Sommer net verlede week skryf Dana Snyman op sy Facebook-blad: “2021…die jaar toe party van ons weer ons bakkies en motors langs die rugbyveld parkeer het om na die wedstryd te kyk, soos van ouds…”
En te skielik is dit ook verby. My hart bloei vir al die seuns en dogters van ons twee plaaslike hoërskole wat vir die soveelste keer hul rugbytokse, netbalballe en hokkiestokke in die kas moes gaan bêre. Geen vooruitsig op hoendervleis-oomblikke wat toeskouers op hul voete dwing nie, geen naelbyt-oorwinnings, skoolkrete, doele, drieë en pannekoek nie.
Ek verlang sommer van voor af na daardie lekker goeie ou dae van kilometers ry na ATKV en Interhoër-kompetisies, tennisligas, krieket kragmetings en hokkiewedstryde. Goeie tye. Goue tye. Tye wat ons toe regtig sommer as vanselfsprekend aanvaar het.
Ek kyk al daardie manne van die Leeus en die Blou Bulle gister so in hul naelskraap-wedstryd in `n verlate Ellispark-stadion. Dit moet aaklig wees om op die veld te draf sonder toeskouers. Ek is doodseker dis waarna Nataniël verwys in sy Kaalkopboek as hy skryf: “Sonder applous sal die mens opkrul en doodgaan…”
Ai, dit was lekker tye. Om `n toetswedstryd op Loftus te beleef saam met `n opgesweepte skare, is lekker. Om mee te doen in die Meksikaanse golf saam met ander krieketgeesdriftiges op Centurion, is lekker. Om jou seun tydens `n Intervarsity-wedstryd op Coetzenburg, tussen duisende ander Matie-studente, uit te ken met `n “Ek is lief vir ma”-plakkaat, is lekker. Om `n voorhandhou oor die net te moker, is lekker. Om te kan Parkrun, is lekker. Sport is lekker. Doodeenvoudig lekker. En wen? Natuurlik nog lekkerder.
Om te beleef hoe jou kinders se skoolspan die Mpumalanga-finaal op die Astro in Nelspruit wen, is lekker. Om te sien hoe die Bokke die wêreldbeker in Japan omhoog hou, is lekker.
Hoe sê Bill Durham in die ou 1988 bofbalfliek? “Winning is just so much better than losing, it makes your girlfriend look better and your beer tastes colder…”
Dis seker ook maar die wrede ding van wen – niemand onthou tweede plek nie. Vat maar vir Yuri Gagarin, die eerste ou in die ruimte. Almal weet van hom, maar bitter min mense ken die naam Alan Shepard, die tweede ou, `n skamele 23 dae na Gagarin.
In sy boek “What it takes to be number one”, skryf die NASCAR-renjaer: “Second place is just the first loser.”
En tog. Ek sal nooit vergeet wat Koos Kombuis jare gelede een Sondag in Rapport geskryf het nie. Dit was die jaar 2006, en daardie Saterdag het die Bulle en die Cheetahs gelykop gespeel in die Curriebeker-eindstryd. Die skare was tjoepstil, want om gelykop te speel is mos soos om jou sussie te soen. Want niemand sê tog voor `n wedstryd mag die beste span gelykop speel nie.” Maar die Sondag skryf Koos: “Ek kan nou maar doodgaan, ek het als gesien.”
Ja, dis nie net die ding van wen wat sport vir ons almal so onontbeerlik maak nie. Dit slyp ons karakter. Een Vrydagaand baie jare gelede ry ons gesinnetjie terug van nog `n uitmergelende redenaarskompetisie. Die blondies was elf en twaalf. Mariné vra: “Pappa, hoekom sê die die tannie van die ATKV altyd `julle is almal wenners`, dan gaan twee landswyd toe en die res sommer net huis toe…?” Goeie vraag, Neis. Harde lewenservaring. Goue lewenslesse.
In die blondies se boks met ou toesprake en praatjies ontdek ek gisteroggend ‘n stokoue laerskool klaspraatjie van Eswee – Hy was 10 jaar oud en moes oor “kompetisie” praat. Ag, luister net hier: “Ek weet ek is net in graad 4, maar ek het al wen én verloor geproe. Ons het al `n krieketwedstryd gewen dat die trots by ons oë uitkom, en ek moes al `n ou se hand skud na `n aaklige verloor en sê: `Geluk`. Dit maak mens sterker as Rice Krispies.”
Ek het onlangs die mees hartroerende verhaal gelees van Eugene Peterson, die Amerikaanse skrywer. In sy boek “To run with the horses” vertel hy hoe hy op skool, as tingerige seun, gewoonlik heel laaste plek in `n span sou kry. Een dag hoor hy hoe die twee spankapteine stry en besef toe met afgryse dat die stryery oor hom gaan – en dat nie van die twee hom in hul span wil hê nie. Hy vertel hoe sy selfbeeld in daardie oomblik geval het van “zero na minus.”
En dis veral waarom ouers die skoolsport so mis – dit gaan oor meer as die op-en-af hardloop langs die veld, die onskuldige reghelp van die skeidsregter, die asem ophou oor beserings, die skoollied saam met die kinders sing uit volle bors. Elke ouer weet dat `n kind op die sportveld sekere lewenslesse leer wat geen ouerhuis kan nie – van teleurstelling, wen en verloor, eerlikheid, sportmangees, uithou, aanhou en wipplankry emosies.
Op die vooraand van hierdie derde week van ons Winter Challenge, tel ek van voor af my seëninge dat ons vrylik mag studio toe kom en hierdie soveelste Challenge kan geniet saam met entoesiastiese lede. Want dis ook maar `n kompetisie, al is dit grootliks een met jouself. En ek is oortuig dis `n groot motiveerder waarom ons klasse uit hul nate bars.
Ons is so geskep, ons mense, om beter en hoër en verder en vinniger as gister te streef. Die mens is `n bok vir sport, en “sports.” Dis hoe ons aanmekaar gesit is.
En ek weet, dis een ding om stoksielalleen die rugbybal te gaan rondskop op die EHS-rugbyveld. Dis `n heel ander storie wanneer jy oppad is doellyn toe met die rugbybal en `n Blou trui blaas bloeddorstig in jou nek. Dis nou maar eenmaal die mens se aard, hy`s `n mededingende wese. Finish en klaar.
Dis hierdie mededigende aard wat duisende mense elke jaar terugggebring het na die moordende Comrades-wedloop. Dis hierdie drang wat Nadal motiveer het om Djokovic se 36 Meesters titels onlangs te ewenaar, en dis daardie selfde drang wat my pa die jarelange kettiekoning van Askham gemaak het.
Ek weet nie of kinders hierdie jaar weer die geleentheid gaan hê om trots op `n veld uit te draf in hul blinknuwe sportklere nie. Ek weet nie of ons `n Olimpiese fakkel aan die brand gaan sien, of die skoot ooit weer gaan klap by die Comrades en of daar oor `n paar weke `n Wimbledon-eindstryd gaan wees nie. Ek weet nie.
Ek weet net dat ek en jy alleen seker is van vandag. So ja, terwyl jy nie kan oefen vir die Comrades nie, kom doen `n stepklas, Salmi. Terwyl jy nie Mpumalanga netbalproewe kan speel nie, leer tennis speel, Hayley. Terwyl jy nie kan doele slaan nie, bly fiks Anke.
Want, skryf Eugene Peterson in daardie selfde boek: “This may not be your favourite place, but it is a place, the place where you are right now. Throw yourself into this place and quit feeling sorry for yourself. Because the aim of a person of faith is not to be as comfortable as possible, but to live as deeply and thoroughly as possible. Don’t just get along, waiting for some miraculous intervention.
The only opportunity you will ever have to be live by faith is where you are right now: this house you live in, this family you find yourself in, this job you have been given, the weather conditions that prevail at this moment…”
Mirna (0827790507)
082 779 0507
4 comments to “BOKKE VIR “SPORTS””
Dis baie waar….
Blom waar jy geplant is en maak DIE BESTE van elke situasie.
Xxx
Dankie Karen!
Goue jare langs die sportveld is wonderlike herinneringe. Voorspoed met die challenge, dit klink na n lekker uitdaging!
Dankie Colette! Mis ons kuiers langs die hokkieveld.