`n Kopskuif oor kos…

Oom Cyril het die vyfuur-“curfew” opgehef, so, jippie, ons mag van môre af weer gewone tyd opstaan en oefen.  Môre begin ons 9-week New Year Challenge ook – oudergewoonte gaan n spul deelnemers die 36 oefensessies lag-lag kafdraf, terwyl dit vir `n hele paar waarskynlik weer behoorlik `n stryd gaan wees.

Na 16 Challenges is dit seker geregverdig om te sê dat dit die tendens is – `n duidelike patroon in die persentasie deelnemers wat enduit gaan, en dié wat halfpad die stryd verloor…

En tog was dit nog elke keer my ervaring dat die oefen-gedeelte van ons fiksheidsuitdagings minder uitdagings inhou as die stryd om daardie oortollige vetjies af te skud.  Hoekom?  Want dis nie `n maklike affêre nie.  Meeste mense, klein of groot, jonk of oud, man of vrou, het êrens in hul lewe al `n stryd met kos gehad.

As jy nou regtig eerlik met jouself moet wees – is die gedagte aan `n paar kilo`s ligter nie elke liewe jaar op jou doen-dit-self-lysie nie?

Oorgewig bly, nes Covid, `n epidemie.  Wêreldwyd.  En ek ervaar daagliks hoe kos vir so baie mense `n derduiwel is.  In dieselfde asem ervaar ek Challenge na Challenge hoe hordes gedetermineerde vrouens die stryd teen vet wen en wonderlike suksesverhale word.

Sedert 2020 se Summer Challenge is ons bevoorreg om `n gekwalisfiseerde “Nutrition Coach” in ons span te hê, en ek het dit goed gedink om Mariné te vra om hierdie week se Blog te skryf.  (For our Enblish readers, here are the links to Mariné`s website and YouTube video) Maar hierdie week is haar storie in Afrikaans.  Geniet dit:

  “Kom ons wees eerlik. Hoeveel keer het jy al probeer om ‘n paar kilo’s af te skud op een of ander absurde dieet wat jy glad nie geniet nie, net om daarna weer alles op te tel? Hoeveel keer was dié onderwerp nie al die hoofpunt van bespreking by verjaardagpartytjies of “opvang”-kuiertjies nie?

 Ek sou nie sê die samelewing het ‘n probleem met gewig verloor nie. Die feit is dat mense nie weet hoe om die gewig af te hou nie. Wetenskaplikes het bevind dat ongeveer 95% van mense wat daarin slaag om gewig verloor, dit uiteindelik weer optel.

 Jy sien, die probleem lê in die giftige dieetkultuur en wanpersepsies wat veels te maklik versprei. Jy het waarskynlik al self soortgelyke goedbedoelde, maar tog belaglike aanbevelings van vriende, familie en kollegas gekry oor hoe jy buikspiere kan kry en jou bobene kan verslank. “Brood is die vyand; jy mag eers 12 uur in die middag begin eet; enige happie wat jy na ses uur vanaand in jou mond steek gaan dadelik heupe toe en jy mag nie jou lippe aan suiker sit nie.”

 Dit is moeilik om te weet wie is reg en wie is verkeerd as dit kom by gesondheid en kos. Ek self het gewroeg hiermee. My ervaring is ‘n goeie voorbeeld van wat kan gebeur as jy jou rigiede denke te ver laat gaan.

 Destyds het elke afwyking van my streng, arbitrêre voedingsreëls gevoel of ek vir ewig gedoem was. Ek het gedink dat as ek een oefensessie mis, ek die volgende dag sekerlik met ‘n ekstra lagie vet om my middel sou wakker word.

 Ek het vas geglo dat as ek ‘n snytjie brood of ‘n blokkie sjokolade eet, ek dit nooit ongedaan sal kan maak nie. Te gereeld het ek, soos ontelbare ander vrouens én mans, nadat ek vir ‘’n oomblik van my dieet af gedwaal het, totaal tou opgegooi en gesê: “Ag, ek sal net weer Maandag begin.” Min het ek geweet dat dié manier van dink totaal en al onnodig was. Boonop het dit my liggaam en my gemoed meer skade gedoen as goed.

 Nou, ‘n paar jaar later, wil ek lag vir die feit dat ek myself van brood, suiker en sjokolade ontneem het. In plaas daarvan om te sê dat sekere kos taboe is, bestaan my dieet nou uit al die kos waaroor ek gek is. Nog beter, ek het meer spiermassa en minder liggaamsvet as toe, en ek voel duisend keer meer energiek.

 So, wat is die geheime resep as dit kom by die instandhouding van jou gewigsverlies? Ek het besef dat die enigste dieet wat werk, die dieet is wat jy die meeste geniet en wat volhoubaar is vir jou. Ons is nie robotte nie. Ons is mense. So hoe op aarde kan jy dan nog steeds alles eet wat jy geniet en terselfdetyd gewig verloor, vra jy?

 Dit is eintlik so eenvoudig. Gewigsverlies kom neer op een belangrike konsep, naamlik jou totale kalorie-inname.

 Jou energiebalans (hoeveel energie jy verbruik teenoor hoeveel jy spandeer) bepaal of jy gewig verloor, gewig in stand hou of gewig optel. Alhoewel daar baie veranderlikes in hierdie vergelyking is, is dit oor die algemeen ‘n funksie van hoeveel jy deur die dag eet, in verhouding tot hoeveel kalorieë jy verbrand. Dit is’ n totale wanopvatting om te glo dat ‘n mens net kalorieë verbrand as jy oefen. Jou liggaam gebruik energie in die vorm van kalorieë op verskeie maniere naamlik: vertering van kos, nie-oefeningsaktiwiteit (bv, stap, tandeborsel en gesels) asook formele fisiese aktiwiteit.

 Moenie toelaat dat hierdie inligting jou oorweldig nie. Al wat dit beteken, is dat om meer gewig te verloor, jy meer energie moet verbrand as wat jy inneem, en om gewig op te tel, geld die omgekeerde. Byvoorbeeld, as jy jou dieet hou soos wat dit is, en jy stap ‘n bietjie meer, is die kanse goed dat jy ‘n kilogram kan afskud. As jy nie lief is vir fisiese inspanning nie, is jou beste roep om eerder daardie tweede skeppie kos op ‘n Sondagmiddag oor te slaan.

 Soos jy kan sien, gaan dit nie daaroor om stysel te vermy of soetgoed vir ewig af te sweer nie. Op die ou end kan jy stééds gewig verloor met al jou gunsteling kos- solank jy minder kalorieë inneem as wat jy verbrand.

 Ek sê nie jy móét al jou kalorieë tel nie. Al wat jy hoef te doen is om meer bewustelik te lewe. Wees meer bewus van jou liggaam se natuurlike aanduidings dat jy regtig honger is. Wees teenwoordig in die oomblik wanneer jy sit en eet. Dek weer die tafel. Geniet elke happie. Stap meer, drink water en wees bewus van elke dingetjie wat jy doen. As 2020 ons een ding geleer het is dit dit:  Die lewe is kort- veels te kort om ‘n onmoontlike dieet te volg wat vir jou onvolhoubare resultate gaan bring.

 Bewustelik lewe, dis die geheim. Soos die Indiese skrywer, Amit Ray, dit beskryf in sy boek “Mindfulness – Living in the moment, living in the breath”:

“In every bend of time there is some surprise, joy and beauty. Mindfulness is the light to discover it.

 Life is a dance – mindfulness is witnessing that dance…”

                                            Mariné Bothma

Dankie Mariné!  `n Paar van ons lede het al `n paadjie saam met Mariné gestap en hulle het ingewillig dat ons hul foto`s hierdie week in ons Blog plaas.  Sommer om bietjie te onthou.  Hoe ver hul al gekom het.  Want dit was harde werk om tot hier te kom.

Ek weet drie dinge.  Nee, vier. 

Een: Kos sal altyd `n mens se baas wees as mens nie bewustelik daarmee omgaan nie.

Twee:  Dit sal altyd harde werk wees, maar absoluut die moeite werd.

Drie:  Ek kan nie wag om môre weer te begin oefen nie.

Vier:  Dalk was my ouma al die tyd tog reg – die enigste kos wat vet maak is die kos wat ons nie voor bid nie.  Dit was haar manier om te sê ons moet net met `n bietjie meer bewustheid eet.

Soos Mary DeTurris Poust skryf in haar boek “Cravings”: “Taken slowly, or mindfully, even eating an orange or a bowl of soup, or a small piece of dark chocolate for that matter, can take on the flavor of prayer.”

Al wat nodig is, is `n kopskuif oor kos.  Het jy dit al gedoen?

Mirna

082 779 0507

Mariné

072 299 9128

2 comments to “`n Kopskuif oor kos…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Zenta Wentzel says:

    Hi Marinè

    Fantastiese blog thx!

    Thx
    Zenta

  2. Rethia says:

    Mariné…., dankie weer vir daardie kopskuif oor kos!
    Jy is ‘n amazing “coach”!