Ek dreig al maande om hieroor te skryf, en elke week duik iets anders op. Noudat ons Challenge vir eers verby is en die Augustus-winde hopelik besig is om die ysige winter se laaste stuiptrekkings weg te blaas, kan ek net sowel bietjie keel skoonmaak.
Kyk, hierdie is nie `n reg-of-weg skrywe nie – dis sommer `n persoonlike selfoon voorkeur-ding. Verskillende dinge irriteer mos darem verskillende mense. Ek dink as dit kom by stemboodskappe, is dit `n Marmite-ding: Of mense hou daarvan, of hulle haat dit. Meeste van ons verpes irriterende luitone en mense wat kliphard in die openbaar selfoongesprekke voer. Ek weet André kan emoji-gesiggies in `n WhatsApp-boodskap nie verdra nie, Schalk haat `n WhatsApp-oproep, en ekke?
Daar is `n hele paar WhatsApp-gewoontes wat my nogal kan irriteer. Moenie verkeerd verstaan nie, ek gebruik ook verkortings en emojis, ons is mos maar almal so bietjie uitgelewer aan selfoon-Afrikaans, maar daar is n paar goed wat my dwars in die krop steek. Sekere sinne laat my hare rys: “Eke wil jule net herrinder dat ek nog op soek is na sulke stoel. Dus nie in die winkels nie, alles wat ek kry is heentemal verkeerd. Enige hulp sal wardeur word…”
Verder haat ek dit as iemand `n vraag antwoord met `n “K”. Dit klink altyd soos`n halfhartige “okei”, en dan is ek sommer klaar spyt ek het gevra.
Maar die ding wat ek eintlik vandag wil ophaal is die “M”-woord ding. Moet dit asseblief nie persoonlik opneem as jy hierdie vandag lees en skuldig is aan die wandaad nie – dis dalk net ek wat so voel, in die hele wye wêreld…wie weet?
Ek het `n kleintjie dood aan iemand wat my “M” noem…
Noem my dan liewer niks, maar M? “M” klink soos die hoekie vir eensames se “M” – ek is “M” van Malelane, `n maklike, mooi moeder van twee met min moeilikheid…Ag nee, siesa.
Die woordeboek sê “M” staan vir miscellaneous. En dis die laaste ding wat ek genoem wil wees. “Miscellaneous” laat my dink aan Cruella DeVille in 101 Dalmations…Te haastig vir vol sinne, sê jy? Hoeveel millisekondes ekstra sal dit neem om die “irna” na die “M”” te tik? En as jy dan regtig nie tyd het om `n boodskap te tik nie, stuur `n stemboodskap. Maar `n kort een, nie `n twee minuut-lange monoloog nie, jy`s mos besig, onthou? En ek ook.
So, nee, noem my Mir, of Mirries, of Mirns, of Mirna, nog beter! Want `n naam, `n mens se naam, is `n groot ding. Dis soveel meer as net `n naam. Dis die essensie van jou identiteit, dit sê wie jy is, waarvandaan jy kom en tot wie jy hoort.
Honderde jare gelede het Shakespeare se Juliet al gevra: “What`s in a name? That which we call a rose by any other name would smell as sweet?” Dalk het Shakespeare bedoel, al noem jy dit `n kakiebos sal dit steeds lekker ruik…?
Net so bly `n joernalis seker ook `n joernalis, al noem jy hom `n aasvoël. En net so bly `n hond ook net `n hond, al noem jy hom “Tobie”. En ek weet, ek bly seker nog steeds “Mirna”, al noem jy my “M”. Maar nogtans!
Oor `n mens se naam voel ek soos die Amerikaanse skrywer Dale Carnegie dit beskryf in sy boek “How to make friends and influence people”: “A person`s name is to him or her the sweetest and most important sound in any language.”
Jy kan enigeen van my lede vra, ek ken regtig elke liewe lid in my klub se naam. Jonk, oud, nuut, wit, bruin en swart. Ek kan elke dag elke een op hul naam groet en elke liewe een se naam reg spel. Met die vanne raak ek soms nog bietjie deurmekaar, soos my twee Thandi`s wie se vanne boonop albei met die letter “M” begin! Gelukkig oefen een in die oggend en een in die midddag…
En wanneer ons `n Challenge hou en die lede moet `n plasing deel en stuur vir `n ekstra punt, sal ek dit nooit beantwoord met `n “dankie B”, of `n “thank you K” nie. Ek sal liewer `n dag wag tot daar tyd is om te sê dankie Bianca” of “thank you Khanyi”. En as daar regtig nie tyd is nie, maak ek seker elke lid kry op daardie dag presies dieselfde drie emojis ❤️ ❤️ ❤️…
`n Ou Japannese spreekwoord lui: “Tigers die and leave their skins; people die and leave their names.”
Hitler. Florence Nightingale. Martin Luther King. Mother Teresa. Mandela. Juliet. Jan van Riebeeck. Soveel krag opgesluit in elke naam. En Jesus. Die Naam Bo alle Name.
Vandag, in 2021, is daar 7.9 biljoen mense op die aarde.
Dis 7,900,000,000 name.
Ek is een van hulle. Mirna, afgelei van die Slawiese element, mir. Dit beteken blykbaar “peaceful.”
En die woord “naam”? Dit kom van die Germaanse woord “namo” en word verduidelik as “memoriam”.
So, ek en jy – in elkeen van ons se naam lê veel meer opgesluit as ons lengte, ons gewig, ons skoengrootte, waar ons gebore is, wie ons liefhet, of ons allergies is vir graan, of ons lief is vir oefen en of ons gunsteling rolprent “Jerry Maguire” is.
Jou naam is soos `n “memorial” vir jou geaardheid, jou karakter, jou sterk- en swakpunte.
Ek hoor iemand sê: “Ja, maar my ma en pa het my die naam gegee”. Mag so wees, ek en jy is steeds fyn beplan deur die Groot Skepperhand, en jou naam, jy, ek, ons, is nie sommer net nie. Nie een van ons is gemaak en sommer laat staan nie. Jou naam praat van potensiaal en groei en verander om ALLES te word wat in jou naam opgesluit lê…
Ek sal nie vir jou kwaad wees as jy weer die “M”-woord sê nie. Ek sal net `n groot, vet ❤️ stuur as jy my liewer “Mirna” noem.
En ek dink Lucy Maud Montgomery slaan die spyker reg op die kop in “Anne of Green Gables” as sy sê: “I read in a book once that a rose by any other name would smell as sweet, but I`ve never been able to believe it. I don`t believe a rose WOULD be as nice if it was called a thistle or a skunk cabbage…” Jammer, Shakespeare.
Woorde open wêrelde, het iemand onlangs op Netwerk 24 geskryf. Droom wêrelde. Hartswêrelde.
En name? Hulle doen presies dieselfde…
So please, say my name, because somehow hearing my name
Coming from your lips,
Makes me feel a lot more special,
than I really am…
Mirna
082 779 0507
PS (Volgende week skryf ek nie `n Blog nie – dan is my mooi kuikens vir die eerste keer in vier maande weer onder een dak, en ek gaan elke minuut daarvan moet indrink!)
2 comments to “Die “M”-woord”
Geniet ek dit nou!!!
Dankie Minette! Dis so lekker om weer bietjie saam jou te kan oefen!