“Who can live without it? I ask in all honesty, what would life be, without a song or a dance what are we?”, het Abba nog heeltyd gevra.
Musiek… Musiek maak die lewe beter. Musiek maak als beter. As musiek begin speel weet ons die oefenklas het begin. As musiek begin speel, kan ons saamsing, lekkerder oefen en uithou vir nog 16. En as musiek begin speel kan ons onthou, verlang, hoop en droom.
…Vrydagoggend net na stepklas lui my foon. Dis Dannhauser, my matriekmaat van Warmbad. “Ons moet weer reünie reël”, sê hy. “Maar, dis nie hoekom ek bel nie – het jy gesien Abba is terug, na 40 jaar?!” Ek het. Dis ongelooflik…
Dis `n groot ding vir ons! Tierlik is dit! In daardie hartseer jaar van 1982, toe die immergewilde popgroep ontbind, was ons in standerd 8. Ek het regtig al Abba se langspeelplate en kassette besit. Elke liewe sent van my spaargeldjies daarop verkansel. Ons het op Abba gedans by sokkies, Abba geluister wanneer ons verlief was, troos gevind in Abba wanneer ons harte seer was, Abba geneurie oppad skool toe op ons fietse en Abba geluister heelpad op die bus na Pelgrimsrus se veldskool. Daarom het dit daardie dag, toe Abba amptelik hul laaste treffer, “The day before you came” vrystel, gevoel soos dood in die familie…
En tog het hul musiek tydloos en lewend gebly, veral danksy die twee “Mamma Mia” flieks. Sommer net laasweek het ek weer `n Abba-mix aanmekaar geslaan vir een van ons klasse, en selfs Eswee en Mariné, wat jare na die Abba era gebore is, het nog nooit hul neuse opgetrek vir `n Abba-cd wanneer ons braai nie.
My ousus Delien was die eerste een wat die groot Abba-nuus Vrydag gedeel het. Ek kon my oë nie glo toe ek op die “link” na die YouTube-video kliek nie. Hoendervleisoomblik soos min, pappie! Ek bedoel, daar was Agnetha, Bennie, Bjorn en Frida, op die verhoog in Londen, nie `n dag ouer as tydens hul laaste vertoning nie. My mond het oopgehang – waar WAS hierdie mense vir 40 jaar? Gevries in `n tydkapsule? Of het hul êrens dubbelgangers uitgekrap?
Nee, toe nou nie. Hierdie jong Abba-lede wat hul nuwe treffer “I still have faith in you” met soveel oorgawe sing, is “Abba-tars” – hologramme wat lyk soos die ware Jakob en die wêreld van voor af aan hul voete het. Vanoggend is die groep se twee nuwe treffers reeds 10 miljoen keer gekyk op YouTube, en albei liedjies het binne `n dag die top drie van iTunes se trefferparade gehaal.
Blykbaar het Simon Fuller, bestuurder van die Spice Girls, met die plan na vore gekom om digitale kopieë van die vier groeplede te maak en `n virtuele vertoning op die planke te bring. Behalwe vir `n paar skeptiese suurknolle wat sê dis “has beens”, lyk dit of Abba die hele wêreld van voor af in vervoering het…
“Abba saved 2021”, “You saved my life”, “I`m crying with happiness and hope right now”, is van die kommentaar wat oorstelpte aanhangers sedertdien op die groep se sosiale media platforms geplaas het.
Jip, die lewe voel regtig skielik sommer lekkerder. En beter. En meer hoopvol! Nie net is dit heerlike lente 2021 nie. Ons het dit gemaak. En Abba is terug! “Dankie vir die wag!”, skryf die vier op hul webwerf. “Die reis gaan begin…”
“Hoop is `n droom wat aanhou al word jy wakker”, het Burre Burgers onlangs op Facebook gesê. Ek wonder hoe lank droom die Abba-lede al van `n groot reünie. Hier het hul nou mooitjies kom wys dat `n mens MOET droom. En DOEN. Al is jy bang.
Dis wat Glennon Doyle, die bekende Amerikaanse topverkoper gedoen het toe sy op 40-jarige ouderdom haar eerste boek geskryf het. “If you can`t beat fear, do it scared”, is `n aanhaling van Doyle waarmee ek self ook al dikwels identifiseer het.
Ek kyk die afgelope paar weke so na die dapper atlete by die Paralimpiese Spele in Tokio en kan nie help om sommer net skaam te kry nie. Ek dink aan Anruné Weyers, ons goue medalje wenner in die 400 meter by die Spele `n paar dae gelede. Het jy geweet dat dié gestremde 28-jarige glansatleet in 2012 in Londen `n silwer medalje gewen het en in 2016 in Rio tevrede moes wees met brons?
En steeds het sy, beperking en al, nooit haar goue droom laat vaar nie. Jy moes teen dié tyd ook gehoor het van Ibrahim Hamadtou, die verbysterende tafeltennisspeler wat, sonder hande, sy teenstanders aanvat met die raket in sy mond! Op 10-jarige ouderdom het Hamadtou sy hande in `n treinongeluk verloor. Dit was 38 jaar gelede. En hier is hy nou, op 48-jarige ouderdom, steeds besig om sy Olimpiese droom vlerke te gee.
Elke een van daardie gestremde atlete by die Spele moes êrens in hul lewens vir die heel eerste keer moed bymekaar geskraap het om met een been ver te spring, met `n lam onderlyf `n tennisraket vas te hou, sonder sig `n 400m te hardloop of armloos in `n swembad te klim en rugslag probeer swem.
En dit, terwyl hoeveel van ons, duisende blakende gesonde mense, dit om die dood nie eens kan regkry om `n hele week van Maandag tot Vrydag te gaan oefen nie…
Die vier Abba-lede is vandag, op hierdie Sondag, onderskeidelik 76 (Bjorn), 75 (Anni-Frid), 74 (Bennie) en 71 (Agnetha). Kan jy jou indink hoeveel moed dit moes verg om hierdie mal, groot projek aan te pak?
“The death of a dream is the day that you stop believing in the work it takes to get there. Beginning is scary, exciting, terrifying, and all things amazing. Begin even when you’re not sure…What do you have to lose?”, het motiveringspreker Chris Burkmenn onlangs op Instagram gevra…
Mag jy hierdie somer moed hê om te dans in die reën, te soek vir die reënboog, en nooit ophou droom nie. “Ek wil hê jy moet ook saamsing as musiek begin speel”, soos Karen Zoid sing. En DOEN. Want as jy dit kan droom, dan kan jy dit doen.
Maar, dalk beter nog, moet ons nie eens wag vir die musiek voor ons begin droom nie, want dikwels is die mooiste drome daardie stemmetjies in ons kop. Ons moet net fyner luister. En dan. DOEN.
In die woorde van Hiral Nagda: “Chase that passion which lights up your soul like a billion stars.”
082 779 0507
Has one comment to “As musiek begin speel…”
Bemoediging, motivering, aansporing
Dankie Mirna – altyd inspirerend
Xxx