Kyk, hierdie is die één week wat ek weet, almal sou my vergewe het as ek nie ‘n Blog geskryf het nie – dit was rof. Vrydagoggend presies 6.50 het ek die heel laaste INBody assessment van ons New Year Challenge afgehandel – die allemagtagste 64ste een sedert Maandagoggend 6uur. Behalwe dit moes die klasse normaal voortgaan met nuwe Cardio Fun choreografie, ‘n nuwe, fris steproetine, ‘n splinternuwe BootyBarre klas én PowerPump circuit. Intussen is daar 79 Challenge lede wie se resultate, persoonlike doelwitte, foto’s en klastotale in die fynste besonderhede bestudeer moet word hierdie naweek, want daar’s hope pryse wat volgende Donderdagaand uitgedeel word…Boonop is ons instruktrises hard besig met hul formele opleiding by FitPro, ek sit handjie by met “cueing” en choreografie, en Saterdag douvoordag het die hele spulletjie van ons weer Bryanston toe gery.
“Kla jy of spog jy?”, kan ek jou nou amper hardop hoor dink. Nee, ek kla nie, want dis ‘n voorreg, ek spog ook nie oor hierdie besige roetine nie, ek het net geweet ek behoort hieroor te skryf, presies nou. Veral toe ek gisteroggend vir die sewende keer hierdie week by Dros se verkeerslig die rooi lig tref en vaskyk in dieselfde boemelaar se jammergat gesiggie. Nee, ek kyk nie anderpad nie, ek kyk vir hom, en ek maak terselftertyd my nekkie lekker styf. Verstaan my baie mooi, ek is nie harteloos nie – ek was vir maande simpatiek teenoor hierdie boemelaar. Hoe anders met sy leeragtige vel, daardie vaal, olierige hare, verslete klere en voetbedekkings wat jy skaars ‘skoene’ kan noem. Ek het innig jammer vir hom gevoel, vir almal van hulle, vir baie lank, totdat ‘n plaaslike sakeman my eendag vertel het van die herhaaldelike, mislukte pogings van verskeie besighede om allerlei werkies te bied aan hierdie mense. Sedertdien wil ek eintlik net oor hulle almal se vuil groottone ry, want hulle maak my vies.
Om te werk, soos die res van ons, wil hulle nie, dis te vermoeiend, hulle verkies om verbygaande motoriste stip in die oë te kyk met mismoedige ogies, nes DBV-hondjies, en te bedel vir aalmoese.
Moet my nie verkeerd verstaan nie – ek is doodseker daar is miljoene mense wat baie harder werk as ek – ‘n onlangse artikel op Netwerk 24 berig dat die Japannese nou kwansuis beweer dat mense regtig kan doodgaan van te veel werk. Hulle het selfs ‘n woord geskep daarvoor, “karosji”, en hulle sê dat Japannese wat tot soveel as 90 ure per week werk, regtig kan doodgaan van te veel werk.
Die naaste wat ek nog ooit aan doodgaan van werk gekom het, was in standerd 9 tydens ons hoërskool se swemgala. In ‘n klein skooltjie soos Warmbad, het jy nie veel van ‘n keuse nie – jy hardloop vanselfsprekend langafstande as jy onder 55kg weeg, en jy neem ononderhandelbaar deel aan die interhuis swemgala, of jy nou wil of nie. Daar was niemand in my bokspan wat daardie Donderdagmiddag bereid was om vier lengtes borsslag te swem nie, so die voorreg was myne…
Ek is ‘n kranige tennisspeler met ‘n dodelike voorhandhou, maar as dit by swem kom, lyk ek presies soos Eswee se pragtige Duitse Herdershond, Mia, wanneer sy teen haar wil in ons swembad beland. Ek weet tot vandag nie hoe ek daardie vier lengtes klaargemaak het nie. Met die res van die swemmers so ‘n hele lengte voor my, kon ek êrens, in die verte, mnr Drotsky, die Duitse onderwyser, se diep stem hoor…”Sweeeeem”, het hy gebulder. “Sweeeem…”
Daardie aand was ek te moeg om te gaan slaap. Ek het met stokstywe oë penregop voor die televisie gesit en niks gesien of gehoor nie. Maar ek het dit oorleef. Net-net.
Doodgaan van werk? Ek weet darem nie, ek onthou glashelder ‘n gesprek een aand met my ma, daar in die “tiekieboks” van Jasmyn, toe ek moes deurnag voor ‘n groot eksamen. “Niemand het nog ooit doodgegaan van te veel werk nie”, het sy my so bietjie onsimpatiek aangemoedig…
Party dae, soos Vrydag, wanneer dit voel of ek my hele maand se kwota woorde en voetslae in een week moes inpas, dan dink ek aan die suksesvolle entrepreneur, Elon Musk, se woorde: “Maak nie saak hoe hard jy werk nie, iemand anders werk harder.”
Ek dink aan my ma en hoe sy destyds, klokslag, die eerste aand na haar chemoterapie, al haar swemtannies gebel het. “Gee my twee dae”, het ek haar altyd moeg hoor sê. En twee dae later was sy moedig terug in die water met haar wateraërobiese lede. Ek weet dis die rede waarom ek nog nie een oggend gekla het om vyf oor vier op te staan nie, en waarom ek steeds 13 klasse per week met liefde wil aanbied.
Dit laat my so bietjie dink aan ‘n staaltjie van die predikant Kobus Koch, in “Die groot boek van illustrasies van die lewe”. Hy skryf: “Ek het eenkeer ‘n bejaarde evangelis gevra wanneer hy van plan is om af te tree. “Die duiwel het ook al vir my gesê ek word nou oud, dit word tyd vir aftree”, het die evangelis met ‘n glimlag gesê. “En wat sê jy toe vir die duiwel?”, wou ek weet. “Toe sê ek vir hom: “Duiwel, jy is baie ouer as ek en jy werk dan nog so hard…”
“The destiny of those who write their dreams with the ink of their sweat, is never empty”, het die Indiese filmvervaardiger Sachin Ramdas onlangs gesê. Ek kan vir jou lank besig hou met staaltjies oor hard werk wat ek elke liewe dag in ons studio beleef…Ek wil nie te veel weggee nie, want ons prysuitdeling moet nog gebeur, en niemand weet wie hierdie Challenge gaan wen nie, behalwe ek. Maar ek het in hierdie paar wekies opnuut gesien – ses weke is nooit te kort om resultate te sien nie, mits jy bereid is om te werk, nee te WERK, met HOOFLETTERS.
Wat ‘n voorreg vir my, om harde werk elke dag te sien en te beleef – dis daar, in ons studio, in elke instruktrise wat op ons verhogie klim, in vroue uit soveel verskillende suksesvolle beroepe, wat oefen ‘n prioriteit maak in hul werksdag en in vroue wat persoonlike uitdagings, beserings, en krisisse oorbrug, en steeds kom oefen. Ek ervaar dit in Schalk se stille toewyding en in Eswee en Mariné se ongelooflike passie vir die lewe. En elke stukkie daarvan vuur my aan.
“The privilege to work is a gift. The power to work is a blessing. The love of work is success”, het die Amerikaanse opvoeder David O McKay jare gelede gesê.
Amen en Hallelujah, sê ek hierop, en jubel luidkeels op hierdie Sondag saam met CJ Langenhoven: “As ek (ook) die begeerte mog waag, sou ek dit graag so wil hê dat as die engel wat my kom haal huis toe, my daar sal bring met die verslag: “Ek het hom (en vir haar, Mirna) by die werk gekry.”
Mirna
082 779 0507
6 comments to “Werk, werk, werk…”
Wow Mirna, jy is en bly nou maar net ‘n Ystertjie !
Jou Mamma sou verseker baie trots gewees het!
Dankie Rethia! Ek glo sy sien alles!
I’ve never seen an energetic and so dedicated person like you Mirna, you really are an inspiration to me, you make me go forward even if I feel like quitting, you are the best and you deserve my Salute🙏🙏
Thank you, Susan! This means the world to me!
Werk, werk, werk. So baie kere is ins nie lus om te gaan werk nie maar ons staan op en gaan werk want ons is gelukkig en bevoorreg om werk te hê!
Dis verseker, liewe Trudie! Groot voorreg!