“Môre sal ek doen net wat julle wil – maar vandag is my dag”, het Marita van den Vyfer in 2008 uit Florence geskryf op haar veertigste verjaarsdag.
Toe reeds het sy gemeen mens moet een dag in ‘n jaar aan jouself kan afstaan, sonder verskonings of skuldgevoelens, ongeag hoe ingewikkeld jou lewe geword het.
Eish, wanneer die groot vyf nul verjaarsdae eers hul opwagting begin maak, wonder mens of jy nie eerder eintlik net op jou verjaarsdag moet sing “Another day older and deeper in depth,” saam met Merle Travis.
Ek kry skoon skaam om te dink dat ek as tienjarige geglo het tannies wat vyftig is dra bollas en “Scholl” – skoene. En nou is ek al by 54…
Gelukkig word ons kort-kort herinner dat vyftig vandag die nuwe veertig is. En dat ouderdom net ‘n getal is. Dit het bokslegende Mike Tyson sommer gisternag bewys toe hy op 54-jarige ouderdom weer vervaard in die bokskryt geklim het. En Donderdag, toe die sokkersensasie Maradona oorlede is aan ‘n hartaanval het die wêreld uitbasuin – hy was maar net 60 jaar oud!
Om te verjaar is soos Oujaarsaand, dit moet gebeur, die verskil is net jy kan jouself ongelukkig nie daaruit lieg en sê jy kuier by iemand anders nie. Jy kan dit net so min wegredeneer as Trump se verkiesingsnederlaag. En al klim jy 21:00 in die bed met ‘n kussings oor jou kop, dit gebeur. Jy verjaar.
Meeste mense wat ek ken is mal oor verjaar. Hulle is so lief vir verjaar hul sal sommer tydig en ontydig kamma verjaar met ‘n Spur starlight en draairoomys.
Ek het nog nooit gewens ek is van Viëtnamese afkoms nie, maar die feit dat hulle nie individuele verjaarsdae vier nie maar almal op dieselfde dag, klink vir my glad nie na ‘n onaardige tradisie nie.
Darem is ek bly ek woon nie in Jamaika nie, want daar word jy blykbaar op jou verjaarsdag met meel bestrooi en natgespuit.
Eergister het ek nie kersies doodgeblaas nie – kan jy jou die enorme vlam voorstel. Ek het ook nie strikke in my hare gebind nie. Maar dit was my dag, wat ek kon deel saam met die drie mense vir wie ek die heel liefste is. En hoe het hul my nie bederf nie!
Donderdag het ek my laptop en my klasse in Helen en Edrei se bekwame hande gelos en Vrydagoggend saam met Schalk en Eswee douvoordag ‘n Safair-vlug gehaal om die naweek saam met Mariné te wees in die lieflike Kaap.
Die drie het lekker onderlangs gekonkel en my Vrydagmiddag na ‘n middagete by de Warenmark verras met ‘n Spa-bederf by die eksotiese Lanserac. Die uitsig oor die welige wingerde in die Jonkerhoekvallei en stilte was lafenis vir my siel en ‘n onvergeetlik ervaring. Nog lekkerder omdat ek dit met Mariné kon deel.
Dit was my dag, met soveel spesiale oproepe en boodskappe en wense. Dit was sommer ‘n propvol verjaarsdagnaweek met kuier en sjampanje proe by Haute Cabriere en lees en ontspan, en as ‘n ma mos net weer ‘n slag in haar kinders se oë kan kyk om seker te maak hul harte is heel en gelukkig dan kan sy ook weer aangaan.
My verjaarsdag bly maar die een dag ‘n jaar wat ek my ma die heel meeste mis, dalk oor sy altyd die meeste ophef gemaak het van haar drie dogters se verjaarsdae. Die heel eerste foonoproep vir geluk sê, die heel laaste een om te hoor hoe was die dag. Dit ruk nog steeds my hart om te dink sy was maar net 55…En nou trek ek self al by die groot vyf vier.
Hierdie verjaarsdag is my hart dankbaarder as ooit. Ek staan stil en verwonderd oor dit wat ek nog alles kan doen – hoog spring, diep squat plank en plié. Hierdie Mirns is die tannie van Instagram en YouTube, deel van die vyftigplussers en springlewendig.
Daar is soveel vaardighede en lewenslesse wat ek jaarliks byleer en 2020 het my kom herinner dat daar nooit ‘n plafon is nie.
Die slim wiskundiges meen dat ek nou meer as 62,5% van my aardse asem opgebruik het, maar hul vergeet mooitjies van die moontlike 37,5% wat nog oor is.
Natuurlik het ek en jy, elkeen van ons, beperkte tyd. Ons gaan nie vir ewig leef nie. Of vir ewig kan step of bons of draf of loop nie. Dis hoekom ons elke verjaarsdag vier. Ons moet dit vier.
…Veral omdat dit wat ons ook al nog kan doen, ons regtig nog doen.
Die aktrise Marie Dresser het jare gelede gesê: “By the time we hit fifty, we have learned our hardest lessons. We have found out that only a few things are really important. We have learned to take life seriously, but never ourselves.”
‘n Vervaldatum vir ouderdom – dit hoort net op kos in die supermark. Mark Twain het nou wel gesê dat ‘n vrou wat haar ouderdom verklap, ook nie ander geheime kan bewaar nie. Ek weet darem nie… Ek is 54, trots daarop, gelukkig daaroor en tot in my wese dankbaar daarvoor. It’s my party and I can tell if I want to!
En noem my naïef of ‘n aartsoptimis. Ek glo, soos Frank Sinatra, “the best is yet to come.”
Mirna
6 comments to “It’s my party”
Jy skryf so mooi en dis baie spesiaal.
Bly dat jy ‘n onvergeetlike verjaarsdagnaweek gehad het.
Dankie Karen!
Cheers 🥂 to an amazing 54 year old 👏👏
Thank you, Rosy!!!
Lief vir Mammie ❤️
Dankie liefste Neis!