‘n tawwe Tabata-klas uitroep, “Kyk die wolke!” Ons kyk, en wraggies, daar, hoog teen die dakvenster, sien ons hulle – sag en vrolik, soos ligpienk spookasem. Propvol belofte.
Sien, al is ‘n mens nou nie noodwendig ‘n beplanner nie, is daar gewoonlik ‘n sekere verwagting van hoe jou dag gaan verloop, en jy weet min of meer wat jy met die dag gaan doen – jy weet of dit ‘n gewone dag, traagdag, besige dag of krisisdag gaan wees, en jy is min of meer daarop voorbereid.
Dan gebeur iets heeltemal onvoorsiens – jou verwagting vlieg by die deur uit en jy moet aanpassings maak. Dis nie noodwendig ‘n slegte ding nie – dit pas net nie in by die prentjie wat jy in jou kop het nie…
Die slegste is wanneer party dae verander in “dis weer een van daardie dae…” “Those days are like folding fitted sheets”, skryf Nanette L Avery. Dae wat dit voel of niks wil reg loop nie. Ons almal ken sulke dae. Dae wanneer dit behoorlik voel of selfs jou koppie koffie ‘n koppie koffie nodig het. Ek vermoed Donderdag was so ‘n dag vir ons arme bure – Schalk sê hy’t net gehoor “POEF”, toe ontplof hul kragopwekker!
Ek het probeer dink, maar ek het regtig nogal lanklaas een van daardie dae beleef – of het my ingesteldheid dalk verander? Of het hierdie hele beurtkrag-katastrofe net gemaak dat ons oor die algemeen met heelwat minder tevrede is?
Nee, ek glo nie dis dit nie. Ek het êrens gelees, dit neem presies 90 sekondes vir ‘n negatiewe gedagte om te manifisteer. 90 sekondes, van die oomblik wat iets onplesierigs gebeur totdat jy besluit – ek fokus hierop, of, ek raak ontslae daarvan. Dis bewys, hoor. Jill Bolte Taylor, ‘n breinwetenskaplike van Harvard, beskryf dit as “the 90-second rule…” In haar boek, “Balance your brain, sé sy: “For 90 seconds, I can watch this bad thing happen, I can feel this happen, and I can watch it go away. A bad moment does not have to become a bad day. That moment is over and done with. There are still plenty of opportunities for good today. The question is, will you be open to it?”
Ek dink dis waarna die Amerikaanse akteur, Matt Dallas, ook verwys as hy sê: “I don’t have too many bad days because I just don’t let them happen. When I’m having one of those days, I’ll just be like, “I’m not going to let this be a bad day, and I’ll do everything to turn it around…
I try to remind myself, it’s just a bad day, not a bad life. No, actually it’s not even a bad day, just a bad moment that lingers”.
Ons dae herinner my aan ‘n potjie gholf. Al speel jy hoe sleg, die slim ouens sê dis altyd daardie een goeie hou wat maak dat jy volgende Saterdag weer opdaag, vasbeslote dat dit beter sal gaan. ‘n Dag kan hoe sleg verloop, daar is altyd ten minste een oomblik wat jou asem wegslaan, een oomblik wat jou laat skaterlag, een oomblik wat jou weer laat glo in die mensdom en die lewe.
Die lewe IS onvoorspelbaar, en die meeste dae is wreed, wonderlik, hartseer, vrolik, moeilik, EN maklik, amper soos Ermelo se weer, so ‘n ses-seisoene-in-een-dag. Maar een oomblik, net een oomblik, is genoeg om ons weer te laat uitsien na môre.
Alles bly die moeite werd – elke asemteug, en elke oomblik – soet EN sleg. En nou is dit herfs – ons kan kla oor die vroeé oggend se donker, uitgelewer voel aan die grille van die weer, of ons kan besluit om ons te verlustig in April se bekoorlike kleurweelde van maroen, wynrooi, oker en oranje.
Elke dag is ‘n keuse, nie net party dae nie. Vandag is ‘n oefenskool vir môre. Wat ons vandag nie regkry nie, kan ons môre op verbeter. As ons gelukkig is., kry ons weer ‘n kans. En dis waarom Kacey van Yellowstone se woorde in my kop bly vassteek: “All we can do is live like there’s no tomorrow, because one day we’ll be right.”
Mirna
0827790507