
Ek ontdek gistermiddag ‘n artikel wat ek in 2017 vir Adele se Insig-koerantjie geskryf het. Op daardie stadium was my skryfwerk ‘n weeklikse oefenrubriek, en dié spesifieke week het Adele voorgestel dat ek die lesers so bietjie meer van myself vertel…
Sjoe, dit voel soos nou die dag wat ek geskryf het, dat “ek nie met die goue oefenlepel in die mond gebore is nie, regtig nie vinnig kan hardloop nie, en dat die moegste wat ek nog ooit in my lewe was, daardie dag in standerd 8 was, tydens Hoërskool Warmbad se Interhuis-gala, toe ek 4 lengtes borsslag moes swem. Ek was `n hele lengte agter die res. Almal weet dat tennis my groot passie was op skool, maar dat my Wimbledon-drome ongelukkig ook nie waar geword het nie.” Dis ou nuus!😄
Vir die wat nie my oefenstorie ken nie – ek het onderwys studeer en was `n tale-juffrou by Hoërskool Ermelo, maar nadat ek en Schalk getroud is, het dit onprakties geraak om elke dag 50 km dorp toe te ry van die plaas naby Lothair. Daar`s mos `n groot verskil tussen `n boervrou en `n boer SE vrou – Ek was laasgenoemde en het my liefde vir mense en aërobiese klasse op dié manier raakgetrap. Ek het kwalifiseer as instruktrise en my beskeie loopbaan daar in die boeresaal op Lothair begin. Ons het sommer gestep op Amstel Lager kassies, maar oeggg, dit was goeie tye. Al was ons met tye net drie. Dit was in 1996…
`n Groot droom is bewaarheid toe ek, danksy Schalk, my eie studio se deure kon oopmaak in 2008, en ons het nog nie een dag teruggekyk nie. Ek is steeds halsoorkop verlief op die aërobiese milieu en is elke dag dankbaar vir die geleentheid om hierdie passie met oorgawe uit te leef. Dis die bekoring van beweging saam met musiek, die kopskoonmaak, die eindelose moontlikhede, die manier waarop die ritmiese doef-doef en almal se meelewing mens net op, op, op lig, ver verby die hoë sinkdak, en dis verseker veral daardie ongelooflike voorreg om te ervaar wat die hele proses vir mense wat jou passie deel, beteken.
..Net Woensdagoggend tydens ons 5.10 “Variety klas” sien ek hoe Tanya moeiteloos vir 45 sekondes “plank”, en die eintlik tawwe “oblique”- oefening doen sonder om ‘n oog te knip. Dis nou klein Tanya, wat skaars bo die Rebounder uittroon wanneer sy dit dra, wat minder as ‘n jaar gelede nog nie behoorlik ‘n 1 kg dumbbell kon vashou nie, wat nou haar ding doen, skaamteloos en met mening! Dis nie dat ek vandag vir Tanya spesifiek wil uitsonder nie, – in ons studio is daar hordes lede soos Tanya, wat met verbetenheid en selfdissipline hul grense verskuif. Elke dag. Lede wat nie noodwendig hope pryse huis toe dra na ‘n Challenge nie. Lede wat nie met hul harte op hul mou rondloop nie. Lede wat nie wegbly wanneer die lewe hul boelie nie, maar wat elke liewe dag opdaag, stilletjies, met ‘n minsame glimlag, ‘n oop hart en ‘n ysere wil.
…Dit was Desember 2014 toe Adele my die eerste keer genader het om `n weeklikse rubriek oor fiksheid te skryf. Vir my was die grootste uitdaging om heeltyd objektief te skryf, al wou ek eintlik net onophoudelik babbel oor alles wat daar in ons geel plekkie gebeur. Wat die hart van vol is loop die mond mos van oor…
Vandag is dit 5 jaar later, en die enigste ding wat regtig verander het is dat ek nie meer vir die koerant skryf nie, maar met behulp van Mari die Blog weekliks op ons webtuiste laai. Ek weet ek het nie nodig om elke week te skryf nie – ek weet nie eens of drie mense dit elke week lees nie, maar dit maak nie saak nie. Ek is mal daaroor! Dis vir my terapeuties en mateloos bevredigend, EN ek hoef nie meer objektief te wees nie, want dis MY Blog😂!
Ek glo steeds dat daar geen beter studio in die hele wye wêreld is nie, en ek weet van geen ander aërobiese fasiliteit waar so ‘n groot verskeidenheid klasse aangebied word nie. Dis veral lekker om te ervaar dat ons regtig ‘n oefenfamilie is. (Nee Dawie, nie ‘n “clan” nie!). Dis ‘n baie persoonlike, gemaklike oefen-omgewing, waar ons elke lid se naam ken, en waar mens gou tuis voel, en jou plekkie vind. Ek sal altyd hartseer wees oor elke lid wat ons verlaat, uit my vel spring oor elkeen wat terugkom, en opgewonde juig oor elkeen wat vir die eerste keer daar instap. Maar ek’s veral so dankbaar vir elkeen van hul wat al vir jare ‘n pad saam my stap, en onvoorwaardelik ontvanklik bly vir elke “move”, elke klas met ‘n kleur of ‘n tema, en elke Challenge.
In 2017 kon ek sê dat ons daarna streef om op hoogte te bly met elke vernuwing in die oefenbedryf – vandag is dit presies nog so, en danksy die groot inperking, is ons ‘n spul trotse Zoomlede ryker, en ons Instagram, Facebook- en YouTube platforms kry wêreldwyd aftrek. Ons “Lyfie”- Rebounding-video is teen vanoggend 7.30 al 41 000 keer “gekyk”, en gister in Menlyn het ek vir die tweede keer in my lewe ‘n meisie hoor sê: “Daar’s die tannie van Instagram…!”😂😂😂
Ek is dankbaar vir, en onuitspreeklik trots op ons ongelooflike spannetjie instruktrises – Jacqueline en Michelle gaan van krag tot krag, en het sommer oornag ontpop in passievolle, dinamiese, onmisbare en pragtige fiksheidsinstruktrises, en ek kan my nie die studio indink sonder hulle nie. (Ek wil graag vandag ook vir Carien uitsonder – Carien het ‘n wilde en woeste jaar agter die rug maar het ook haar kant gebring – dubbel en dwars. Carien het gevra of sy nou eers vir ‘n paar maande net lekker kan saamoefen sonder om klas te gee – Dankie Carien, jou teenwoordigheid, jou entoesiasme, en jou “Whoopwhoop” is en bly goud werd!)
…Om `n fiksheidsinstruktrise te wees IS nie elke dag maanskyn en rose nie – jy staan vroeg op, daar word hoë eise aan jou eie liggaam gestel en dit verg ure se voorbereiding en kopkrap, om klasse van `n hoë standaard aan te bied. Maar vir my bly dit die lekkerste beroep onder die son. Ek glo Liewe Jesus het so goed geweet in Sy Meesterplan…party mense moet met bloed en derms werk (oe pyn my bene nou), ander moet kinders leer Wiskunde doen, en ander moet eerder vir tannies “oefendinge” gee, soos Eswee dit genoem het toe hy klein was.
..My mammie bly die grootste inspirasie agter my energie en dryfkrag. Dis nou nog vir my onwerklik om te dink dat sy op 50-jarige ouderdom terminaal siek geword het. Maar, haar verbete stryd teen die groot K, en haar weiering om moedeloos te raak, sal altyd my grootste aansporing bly. Ek sal nooit verstaan waarom sy nie net vir Eswee en Mariné, en Zander en Nicole, kon ontmoet nie, en daar gaan regtig nie ‘n dag verby waarin ek NIE na haar verlang nie. Ek bly glo…sy sien soms, en ek hoop steeds ek maak haar trots. Dis waarom ek oefen – grootliks oor haar…En natuurlik, omdat dit vir my doodeenvoudig LEKKER is.
Nataniël vertel graag hoe sy Ouma dikwels vir hom sê: “Ouma verstaan glad nie wat jy doen nie, maar hou so aan, Ouma is trots op jou.” Ek dink Schalk, Eswee en Mariné kyk my ook gereeld so en dink, “Ons verstaan glad nie wat Mamma doen nie, maar mooi so! Hou tog maar aan…”
En daarom oefen ek steeds, omdat ek bevoorreg is om nog te KAN aanhou!
In 2017 het ek my rubriek afgesluit met hierdie woorde: “Wanneer die musiek begin speel, en ek op daardie verhogie klim, word die wêreld `n sonnige, salige plek. En elke dag is dit my hartewens dat elke mens wat by ons klasse instap, met `n ligter tred en `n glimlag daar sal uitstap. Die lewe is kort en gesondheid net vir ons geleen, en ek sal dit NOOIT as vanselfsprekend aanvaar nie.”
Vandag, vyf jaar later op hierdie pragtige Desember Sondagoggend van 2022, sê ek net “Dankie”.
“I stand here on this summer day in the centre of my life. Chaos, din, and beauty. For a moment, I am still.”
Mirna
082 779 0507
Has one comment to “Dis waarom ek STEEDS oefen…”
Dis n pragtige storie. Die jare het gou verby gegaan en jy het n ver pad gekom met jou oefen klasse. Dis wonderlik dat jy so passie het vir oefen en jou beroep. Hou so aan. Jy is merkwaardig!