Dis asof die geel eendaglelies in ons studio se tuin my gereeld herinner aan my ma. Nes Moedersdag. Net sodra ek dink die heel laaste heldergeel lelie van die somer het ons vaarwel toegeroep, dan skaterlag daar nog `n laaste, kordaat enetjie. En nes ek dink die herinneringe aan my ma begin vervaag, dan gebeur Moedersdag…
“Dis `n gemors as mens se ma dood is”, het `n jong meisie `n paar jaar gelede in haar Blog “Koue vuur” geskryf. My mammie sou hierdie jaar haar 80ste rotasie om die son gevier het. Ons het haar 25 jaar gelede al gegroet, en dit bly maar `n seer en leegte wat woorde nie kan vasvang nie.
Ek dink aan Karen Zoid, wat op 9-jarige ouderdom haar ma aan kanker verloor het. Onlangs sê sy aan Jak de Priester op “Reis na gister”: “Ek hoop dat my seun eendag sal sê, `My ma is okei. Ek is bly sy was my ma.’
Dis maar wat ons almal wens die dag as jy `n ma word. Vroeg vanoggend reeds het ek op Facebook die pragtigste huldeblyke aan mammas gelees. “Hoe mis ek mamma in als wat ek doen, als wat ek is, elke dag, nie net op Moedersdag wat so moeilik is nie,” skryf Izelde. “Gelukkige Moedersdag aan die beeldskone, liefdevolle, spesiale awesome mamma van my”, skryf René vir Stacey.
Sjoe, ja. My Moedersdag het Vrydagmiddag gebeur met die mooiste bos rose en boodskap van die twee blondies: “Baie lief vir mams. Gelukkige Moedersdag.” En `n oproep van elkeen van hul deur die loop van die oggend. Is dit nie wonderlik dat Liewe Jesus ons kinders so aanmekaar gesit het dat hul glo hul ma is die mooiste ma op die hele aarde nie? Wat `n voorreg.
Elke kraai dink mos sy eier is die witste…Hiehie, tot groot vermaak van my Afrikaanse juffrou en my hele gesin het ek in standerd 7 die idioom só voltooi in `n klastoets: Elke kraai dink….sy kuiken skree die hardste. Hoe moes ek weet? Daai een was nie in die handboek nie en my algemene kennis was nog altyd bietjie onder verdenking. Min het ek toe die waarheid agter daardie eenvoudige ou idioompie verstaan…
Want, nes ons vas glo dat ons eie kinders die netjiesste inkleur, die soetste is, die beste redenaars praat en die mooiste lyk die dag van hul matriekafskeid, so glo meeste kinders gelukkig ook dat hul ma`s die wonderlikste wesens op die aardbol is.
Ek dink dis waarna die Ierse skrywer, Anna Carey, verwys as sy skryf: “In a child`s eye, a mother is a goddess. She can be glorious or terrible, but she commands love either way. I am convinced that this is the greatest power in the universe…Motherhood.”
Ek het die naweek my ma se troualbum deurgeblaai, en sommer van voor af geswymel.

Beeldskone wese. My Marilyn Monroe. My Chrissie Evert. My heldin. My ma. Ons ma. Ek het altyd gedog mens bly `n ma tot die dag wat jy jou kop neerlê, maar ek was verkeerd – ma-wees hou nooit op nie. Dis `n titel wat jy altyd saam jou dra…
Vanoggend ontdek ek `n brief van die bekende Elsabe Steenberg, aan haar beste vriendin, waarin sy haar hart deel oor moederskap:
“Die gedurige gevoel van onbevoegdheid, dat jy soveel foute begaan, so feilbaar is – en dan ook weer so uitverkore om desnieteenstaande die taak te màg opneem. Hoe interessant, maar ook benouend, is ’n kind se grootword en ontplooiing – die trekke van jouself wat jy met skrik herken, en soveel wat as absoluut uniek in hom saamgevoeg is om hom enig te maak”
“Maar voel ’n mens weer ’n slag die ou donskoppie teen jou wang of kry ’n yslike glimlag present, dan is alles die moeite werd!
Ek is vandag vir die soveelste keer moederloos op Moedersdag, maar dis vreemd hoe mens jou mamma raaktrap in gesprekke, soms in die mees onverwagse, kleinste dingetjie wat iemand sê…
Ons is op die vooraand van ons groot 12-week Winter Challenge, en daarom dink ek nie hierdie scenario wat om die afgelope week afgespeel het, was toevallig nie…
In die week noem een van my oefenmaats: “Ek het Petro٭ raakgeloop en gevra hoekom sy nie meer oefen nie, maar sy sê haar kop is nog nie reg nie…”
(٭Ek gebruik sommer `n fiktiewe naam, maar wie weet, dalk lees `n regte Petro wat hierdie Bloginskrywing broodnodig het, dit sommer ook)
…Altyd, wanneer iemand sê, “my kop is nie reg nie”, dan dink ek aan my ma. Aletta Gertruida Eloff, Lettie, ons ma, het geglo daar bestaan nie so `n ding nie. Of liewer, sy`t geglo as dit van jou kop alleen afgehang het, het jy niks vermag nie.
Waarskynlik is dit waarom sy nooit onder chemoterapie gebreek het nie – drie dae na elke stewige chemo sessie was ons ma terug in die water saam met haar water aërobiese lede, op haar pos, in die warm son, langs die groot swembad in Aventura saam met haar swemmertjies.
Ek onthou hoe sy altyd planne gemaak het vir `n ekstra geldjie jare na sy nie meer skoolgehou het nie – leer belde gemaak en waterverhittingstoestelle bemark. `n Spreuke vrou. `n Ware entrepreneur, wat haarself agteroor sou buig vir haar kinders. Onvoorwaardelik. Ek onthou die her-brei van my knoeiserp in naaldwerkklas, die sit vir ure in die yskoue gimnstieksaal in Vanderbijlpark terwyl sy op haar tande byt van wintertone-pyn. Die elke-Vrydag Pretoria toe ry van Warmbad vir tennis-afrigting en ure en kilometers vir toernooie.
Ons ma het geglo as jy gaan wag tot jou kop reg voel om `n ding te doen, gaan jy altyd wag. En ek glo met my hele wese daardie stukkie waarheid het sy ook in ons kinders ingeprent… Ons ma was nie perfek nie, maar sy was vir ons alles, en nog meer. Ons ma het geglo, jy dink jou kop reg, en vinnig ook.
Ek dink baie daaroor wanneer ek oud-lede raakloop en hoor, `ek wil terugkom studio toe maar my kop is nog nie reg nie`. Wat beteken dit in elk geval om te sê jy moet eers jou kop regkry? Huh? Jy kan jou knieë nerf-af bid, olietjies aan jou slape smeer en al wat `n dieet op jou yskas plak. Man, jy kan op jou kop staan, maar jy gaan nog steeds nie die feit weg redeneer dat daar daagliks 60 000 gedagtes deur jou kop flits waarvan 70% negatief is nie. Dis bewys. Dis die lewe. Ma het gesê dis ou Niek wat op jou skouer kom sit.
Ek kan verkeerd wees, maar ek glo my ma en daardie slim ou, dr Pieter van Jaarsveld, is reg as hulle sê – jy kan jouself gelukkig dink. Beteken dit ons ma se kop het nooit uitgehaak nie? Natuurlik nie. Beteken dit my kop is altyd reg aangeskroef? But of course not. Ek weier net om my kop as `n verskoning te gebruik. Want Ma het nie.
…Hoe voel jy op hierdie Moedersdag 2021? Moederloos? Of dalk moedeloos? Dalk bietjie afgeskeep? “Then think of the female salmon”, maan Sam Ewing, “who lays 3 000 000 eggs but no one remembers her on Mother`s Day.”
Nee, ek grap sommer.
Aan elke ma, ouma, aanneemma, peetma, skoonma, en veral daardie instaan ma`s, wat ons moederloses gereeld onder hul vlerk neem, wil ek graag vandag sê, in die woorde van Tania Smit:
“As jy nog hier is het jy nog werk om te doen. Al sien jy jouself oud word, al voel jou hart of hy vasgroei of wegkwyn.
Tel op jou kop, gaan haal daai asem, en begin weer.”
Al is jou kop nie reg nie. Doen dit net. Jou bes. Elke dag. Dis genoeg.
Gelukkige Moedersdag.
Mirna
082 779 0507
8 comments to “Moederloos op Moedersdag?”
So reg uit jou hart liewe Mirna. Bravo!
Baie liefde
Dankie Betsie!
Dankie Mirna!
Gelukkige Moedersdag vir jou ook!
Dankie Rethia!
Mammie is die beste ma waarvoor ek ooit kom vra ❤️
En hierdie boodskap van jou is die mooiste ooit, Neis. Lief vir jou!
Baie mooi woorde oor moeders, mens is bevoorreg om n ma te hè tot laat in jou lewe
Dis verseker, liewe Colette. Geniet haar en waardeer haar!