unsuspecting

Niksvermoedend

Niksvermoedend is `n groot woord.  `n Blêrrie groot woord.  …My Kalahari-ouma was altyd baie lief vir die uitdrukking “wat die oog nie sien nie maak die hart nie seer nie.”   Min het sy destyds geweet hoe waar daardie woorde sou word in 2021.

As ek my oë toemaak en vreeslik hard konsentreer, dan sien ek nog die lieflike kuiers op daardie spesiale familieplaas tussen die sandduine.  Die murmer van grootmensstemme om die groot tafel, die dowwe ftt-ftt van die glaslamp, Ouma se tuisgemaakte boerebrood met plaasbotter en die gerusstellende klank van die diesel Listerenjin in die verte.   Ons was niksvermoedend.  Almal van ons.  Die grootmense ook. Hulle het niks geweet van die Zondo-kommissie, beurtkrag of korrupsie nie.  En ons?  Ons was klein en sorgvry – sonder bekommernisse oor skooltake, senutergende Unisa-musiekeksamens, Sondagskooltoetse of netbalproewe.

Maar die sielkundiges sê, as jy lank genoeg in `n situasie is, dan word dit jou nuwe realiteit.  Jip, sommer nou die dag nog het duisende van ons niksvermoedend op  volgepakte pawiljoene gesit, na skoolkrete geluister en ons verlustig in hoendervleis-atletiekaflosse.  Asof ons dit vir altyd sou kon doen.  Min het ons toe geweet…

Op 7 Maart 2021, presies drie weke gelede, twiet die Bollywoood akteur Arshad Warsi: “A year ago this was our last normal week, and nobody knew it…”  Vir ons Suid-Afrikaners het daardie spesifieke week verlede week uitgespeel, ons heel laaste week voor grendeltyd…

Niksvermoedend was ons toe oor hoe lank en aanhoudend die inperking, die virus en maskers deel van ons lewens sou word.  Ons was kompleet nes daai niksvermoedende rooibokkies in die wildtuin, rustig aan die wei terwyl gulsige geel oë hul listig dophou uit die vaal ruigtes…

En toe drie weke van grendeltyd begin maande word, toe raak ons soos daardie figuur in Edvard Munch se skildery, “Die Gil”, net voor hy aan die skree geraak het.

Want, of ons dit nou wil erken of nie, ons is uitoorlê deur `n vreeslike slim virus, of `n vreeslike groot, slim komplot.

Aanvanklik was dit vir almal van ons regtig `n “Divine Pause”, `n fokus van jaag-en-oorleef na rus-en-leef-skuif.  `n Tydjie van goed-te-kan-doen-waarvoor-ons-lief-is en vreugde vind in die alledaagse.  “It was the best of times, it was the worst of times”.  Charles Dickens het heel waarskynlik 2020 in gedagte gehad toe hy hierdie woorde geskryf het.  En hier`s ons nou, kniediep in 2020 deel 2.  Ons kyk darem al rugby, en die seuns speel “touch” rugby, maar kry raas as hul “touch”.  Ai.

En skielik weet ons, die wêreld gaan nooit weer dieselfde plek wees nie.  Ek kyk terug na verlede April en besef skuldig dat ek die herfs van 2020 heeltemal gemis het – daardie mooi aarde wat vervel en regmaak vir `n nuwe seisoen het ek verlede jaar totaal misgeloop.

En dit was nie Covid se skuld nie, dit was net my eie skuld.  Want ek het, nes almal, oorweldig gevoel om uitgelewer te wees aan ander se besluite oor ons.  Party dae het dit gevoel of selfs die voëltjies in die bome ophou sing.

“So `n bietjie in ons moer in’, soos Lanie van Reenen skryf in haar boek “Net mooi fine.”  So het ons almal met tye gevoel verlede Herfs.  Wat`s dan NOU anders?

Veerkragtigheid.  Ek wonder nog heeltyd wat is die mooiste vertaling vir die Engelse woord “resilience”.  Toe vang Willemien Brümmer dit gister so mooi vas met haar artikel op Netwerk 24 onder die opskrif “Inperking – `n jaar van aanslae op die gemoed”.  Sy sê: “Ons antwoord in 2021 lê opgesluit in die klein woordjie veerkragtigheid – die vermoë om teëspoed te verduur en selfs soos `n rubberballetjie daarvan terug te bons.”  Veerkragtigheid is daardie “iets” wat mense laat opstaan as die lewe jou platslaan.  En die goeie nuus?  Dis nie iets wat net sommige mense het nie, almal word daarmee gebore.  Brümmer sê navorsers in Amerika meen dit het als te doen met individuele volharding.  En sy`s reg, dis hier, oral om ons.

Louw wil vir Spoegwolf Butr toe bring, die Puma rugbyspan pronk in pragtige nuwe klere, ons eie laerskool JJ van der Merwe bars uit sy nate, kinders kan weer hokkie oefen en meeste van die studente wat verlede jaar so lekker saam my geoefen het op Zoom kon weer terugkeer na hul universiteite.  En oor drie weke hou ons `n New Year Challenge prysuitdeling soos jy nog nooit gesien het nie!  Ons gaan `n dooie jakkals aan die draf kuier, pappie!

Mense het hierdie ongelooflike, lewensreddende tendens om te herstel, selfs onder die moeilikste omstandighede.  Jodi Picoult beskryf dit so mooi in haar roman “My sister’s keeper”:

“The human capacity for burden is like bamboo- far more flexible than you’d ever believe at first glance.”

Wat`s nog anders in 2021?  Ek dink ons het geleer dat solank dit vir ons moontlik is om dankbaar te wees, dit altyd moontlik is om gelukkig te wees.  Ek het afgekom op die mooiste boekie van Charles Mackesy, “The boy, the mole, the fox and the horse” wat mens help om iets te verstaan van `n situasie wat moeilik is, maar beslis nie hopeloos nie:

“The greatest illusion”, said the mole, “is that life should be perfect.”

“Is your glass half empty or half full”, asked the horse.  “I think I’m just grateful to have a glass”, said the boy.

Gaan ons `n derde vlaag van die virus vermy?  Waarskynlik nie.  Gaan ons êrens weer `n harde Lockdown hê?  Heel moontlik.  Dis okei.  Vir nou gaan ons herfs binne, en dié slag gaan ek seker maak ek mis nie die kleurspel van vloeibare amber nie.  Ek wens vir jou en my die vrede van hierdie mooi Genade-seisoen toe, met harte wat maklik vol sal raak, die opnuut besef dat alles kosbaar en kortstondig is, en, die seker wete dat ons mag aanhou droom!

Want, soos Michélle van Breda skryf in haar redakteursbrief in die nuutste Sarie: “Stilstaan en water trap was aanvaarbaar vir 2020, maar dié jaar vra meer.  Bloot omdat ons dit onsself skuld, en mekaar skuld.  Ons moet planne maak, die mooi en opwindend weer gaan soek.”

Niksvermoedend.

Mirna

082 779 0507

Has one comment to “Niksvermoedend”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Baie mooi stuk, dis van toepassing op ons lewens. Niksvermoedend is mooi gebruik!