Klink dit vir jou of ek `n sinsfout begaan het met hierdie vreemde opskrif? Nee, ek het dit mooi bedink. Eintlik gegaps van die Amerikaanse aktrise, Ellen Burstyn, wat onlangs gesê het: “What a lovely surprise to finally discover how unlonely being alone can be.” In Afrikaans klink dit iets soos – wat `n wonderlike verrassing om te ontdek hoe nie-alleen-nie alleen kan wees,
Sjoe. Dis `n mondvol, en heeltemal makliker gesê as gedaan. Die alleen oefen is iets waarmee al my lede nogal gestoei het die laaste twee weke. Behalwe nou die spulletjie wat sedert Mei verlede jaar al lekker saam oefen op Zoom.
Vir my was daar elke dag hierdie week so `n warm gevoel om die hart om te ervaar hoe meer as 25 lede die een na die ander, sessie na sessie, getrou, en met `n dapper glimlag, die Zoomklas binnekom. En tog het ek dit hierdie week self ook intens ervaar – die alleenheid.
Dit het Vrydagoggend nogal `n hoogtepunt bereik, toe ek die springtou-Challenge vir die week wat kom moes opneem. Ek het my breedste glimlag opgeplak, my warm baadjie uitgetrek en die nuwe Challenge aanmekaar geslaan. En toe, met net Lucas Graham se “Happy for you” en die springtou se getsjwier-tjswier in die eensaam studio saal en `n minuut wat voel soos tien, het ek geweet ek moet seker maak dat ek hierdie week weer `n slag my Afrikaanse hart op papier sit.
Meer as een van my oefenmaats het die afgelope week al laat val hoe hul die saam oefen in die studio mis. Dit gaan oor meer as die oefen – dis die kameraderie van saam steun en kreun en giggel en oogkontak en saamwees. Die mens is nou maar eenmaal gebore om tussen ander te wees, en dis waarom hierdie 472ste dag van grendeltyd so bietjie sy tol begin eis.
Kyk, daar is uitsonderings – my ousus Delien floreer op hierdie van die huis af werkery, en sy is op haar gelukkigste voor haar rekenaar, haar legkaarte, haar stokperdjies en omring deur haar 4 kattekinders.
Dalk is dit waarna die skrywer Steven Aitchison verwys as hy sê: “Being alone has a power that very few people can handle”. Die coronavirus-era het verseker die wêreld `n eensamer plek kom maak, maar eensaamheid was laaaank voor die virus al `n probleem! En dit sal steeds een wees laaaank na die vermetelde pestilensie weer in sy donker hool verdwyn het.
Het jy geweet dat Brittanje in 2018 `n minister van eensaamheid aangestel het? Japan het kort daarna dieselfde gedoen. Wat probeer ek sê? Dat eensaamheid veel verder strek as Covid-slagoffers wat nou in hospitaalsale geisoleer is, weg van die genesende arms van geliefdes.
Eensaamheid het jare gelede vir Albert Einstein gedryf tot dié uitlating: “Dit is vreemd om so alombekend te wees en tog so eensaam.” Dis eensaamheid wat Elvis `n paar weke voor sy dood laat bieg het teenoor `n joernalis: “I am as lonely as hell…”
In 1985 ontdek ek op my koshuislessenaar in Jasmyn dié woorde uitgekrap: “Hoekom is ek so eensaam al is hier tweehonderd mense om my…?” Vir baie lank daarna het ek gewonder oor dié ongelukkige inwoner van my geliefde koshuis. Wat was haar storie en die seer agter haar alleenheid?
Ek dink nie ons wat nooit regtig die emosie van eensaamheid intens ervaar het kan dit mooi verstaan nie, ek weet net dat mens meer bewus is daarvan vandat Covid sy lêplek kom kry het. Ek hoor en sien hoe kinders hunker na die klaskamer, die sportveld, na partytjies. Enkele dae na die Bokke weer op die veld kon draf is hul wedstryde weer van die baan. Op Facebook skryf Steve Hofmeyr: “Ek mis `n skaapbraai met my mense en `n groot boer wat `n yskoue bier in my hand kom stop.”
Vrydagoggend bel Thabile my van die huis af, snikkend soos `n baba: “I lost my mom, mam.” Sy het verlede week haar suster begrawe. `n Weerlose, huilende Thabile wag my in – ek wil haar omhels en styf teen my vasdruk, maar ek mag nie.
En ek dink dis daardie teenstrydigheid wat ons almal vang – daar is hierdie natuurlike instink om saam te koek, vir derduisende jare is die mensdom so gekondisioneer – veiligheid kom van die groep af. Maar weens die aansteeklike virus mag ons nie.
Ek het vanoggend die week se skedule, Challenge brief en motiveringsvideo’s uitgestuur soos elke ander week, terwyl my maag bietjie draai oor wat die President vanaand gaan sê. Gelukkig weet ek ons kan voortgaan, danksy ons Zoom platform.
Ek wil vandag `n positiewe boodskap uitstuur, ook nes elke ander week, en die eensaamheid wat party dae daar in die leë studio aan my binneste kom vatplek soek besweer. En die maklikste manier om dit te doen, is om net weer behoorlik eers my seëninge tel. My gesin is gesond, al my familielede met Covid is besig om vinnig gesond te word, ek is beseringvry, ek kan klasgee. Eswee en Mariné was lanklaas by die huis, maar ek ken hulle stemmetjies, dit gaan goed daar.
Ek kan nie help om so bietjie lekker te kry oor Zuma wat sy Vodacom nou vir `n Cell C moes verruil nie… 🙈, lekker alleen. My hart gaan uit na elkeen wat op hierdie stadium die virus se plettervat ervaar. Maar ons kan nie opgee nie. Ons mag nie.
Hierdie week gaan ek die alleen omblikke sien as “solititude”, nie “loneliness” nie, soos die filosoof Paul Tillich dit honderde jare gelede al beskryf het in sy boek “The Eternal Now”. Luister net hier:
“Our language has wisely sensed these two sides of man’s being alone. It has created the word “loneliness” to express the pain of being alone. And it has created the word “solitude” to express the glory of being alone.”
Wanneer ek myself wil-wil jammer kry oor die alleen oefen in die studio gaan ek myself net bietjie knyp en herinner dat daar tydens elke klas `n spul mensies is by die huis wat vir my wag om die Zoom-ontmoeting te begin.
En tot tyd en wyl die studio weer kan oopmaak en ons weer luidkeels en lekker kan saamoefen, gaan ek Mandy Hale se woorde ter harte neem en die beste maak van die alleentyd:
“If you learn to really sit with loneliness and embrace it for the gift that it is…an opportunity to get to know YOU, to learn how strong you really are, to depend on no one but YOU for your happiness…you will realize that a little loneliness goes a LONG way in creating a richer, deeper, more vibrant and colourful you.”
Nie-alleen wees in die alleen. The glory of being alone.
Mirna
082 779 0507