Ek het al baie keer gedink dat oefenlede in ‘n aërobiese klas ongetwyfeld moet glo dat alle fiksheidsinstrukteurs opperste narsiste is. Ek bedoel, dis net ‘n fiksheidinstruktrise wat gil, “Are you ready?!”, en dan elke keer sommer net wegval sonder om eers te wag vir ‘n antwoord. Dis net instruktrises wat besluit dat nóg 16 repetisies ‘n goeie idee is wanneer almal se tonge reeds op die grond hang, gesigte vertrek is van pyn en spiere brand soos kole vuur.
Jip, ek is een van hulle, hierdie ongenaakbare, onsimpatieke slawedrywers, en met ons glimlagte en bravade en onstuitbare energie, moet ons sekerlik gedurig soos narsiste voorkom. Wanneer ons boonop gedurende ‘n step- of Rebound-roetine ons rûe na ons oefenmaats keer, is ek oortuig dit moet lyk of ons graag net ons eie weerkaatsings so bietjie in die spieël wil bewonder!
…Narsisme is so oud soos die berge. Jare gelede al, in 1911, het die psigo-analis Otto Rank reeds geskryf oor narsisme, en die gedrag gekoppel aan selfbewondering en eiewaan. Kort daarna, in 1914, het die beroemde Sigmund Freud ‘n dokument vrygestel onder die naam “Narcissism: An Introduction.”
Nou wonder ek so by myself – waarom het ons nie destyds in my 1984 matriekjaar na ons vreesaanjaende Geskiedenisonderwyser, mnr Vosser, verwys as ‘n narsis nie?! “Burger! Jy speel op Avbob se stoepe!, het hy gereeld gebulder wanneer ek Jopie Fourie verwar het met Jopie Adam, die tv-karakter, of wanneer ek vir die soveelste keer nie kon onthou dat Japan en Italië ook deel was van die Geallieerdes nie. Sug. Ja, ons was banger vir mnr Vosser as die duiwel vir ‘n slypsteen, maar nie een van ons het ooit geweet dat mens hom dalk kon klassifiseer as ‘n narsis nie! Hoekom nie?
Want narsisme, of NPD (Narcissistic personality disorder, in Engels), is eers amptelik in 1980 as ‘n persoonlikheidsafwyking gediagnoseer. So, dit maak nou heeltemal sin, destyds het ons nog boonop in Warmbad ook gewoon – ons sou heel laaste van almal uitvind dat die fenomeen bestaan! (Bygesê, ek en mnr Vosser is nou vriende op Facebook, en van narsistiese neigings is daar regtig nie sprake nie. Jammer, Meneer!)
Die bekende skrywer, Riette Rust, se boek “Ek! Ek! Ek! Herken en hanteer narsiste”, is nie om dowe neute in 2017 bekroon as een van die top Afrikaanse verkopers nie! In haar boek ondersoek Rust die narsisme-epidemie; hoe om narsiste te herken en te hanteer. Sy gesels oor die waarskuwingstekens, asook die kontrolelys, sodat jy kan kyk of jy met ‘n narsis te doen het. Of dalk self een is…
Ons leef in die eeu van die eie ek, en die afgelope paar weke het ek met soveel vroue te doen gekry wat slagoffers van narsistiese gedrag is, dat ek gevoel het dis tyd om my weeklikse skrywe spesifiek daaraan te wy…
Oor daardie liewe ‘eie ek’ het CJ Langenhoven jare gelede al geskryf:
“Ek seën, vloek; ek dien, verdien,
Verderf, verdruk, verbly
My medereisigers hier op
Die paadjie langers my,
Waar elk van almal vir homself
Alleen geniet of ly…”
Dr Sam Vaknin, ‘n Israeliese psigiater, skrywer en een van die min selferkende narsiste sê dat ‘n narsis meer met sy goudvis empatiseer as met sy geliefdes! Ander kenners sê narsiste is oormatig behep met mag en vertoon, en terwyl meeste mense hul as joviaal en geliefd ervaar, is hul optrede tuis heeltemal in kontras hiermee – niks is ooit hulle skuld nie en hulle kan nooit sê “jammer” nie…
Ek het al baie hieroor gewonder en gedink – daar is so ‘n fyn lyn tussen selfliefde en narsisme. Of is daar? Is ek nie narsisties wanneer ek sampioensous koop, terwyl ek weet die res van die gesin verkies almal pepersous oor Saterdag se steak nie?! Is ek ‘n narsis oor ek nie so ‘n goeie verpleegster is wanneer my huismense olik voel nie? Of is ek ‘n narsis as ek “toemaar” as ‘n trooswoord gebruik?
Ek glo darem nie – as ek so luister is net 1 tot 6 persent van alle grootmense ware narsiste…maar dis nogal erg om te dink dat ek en jy êrens vandag al verby ‘n narsis geloop het, gereeld, niksvermoedend, saam met narsiste kuier, en dat baie meer mense as Daisy de Melker, Oscar Pistorius en Donald Trump ly aan die sindroom.
Dr ST Potgieter, sielkundige van Bellville, sê daar’s ‘n verskil tussen gesonde narsisme en patologiese narsisme. Gesonde narsisme beteken dat jy jouself lief het, maar ook liefde en begrip vir jou naaste het. By patologiese narsisme is dit ‘n geval van “ek het myself lief, en basta met die res.”
Die Amerikaanse sanger, Kurt Cobain, het dit eenmaal mooi opgesom: “I don’t care what you think unless it’s about me…”, maar ek dink Steve Maraboli se definisie vir ‘n narsis, hoe hard op die oor ook al, slaan die spyker reg op die kop: “Someone who sticks their head up their own ass, then blames you for the smell…” 🙉
Maar waar op aarde kom die term “narsisme” dan vandaan? Dis afkomstig van die Griekse mitologie en verwys na ‘n aantreklike jong man, Narsiccus, wat verlief geraak het op die weerkaatsing van sy eie beeld in ‘n poel water. Hy het geleidelik weggekwyn en uiteindelik verander in die blommetjie wat steeds sy naam dra…
Ek wens ek het vandag troos en raad gehad vir vroue wat elke dag die lewe moet deel met ‘n narsis. Sielkundiges meen dat ‘n mens dit nie persoonlik moet opneem nie, duidelike grense moet stel, jouself moet handhaaf, jouself moet omring met ‘n sterk ondersteuningsnetwerk, en uiteindelik ‘n besluit moet neem. Maar ek besef dié katarsis is nie altyd so maklik of eenvoudig nie.
Mag hierdie woorde van Brené Brown, uit haar boek “Daring greatly” vandag bietjie salf op jou wonde kom smeer: “When I look at narcissism through the vulnerability lens, I see the shame-based fear of being ordinary. I see the fear of never feeling extraordinary enough to be noticed, to be lovable, to belong, or to cultivate a sense of purpose…”
Ek is so dankbaar dat daar in my wêreld tienduisend meer konsidererende mense met omgee-gesindhede is as egoïste. Ek weet nie wat die mooi Afrikaanse woord is vir die teenoorgestelde van ek-ek-ek-mense nie, maar ek dink ons vind die mooiste voorbeeld daarvan in hierdie goedvoel-insident wat onlangs deur ene Dave Corona op Facebook gedeel is…
‘n Taiwannese Moeder het ‘n lang internasionale vlug ondeneem met haar 4-maand- oue baba, Junwoo. Voordat die vliegtuig opgestyg het, het sy aan elke passasier ‘n klein geskenksakkie oorhandig as ‘n “byvoorbaat jammer sê gebaar”. Elkeen van die 200 sakkies het oorpluisies, lekkers, en dié nota bevat, geskryf uit die perspektief van klein Junwoo: “I’m a little bit nervous and [scared] because it’s my first flight in my life, which means that I may cry or make too much noise…”
Robert Holden, wat die kursus Living as Love aanbied, vertel toe sy dogtertjie drie jaar oud was, het hy haar gaan soek nadat sy al ‘n paar uur buite in die tuin lê. Net lê. Toe hy haar kry, vra hy wat fout is. Haar antwoord: “Nothing. I’m just lying here feeling beautiful.” Asof sy Ps. 139 opgeëet en ingesluk het.
Mag ek en jy hierdie week ons empatie-skakelaars aansit, nie ophou selfies neem nie, die narsiste om ons skaam maak met al ons omgee-gebare, met deernis na ons weerkaatsings in die spieël kyk, en Ps 139 opeet en insluk. En mag ons nooit ophou om onsself ook baie lief te hê nie. Want selfliefde is nie narsisme nie, dis die teenoorgestelde.
“It is not love unless everything is love…”
Mirna
082 779 0507
5 comments to “Die katarsis van ‘n narsis”
Dankie vir jou woorde van inspirasie, Mirna!
Dankie Mirna
Die tyd in die gym is awesome jy insperieer elkeen van ons baie dankie jys n awesome mens pragtig van binne en buite
Wonderlik geskryf soos altyd Mirna
🌹🌹🌹🌹🌹
Baie mooi geskryf. Jy is n uitstaande gym instruktrise en moedig mens aan met” Are you ready!”
Dankie liewe Colette, jy maak al weer my dag!