Eerstes

Die Engelse dramaturg, Shelagh Delaney het eenmaal gesê: “You can remember the second and the third and the fourth time, but there`s nothing like the first. It`s always there…” 

Ons is almal hierdie week aangegryp deur die foto van Dirk en Vissie Langer, die twee bejaardes wat Dinsdag daar op hul plasie buite Williston buite in die reën gestaan het sodat die druppels oor hul spoel – die eerste reën in agt jaar.

“Die wolke het ons gevind!”, het baie boere in die Karoo gejubel.

Ek kan my net voorstel – die verwondering op kleuters se gesigte om vir die heel eerste keer regte reëndruppels te sien, en die verbasing van al daardie skape wat vir sewe jaar lankal nog net op voer leef.

Ek wonder of dit was hoe die klein, dapper 18-maande oue Grayson Marais verlede jaar gevoel het, toe hy na `n ooroperasie vir die heel eerste keer sy ma se stem kon hoor…
En ek wonder wat is dit van “eerstes” wat ons so aangryp? Sommer net `n paar dae gelede, op 3 Desember, maar in die jaar 1967, het dr Chris Barnard daardie heel eerste hartoorplanting uitgevoer. Die wêreld se heel eerste wat mense dekades daarna nog aan die praat gehou het.

Maar daar is natuurlik ook `n hele paar eerstes in ons lewens wat ons so gou as moontlik liewer sal wil vergeet…Ampertjies moes die matrieks teen wil en dank hierdie jaar vir die heel eerste keer in die geskiedenis twee eindeksamenvraestelle oorskryf.

Kan jy nog jou heel eerste redenaarstoespraak op `n skoolverhoog onthou, met geswete hande en jou bene wat met `n persoonlikheid van hul eie aan`t bewe gaan?

En natuurlik, daardie seerste eerstes na iemand weg is. Eerste Kersfees, eerste verjaarsdag, eerste Moedersdag, wat jou met `n skop in die ribbes herinner dat jy nie meer `n moedertjie het nie. Sal nooit weer een hê nie. Punt. Finish. Klaar…

Die eerstes in ons lewens het `n manier om altyd by ons te bly – veral daardie eerstes wat jou hart raak.  Jou eerste skooldag, jou eerste seevakansie, jou eerste eersteliefdetrane voor die toeklapdeur van liefde, die eerste keer wat jy jou trourok aanpas, jou kleingoed se eerste treetjies. En voor jy jou oë kan uitvee – die eerste dag van jou kinders se laaste jaar op skool, en jy wonder nie net wat gaan van hulle word nie, maar wat gaan van jou word…?

Maar dan, soos gister, stop die bekende, wit karretjie met die twee mooi blondies voor die hek in Petstraat en dit voel sommer soos die heel eerste keer ooit wat hul kom kuier! Met lag, en uit-die-bloute drukkies en lang gesprekke en in die oomblik wees. Ek moet myself gereeld knyp en ek wonder of my kinders weet hoeveel genoegsaamheid ek in hul vind. Ek kyk Eswee en Mariné gisteraand so en dink daar het soveel tyd verloop sedert hul eerste glimlaggies, eerste woorde, eerste treetjies, en ek besef ons heg soveel waarde aan al die eerstes, maar sien ons al die laastes raak? Seker nie, omdat ons nooit besef dat dit dalk die laaste keer sal wees nie…

Ek onthou hoe ons Eswee altyd aan die slaap moes sus en Mariné se ruggie moes streel tot haar ogies toeval, maar ek kan glad nie onthou wanneer ons dit vir die laaste keer gedoen het nie…Gelukkig is dit nie die eerstes of laastes wat die kosbaarste is nie. Dis die tyd tussenin, die tyd wat die koers bepaal en kosbare herinneringe bou. En daai tyd, is nou.

Die Amerikaanse skrywer James A Baldwin het dit mooi gestel: “No one can possibly know what is about to happen: it is happening, each time, for the first time, for the only time…” Ek dink wanneer ons so begin kyk na die lewe, dan voel elke klein dingetjie, selfs die wat ons oor en oor doen, meer soos `n eerste, verrassende, asembenewende keer.
“Do not say, ‘It is morning,’ and dismiss it with a name of yesterday. See it for the first time as a newborn child that has no name”, het die digter Rabindranath Tagore honderde jare gelede al gemaan…


Ek dink aan ons Summer Shred Challenge wat hierdie Dinsdag klaarmaak – dit was die heel eerste keer dat ek my hand gewaag het aan `n fiksheidsuitdaging so laat in die jaar. En tog was hierdie kort vyf weke vir baie van ons deelnemers die kersie op hul 2020-oefenkoek en een van die lekkerste Challenges ooit! Almal het my voete onder my uitgeslaan met hul resultate en hul verbete oefenpogings. En dit nadat `n hele paar getwyfel het of hul enigsins moet deelneem!
Laat my dink aan Missy Welsh se aanhaling uit haar boek “My summer of Wes”:

“Its crazy what you can talk yourself out of when you`re scared and into when you`re not.”


Ek en jy staan elke dag vaan ons lewens voor ons eie keuses. `n Keuse van eerstes. Sal ek, of sal ek liewer nie? Durf ek, of durf ek eerder nie?

Jaco Jacobs het Dinsdag in sy Speedo en tekkies in die hoofstraat van Carnarvon afgehardloop uit vreugde dat dit gereën het. Ek het my kinders belowe hierdie Januarie durf ek saam met hulle die groot swaai aan in die reusagtige Moses Mabhida stadion. Ek weet nie wat jy nagelaat het om te doen in 2020 nie, maar daar`s nog amper 4 weke oor. En as jy gelukkig is, wink 2021 met presies dieselfde geleenthede en nog meer.


Onthou net, eerstes kom nie vanself nie. Jy kies: ek kan, of ek kan nie. Ek moet, of ek moenie. En dis wanneer jou strewe na eerstes laastes word, wat jy ophou droom, dink en doen. Dis dan wat jy én die wêreld ly.


Of so dink ek.


“When was the last time you did something for the first time?”, sing Darius Rucker. En vra ek ook.

4 comments to “Eerstes”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Karen Cilliers says:

    Die mooiste skryfstyl.
    Baie dankie
    Geseënde Kersfees🎄

    • Mirna says:

      Baie dankie Karen!

  2. Mariaan says:

    Dit was my eerste Fiksheidsuitdaging saam met Mirna maar hoop en glo nie die laaste nie! Dankie Mirna!

    Baie dankie v mooi stuk, ons moet ons geliefdes koester! <

    • Mirna says:

      En jy het met `n bekwame spoed die eindstreep gehaal, Mariaan. Trots op jou!