Om mooier te kan kyk

“Kyk net mooi”, het my ma destyds gemaan toe ek en Delien gedurende die week die besige Kerkstraat in Pretoria moes oorsteek oppad na die bushalte.  Die munisipale bus het ons elke dag net ‘n paar meter van Affies se hoofingang af- en opgelaai.  Ons het in Colbyn gewoon, en daardie styl entjie se opdraande stap op warm dae na skool is nie een van my aangenaamste onthou-dinge nie.

Maar, dis die lekker van herinneringe – vandag onthou ek net die lekker kere, daardie af-en-toe byvallertjies toe die pienk dubbeldekker bus ons opgelaai het – dan het ons bo gaan sit en die wêreld uit die hoogte bekyk terwyl die bus snork deur Sunnyside se verkeer…

“Kyk mooi na jouself, baby, baby”, sing Karen Zoid.  “Kyk mooi na jouself”, preek Hannon op Glam Guru. “Kyk net mooi”, sê ek elke keer vir almal wanneer ons Challenge begin – daar’s altyd ‘n paar ekstra puntjies verskuil in my weeklikse nuusbrief, Blog of motiverinsvideo’s.  En.  “Kyk net mooi”, pleit ek wanneer die stepklas se passies almal se voete laat knoop…

Hierdie jaar hou ons dinge eenvoudig in ons “New Year Challenge”, want almal is besig.  Daar’s geen ekstra druk van Mini-Challenges nie, nee, almal moet net hul 24 sessies voltooi in die ses weke en hul 6 persoonlike doelwitte heeltyd onder oë hou.

Ek het self ook ‘n vormpie ingevul so in die stilligheid, en een van my ses doelwitte is dat ek regtig so bietje mooier wil kyk in 2022.  Ek dink dis oor Steve se Facebook-plasing in Desember.  Luister net wat het hy geskryf: “As jy werklik kyk, gebeur daar dinge om jou.  Pal.  Dis die engele se toi-toi op jou sintuie.  Dis God se betere gesante in jou lewe…”

Om mooi te kyk, gaan nie net oor raaksien nie.  Dit voel eerder vir my dis ‘n manier van kyk wat hoop bring.  Die Engelse skrywer, Aldous Huxley, het ‘n baie mooi beskrywing hiervoor – “the art of seeing…beyond the obvious.”

Ek het besluit, óf ek kan elke oggend verby die Petdam ry en sug oor die aaklige besoedeling, óf ek kan my kop links draai en my oë streel met die lowerryke wilgerbome langs die Sport-In met hul diepgroen wat nooit ophou nie.

Die bekende Amerikaanse onderhandelingsdeskundige, Herb Cohen, het onlangs gesê: “Ek en jy sien nie dinge soos dit is nie.  Ons sien dinge soos ONS is…”  Ek kan gal braak oor die slaggate of die maan soek terwyl ek studio toe ry. 

“Kyk jy om jou rond, sien jy dan die son? Of soek jy agter alles na die skadu op die grond?  Dit maak nie regtig saak of dit waarheid is of nie…Dis hoe jy dit sien.  Hoe mooi kan jou lewe lyk, dis maar hoe jy kyk, jy is net so ryk, so ryk as wat jy voel”, sing Elvis Blue in sy lied “Mooi”.

Die sterre is elke aand hier, maar meeste van die tyd sien ons net sulke kolletjies.  En die maan, ons vergeet, dis nie net daai plat ding in die lug nie.  Hoe lyk hy vir jou?  Wanneer laas het jy mooi na hom gekyk?  Want soms is hy ‘n sluier-sluier sekel, en ander kere ‘n volronde bal wat als verlig.

En die son?  Ek weet hy’t sy lyf skaars gehou by ons hierdie somer, en nou die oggend na klas was sy lig so verblindend skerp dat Ina en Leonie in mekaar vasgery het, maar tog kom daardie vuurbal getrou elke oggend betyds op, met ‘n belofte van nog ‘n dag aan ons geskenk.

As ek sê dat ek bietjie mooier wil kyk in 2022, dan wil ek net weer bietjie fyner na alles en almal om my kyk – die energieke atmosfeer in die studio indrink, die kleur en geur van my Alta Rica koffie waardeer, die lirieke van ‘n mooi liedjie opsoek en neerskryf, die aanhaling in my 2022-dagboek elke dag raaklees.

Ek wil seker maak dat ek in verwondering leef, met genadige, sagte oë kyk, van naby, en nie uit die hoogte soos in ‘n dubbeldekkerbus nie.  Want dis nie ons reg om te sien nie, dit bly ‘n geskenk. 

“Change the way you look at things and the things you look at change”, het die Amerikaanse selfhelpskrywer Wayne Dyer jare gelede al gesê.

Mag ek en jy hierdie jaar verwonderd raak en mooi kyk. Minder veroordelend na mekaar, en meer vergewensgesind na onsself kyk.  Mag ons die sonsondergang raaksien aan die einde van ons dag, hoop hê vir ‘n sonsopkoms en ‘n beter môre en mag ons werklik elke oomblik van lig koester!

Ek en jy kan dalk nie die wêreld om ons verander nie, maar ons kan verander hoe ons die wêreld IN onsself sien.

Hê ‘n wonderlike eerste week in Februarie, kyk werklik, laat die engele toe om op jou sintuie te toi-toi, en onthou:

“Nature happens, but sometimes, if you’re not told just how special it is, you take it for granted. The same can be true with people.”
– Julieanne O’Connor

Mirna

082 779 0507

Has one comment to “Om mooier te kan kyk”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Rethia says:

    Hosea 6:3
    “Hy kom verseker weer…
    Ja, net soos die son elke oggend!”