Pa`s fees…

Ek het in 2020 laas oor die pa’s geskryf, en daarom is hierdie derde Sondag in Junie, Vadersdag 2022, die perfekte geleentheid om weer vir ‘n slag ‘n dankie kom rig aan hierdie manne wat ons, en ons kinders, regop hou, en elke denkbare klip so moeiteloos en in die stilligheid uit ons paaie rol.

Ja, julle, die pa’s van ons kinders, julle is regtig onmisbaar!

…In ons huis is daar nog nooit `n groot ophef gemaak van dae soos Moedersdag en Vadersdag nie, maar vandat Eswee en Mariné uit die huis uit is, laat hul hierdie geleenthede nooit ongesiens verbygaan nie.  En dis baie kosbaar.

…Ek dink pa-wees is een een van die moelikste take in die hele wêreld.  Veral om `n goeie pa te wees. Soos Reed Markham skryf in sy boek “Great thoughts for great fathers: Being a great father is like shaving. No matter how good you shaved today, you have to do it again tomorrow.” 

Die gesegde lui “wat is `n huis sonder `n Moeder”?  Gmpf, ek weet ek kan nie namens almal praat nie, maar in Petstraat 67 is `n huis sonder `n vader bôggerol niks.  

…Ek word gereeld oorweldig met die pa van ons twee kinders se liefde vir sy gesin.  Die Amerikaanse skrywer CB Kelland het eenmaal dié mooi woorde van sy pa gesê: “He didn`t tell me how to live: he lived, and let me watch him do it…”

Ek slaan my hande saam in verwondering oor die voorbeeld wat Schalk vir Eswee en Mariné, maar ook vir my stel.  Elke dag.  Ek dink terug aan daardie eerste drie weke van grendeltyd en hoe hy, sonder om te blik of te bloos of `n opmerking daaroor te maak, toilette geskrop, kombuisvloer gewas en wasgoed gehang het.  Dis hy wat steeds op Thabile se af dae die skottelgoed was, tafel dek en die bed opmaak, wat `n nuwe bottel Nescafé Alta Rica in die koskas sit, lank voor dit opraak, en altyd geldsakkies met tolgeld, in perfekte volgorde, reghou as ons moet langpad ry.  

Dis Schalk wat seker maak die elektriese komberse is aan wanneer die kinders kom kuier, en sonder om te kla die onwelkome boetes betaal.  Hy is by verre die mees onselfsugtige mens wat ek ken.  Maar daar is gelukkig derduisende wonderlike pa’s  – pa’s met deernis, pa’s wat wonde afstof en spoegsmeer na fietsval, pa’s wat net so goed soos enige ma weet hoe om die konfytvlek uit ‘n hokkiehemp te kry, pa’s wat hul kinders leer groot droom, en pa’s wat hul gesinne op die hande dra.

Die slim ouens sê die band van `n pa en kind is van `n ander stoffasie as dié van ma en kind.  Hulle sê dis bietjie growwer en rowwer – ek kan nie regtig daarvan getuig nie – Schalk se hande is goedversorgde groen-houer Ingrams hande, en dis daardie selfde meelsteen grootmaakhande en gerusstellende stem wat ons almal staande hou.

Pa-wees kan nie omskryf word met `n enkele woord of selfs `n kragtige sin nie.  Pa-wees word nie gevind in mooi woorde nie – dit lê in elke klein en groot stille, liefdevolle daad, sonder ophou.  Dis in die geur van die warm koppie koffie elke oggend, dit lê in stil-stil Checkers toe glip vir vars pynappels, avo`s en vars broodjies.  Dis in die volgepakte vleis vrieskas, die Eclair-toffies in die ronde bak, en in die trots en selfversekerde stem wanneer hy sê: “my dol, jy kan enigiets doen.”  `n Pa se liefde is in die optel-en-afskud na elke teleurstelling, in die aanmoedig en troos en in elke warm glimlag, selfs al is hy altyd nie heeltemal self so seker nie.

Schalk is ons kinders se held, grootste aanhanger en beste vriend, en myne ook, en daaarom salueer ek hom en elke ander pa vandag, op hierdie Vadersdag.  En elke ander dag.  My eie pappie, Chris, het ons verloor in `n grusame motorongeluk toe ek maar een jaar oud was.  Ek salueer hom ook graag vandag vir sy nalatenskap in my eie spierwit glimlag, en ook my pa Stoffel, wat ons onvoorwaardelik aangeneem en grootgemaak het en aanvaar het as sy eie.

Steve Hofmeyr noem Vadersdag “bel-jou-pa-dag”.  Call your `ol man…Ek gaan my pa bel, maar ek wou so graag, soos Antjie Krog aan haar ma, ook `n gedig skryf vir pa`s, sonder fênsie leestekens.  Maar my woorde skiet te kort.  Toe lees ek Willem Botha se 2012 weergawe van 1 Korinthiërs 13 vir pa`s raak, en hier is my geredigeerde weergawe, vir elke pa, vandag:

“Al sou ek die mooiste huis in die buurt hê en met die duurste BMW rondry, maar my vrou en kinders geniet nie die weelde van my teenwoordigheid nie, dan is ek waardeloos soos `n bankkrediet met `n nulbalans.

Al ken ek al die geheimenisse van die aandelebeurs en Bitcoin, maar ek het nie die liefde om langs die baan te staan as my kinders hul harte uitspeel nie, dan het ek niks bereik nie.

`n Pa wat liefhet is geduldig met kinders wat sukkel met wiskunde.

`n Pa se liefde is vriendelik met `n kind wat nie wil rugby speel nie, hy is nie grootpraterig en verwaand oor sy kinders se prestasies nie, soek nie sy eie belang sodat sy huismense laaste kom nie en hou nie boek van hulle foute nie.

Een dag as ons kinders self groot is sal hulle verstaan wat ons hulle wou leer, en wat God ons almal wou leer.  Maar vir nou, bly geduld, aanmoediging en liefde, en die waardevolste hiervan is die liefde – die onvoorwaardelike liefde“.   

Aan elke teenwoordige pa, maar ook aan elke alleenma wat op hierdie Sondag die skoene van pa ook moet volstaan  – “Thank you, not for telling us how to live, but for living and showing us how to do it…”

Gelukkige Pa-fees!

Mirna

082 779 0507

2 comments to “Pa`s fees…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Liezle says:

    Baie dankie Mirna, dit was n pragtige tribute aan Pa’s! Moes nou n knop in my keel afsluk…

  2. Annatjie says:

    Dankie Mirna
    Jy bly so n amazing mens met so mooi hart dankie vi die mooi boodskap vi al die pappas aan wie jy ook gedink het
    Dankie vir alles wat jy vir elkeen van ons beteken