Vergeet om te vergeet…

Môre begin die laaste week van ons New Year Challenge.  Sjoe, waar vlieg die tyd heen?!  Dis ‘n belangrike week hierdie – soos altyd is daar ‘n paar laaste dingetjies wat ons deelnemers moet onthou – nie vergeet om hul foto’s betyds in te stuur nie, nie vergeet van hul laaste InBody afsprake nie, nie vergeet dat Donderdagmiddag se twee klasse ‘n laaste gulde geleentheid bied vir ‘n paar ekstra punte nie.

“Vergeet” speel nogal ‘n beduidende rol wanneer ons ‘n Fitness Challenge aanbied – ja hoor, dit gaan nie heeltyd net oor oefen nie.  Ons daag behoorlik ons lede uit om breinfiks ook te bly – hulle moet heeltyd onthou om in te teken vir elke klas, onthou om die “screenshot” te stuur wanneer hul ‘n Facebook-plasing gedeel het, en onthou om die motiveringsvideo te kyk voor Sondag 20:00.  Maar “vergeet” gebeur.  Dit gebeur sommer net.  Met almal van ons.  

Partykeer vergeet ons iets omdat dit eenvoudig nie vir ons belangrik genoeg was nie. En partykeer vergeet ons doodeenvoudig omdat ons menslik is en te midde van ons besige programme nie alles kan onthou wat rondom ons gebeur nie.  Daar word mos gesê dat as ‘n man sy vrou se verjaarsdag wil onthou, moet hy dit net een keer vergeet…

Vir ‘n fiksheidsinstruktrise is “vergeet” nogal ‘n ontwrigtende besigheid in ‘n klas – Jacqueline en Michelle het ‘n baie vreemde beskrywing daarvoor – hulle sê dis wanneer “hulle torre afval”.

Ek het nie ‘n naam daarvoor nie, maar dit gebeur gereeld met my ook.  Soos wanneer ek, net wanneer ons behoorlik op dreef is, ‘n “step”-move vergeet – daar is altyd ‘n paar brawes en slimmes in die klas wat ongeërg voortstoom met die roetine, maar eintlik kom alles maar vir ‘n oomblik summier tot stillstand…

Wanneer ek, Jacqueline en Michelle gesels oor ons klassies en die voorbereiding daarvan, is ons al drie dit eens dat die uitwerk van ons roetines op die mini-trampolien die meeste tyd in beslag neem.  Vir my bly die voorbereiding van ons “Cardio Fun”-klasse die grootste uitdaging.  Eers is dit die tydsame proses om die 14 liedjies vir die maand keurig uit te soek, en dan volg die beplanning van die choreografie met ten minste 8 verskillende bewegings in elke liedjie – en dan is dit dae van oor-en-oor-inoefen om alles behoorlik onder die knie te kry voor ek kan droom om dit aan te bied.

…Die eerste twee klasse gaan altyd maar hortend, want elke beweging is nuut en vreemd vir die oefenmaats ook.  Maar niks kom by daardie oomblik wanneer als begin inskop nie. Dis onbeskryflik lekker en bevredigend wanneer die genoegdoening en genot en glimlagte spontaan op almal se lywe en gesigte geskryf staan. 

“Ek weet nie hoe jy alles onthou nie”, is ‘n opmerking wat ek baie hoor.  Dis regtig net herhaling en  “muscle memory”, en dit word elke keer makliker bloot omdat ek dit al soveel keer moes doen.  Ek bedoel, op my beurt wonder ek hoe Nataniël dit dan regkry om tydens ‘n vertoning die een storie na die ander foutloos uit te ryg, sonder om ‘n oog te knip, of hoe Frank Opperman al daardie monoloë van “Dominee Tienie” so maklik onthou.

Maar “vergeet” het ook ‘n ander kant.  Soms vergeet ons doelbewus, al klink dit onmoontlik.  Ons vergeet die slegte goed, en ons probeer die goeies onthou.  Dis ʼn oorlewingstrategie.

Die Amerikaanse skrywer, Dr Norman Vincent Peale, het jare gelede die volgende gesê oor hoe om te kan vergeet:

“Dit is ‘n kuns om te kan vergeet. Maar as hierdie kuns beoefen word, is dit ‘n wonderlike krag wat ons gemoed laat ontspan en die druk op ons gees verlig. Sommige mense kla dat hulle dit moeilik vind om iéts te onthou. Baie meer mense vind dit moeilik om te kan vergeet.

Om te vergeet is ‘n positiewe proses waar jy aangename herinneringe in die plek van al die ongelukkige herinneringe kan stel. Terwyl jy jou gedagtes dwing om hulle op die gelukkige, goeie dinge toe te spits, sal die negatiewe ongelukkige, slegte dinge langsamerhand uit jou gedagtes verdwyn omdat hulle met positiewe, gelukkige gedagtes vervang word.”

Ek het êrens gelees dat ‘n vis ‘n geheue van net drie sekondes het.  Ek is nie seker of dit waar is nie, maar dit moet nogal lekker wees om so te kan rondswem in vrede, met geen pyn of wrok oor die verlede nie.

Maar as ek mooi daaroor nadink, en regtig moet kies tussen onthou en vergeet, kies ek loshande die onthou.  In “Vergeet om my te vergeet” sing Laurika Rauch van haar verlange na ‘n geliefde en die belang van onthou en nie te vergeet nie. Sy is reg – Dit is die onthou wat liefde vashou, en in die vergeet wat ons mekaar verloor.

Geheue is die bousteen van ons verhoudings, maar ook die platform van ons elkeen se identiteit. Geheue verbind ons verlede met die hede en stel ons in staat om ‘n toekoms te projekteer.  Heinneringe laat ons tuis voel…Dit laat ons voel ons behoort.

Luister net hoe mooi word dit beskryf deur Brigid Gorry-Hines: “We forget things we try to remember. We remember things we’d rather forget. The most frightening thing about memory is that it leaves no choice. It has mastered an incomprehensible art of forgetting. It erases, it smudges, it fills in blank spaces with details that don’t exist.

But, however we remember it––or choose to remember it––the past is the foundation that holds our lives in place. Without its support, we’d have nothing for guidance. We spend so much time focused on what lies ahead, when what has fallen behind is just as important. What defines us isn’t where we’re going, but where we’ve been.”

“Om te vergeet” gebeur met elkeen van ons.  Jy dwaal tussen die rakke van Pick ‘n Pay rond sonder jou inkopielysie en kan om die dood nie onthou wat jy eintlik wou kom koop nie.  Jy staan soms reg voor iemand wat jy baie goed ken, terwyl haar naam jou bly ontglip, net daar, presies op daardie oomblik.  Soms neem vergeet ons na onbekende plekke, wanneer ons selfone in die yskas wegkruip, ons roetines by die deur uitwaai en ons woorde verdwaal.           

Ons beleef almal oomblikke van bekommerd raak oor ons geheuefunksies, maar dis eers wanneer iemand naby aan ons ‘n slagoffer word van “Die Groot Vergeet” dat ‘n mens dieper daaroor begin dink.  Tania Smit beskryf dit so treffend op haar “Hekelwoorde” webblad.  Sy sê: “Een van die dinge wat ek die meeste vrees is dat my geheue eendag oor ‘n krans gaan val en iewers onder rustige waters gaan wegsink ten aanskoue van almal wat vir my lief is…”

Ek haal my hoed af vir al die neurologiese navorsing wat op die area van Alzheimer en Demensie fokus, maar daar is ook maar baie teenstrydighede wat publiseer word.  Mens weet nie aldag wat is feit of wat is versinsel nie.  Is dit waar dat ‘n dieet hoog in vetsure Demensie kan beveg, of moet mens eerder fokus op breingimnastiek, geheuespeletjies en soduku?  Ek weet nie en dit help ook nie om daaroor te tob nie.

 …Ek weet net ek mag nie vergeet om oor die lekkerste stukkie van vergeet te skryf nie, daardie vergeet-van-jouself-oomblikke wanneer jy net kan wees.  Jouself.  Sonder om te wonder wat enige iemand dink, sonder om jou plek te ken, sonder om twee keer te dink.  Soos wanneer ons wals en draai op die maat van Joji se “Glimpse of us”, wanneer ons luidkeels en natgesweet bo-oor die oefenmat spring op “Pump it louder”, of passievol step met ‘n “funny move” en ‘n cha-cha soos ‘n gelukkige, sorgvrye matroos op die maat van “Drunken Sailor. Daardie oomblikke van ongesmukte, lekker vergeet waarna Kamand Kojouri verwys in haar bundel “The Eternal Dance”:

“Forget your voice, sing!
Forget your feet, dance!
Forget your life, live!
Forget yourself and be!”

Ek besef dat oefen verseker nie ‘n versekeringspolis is teen Die Groot Vergeet nie.  Dalk is dit maar met die brein en sy onthouvaardighede, soos met elke faset van ons menswees en ons gesondheid – suiwer, opperste Goddelike Genade. 

Ek is dankbaar vir elke dag wat my brein vergeet om te vergeet.  

Ek is so ontsettend dankbaar vir elke Steproetine wat ek kan bedink en vir die voorreg om dit nog te kan ONTHOU en te geniet saam my oefenmaats. 

En ek is so, so dankbaar ek’s nie ‘n vis nie. 

Mirna

082 779 0507

3 comments to “Vergeet om te vergeet…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Rethia says:

    Ooohhhh ek ook dankbaar Mirna!
    Dankbaar…., om te kan onthou!

  2. Colette Barnard says:

    Dis wonderlik om goed te kan onthou en aaklig as mens name en goed vergeet. Baie is konsentrasie!

  3. Amanda says: