Silwer randjies

‘’This is for all of those who still hope for new mornings

No matter how long, cold, and gloomy their nights were.

This is for you

This is for me

And this is for everyone who still have some kind of hope in their hearts,

No matter how many times this life has proved them why they shouldn`t.

Thank you for being the silver lining that still finds its way through the darkness.”

Samiha Totanji

Teen die tyd dat jy hierdie Blog lees, het president Ramaphosa reeds sy “Rona-Rubiconrede” gelewer.  Ja, dis regtig presies 35 jaar na die gewraakte Rubicon-toespraak van president PW Botha.  Darem het ons nie verniet asem opgehou nie -ons president het sy kopdoek afgehaal en uiteindelik iets noemenswaardigs gesê.

Daar lê `n wilde twee dae voor om die studio eksie-perfeksie te kry om ons lede terug te verwelkom, ons Zoom lede steeds behoorlik te akkomodeer en al ons toerusting terug te kry wat die hele dorp vol geleen is tydens lockdown…☺

Maar vandag is my glimlag breed, hy haak sommer hier by my ore, net soos Brad Binder, nadat hy verlede Sondag die eerste Suid-Afrikaner geword het om `n motorfiets-Grand Prix te wen.  En dis oor veel meer as oor die fiksheidsbedryf se groen lig om oop te maak.   

Dis vandag die 143ste dag van lockdown vir my en my “fellow South Africans”, en vandag dink ek aan die swetterjoel silwer randjies wat hierdie skrikwekkende skrikkeljaar van 2020 opgelewer het.  Ek klink dalk nou bietjie soos Pollyanna, die 12-jarige dogtertjie in die 1913 boek deur Eleanor Porter.  Ken jy die storie…?  Daar was `n fliek ook in die sestigs. 

Polyanna Whittier se ouers sterf op die sendingveld in die Wes-Indies, en sy word genoodsaak om by haar streng, oujongnooi-tante, Polly, te gaan woon in Harrington Town.

Polyanna was `n ewige optimis wat die goeie in alles gesoek het – soveel so dat sy selfs `n speletjie daarvan gemaak het  – “The Glad Game” – gebaseer op die woorde van president Abraham Lincoln:

“When you look for the bad, expecting to find it, you surely will.”

Hierdie 1913-boek het so `n indruk op mense gemaak dat sielkundiges die “Polyanna Principle” nou nog gebruik vir mense met die onderbewuste neiging om op die positiewe te fokus.  Girts, ek kan nie help om te wonder wat Polyanna oor lockdown sou sê nie, maar, terug na die silwer randjies…

Vrydag was ons mooi taal, Afrikaans, `n volle 145 jaar oud, en hoor net hoe het joernalis Esmarie Yssel daaroor geskryf: “Afrikaans is mooi, dit word gelooi, gebraai en getiekiedraai.  Haar humorsin is skerper as `n minora en sy kan selfs in die donkerste nag skaterlag met `n grendelgrap.  Dis boeretroos, dis boerekoors, warmer as Covid-koors…”  Sjoe, mooi né?!

Donderdag vra besorgde vriendinne na Eswee en Mariné se welstand met die Jozi na Stellenbosch betogings.  Ek, salig onbewus van dié drama, stuur dadelik `n bekommerde boodskap na Mariné.  Sy antwoord met `n lag gesiggie: “Ons is shap, moeksie, die polisie het hulle vasgekeer by Kayamandi en natgespuit…☺”.  Silwer randjie.

Ek dink aan al die lesse wat grendeltyd my kom leer het.  Bo alles om te berus en te aanvaar dat dinge nie altyd volgens my planne verloop nie.  Dat ware geluk nie noodwendig beteken dat al my eendjies eers in `n ry moet wees nie.

Ek dink aan al die silwer-randjie mense wat hierdie winter bereid was om saam my te oefen het op Zoom en op YouTube.

Ek dink aan dr Laurie Santos, `n dosent in Sielkunde aan Yale Universiteit, wie se module “Psychology and the Good life” onlangs bekroon is as die mees populêre kursus in Yale se 300 jaar geskiedenis!  Gedurende lockdown het belangstelling in hierdie module wêreldwyd so gegroei dat dit aanlyn beskikbaar gestel is, en sedertdien het meer as drie miljoen mense al vir die kursus geregistreer.

Elke liewe een van ons kan vandag identifiseer met Santos se woorde: “We mistakenly think we need to change our life circumstances to become happier…but happiness and contentedness stem from repeatedly doing simple tasks, rather than herculean ones.”

Teen hierdie tyd het ons reeds aan onsself en die regering en die wêreld ons veerkragtigheid bewys, ons het ons eie “Glad Game” in grendeltyd vervolmaak, ons sin vir humor behou, klein persoonlike oorwinnings gevier en opnuut geleer om die alledaagse silwer randjies te koester.

Die “state of disaster” is verleng tot 15 September…maar meneer Ramaphosa het uiteindelik ‘in sy baas se speech’ iets gesê om hierdie drukgang wyer te maak.  Daar`s nog nêrens dokumentasie oor die streng regulasies waarvolgens gimnasiums mag open nie, maar ou matta, min gaan ons nou keer…

Dit was `n traumatiese en taai klomp maande, en niemand kan ons verkwalik dat ons gedagtes soms `n slap draai gegooi het van melancholie na verdrietfontein nie.  Daar was tye wat ons doodeenvoudig nie anders kon as om te mompel “mm ja sure…binne elke silwer randjie is `n donker wolk” nie.  Maar, as ons regtig eerlik moet wees moet ons erken – elke liewe een van ons het `n getuienis van silwer randjies.  Ons het nader gekom as ooit aan ons hartsmense danksy hope gesinstyd. Die woord gesondheid het vir ons almal nuwe betekenis gekry en die term dankbaarheid telkemale nog meer. 

Chantelle de Wet se dagboekjoernaal daar doer ver in Dubai maak my glimlag sommer nog breër.  Sy vertel van haar blydskap die dag toe hulle daar in die verte drie bottels Crosse en Blackwell-mayonaise ontdek het en die oggend in lockdown toe hulle `n babaduifie uit die pad kon red.  Silwer randjies. 

Een van die kosbaarste lesse wat grendeltyd my kom leer het was die krag van doelbewuste, positiewe ingesteldheid.  En geduld.  Ek dink met soveel dankbaarheid aan ons studio se instruktrises, Edrei, Dedré en Sarita se bomenslike geduld, hulle begrip en die feit dat hulle al drie nou, soos drie resiesperdjies in `n wegspringhok gereed staan, slaggereed om weer te begin klasgee, is vir my sommer `n breë goue rand om hierdie Covid-wolk!

Wat is JOU silwer randjies om hierdie Corona-wolk?  Komaan, daar moet IETS wees, al is dit dan net dat jou rugbyspan die afgelope vyf maande nie een wedstryd verloor het nie.  Soos Chantelle de Wet, hoop ek jy kan ook op hierdie 16de dag van Augustus 2020 sê:

“Ek is nie verantwoordelik vir die wêreld se probleme nie.  Ek kan nie aanspreeklik gehou word vir armoede of misdaad nie, maar ek kan na my eie gemoed omsien.” 

Ek en jy kan Polyanna se dankbaarheid kies, bo kerm en kla.  Natuurlik is daar donker wolke.  `n Paar pype kan vir oulaas vries met ons winter se laaste bibberings, `n hele spul graad eentjies gaan regtig nie verder as 15 kan tel teen Desember nie, die woorde vrye beweging gaan waarskynlik nooit weer dieselfde betekenis vir ons inhou nie en ek wonder of ek ooit weer die voorreg gaan hê om `n tot-oorlopens-toe-vol-stepklas met 50 jubelende gesigte voor my te beleef.

Ek troos my met `n paar feite:  Ons God was en is nog nie `n dag in lockdown nie.  Ek is Sy kind en dit bly genoeg.  Elke donker wolk het `n silwer randjie.  En: “If you look for the good, expecting it, you will find it.”  My hart sing vandag saam met die Beatles se George Harrison:

“Now the darkness only stays the night-time

In the morning it will fade away

Daylight is good at arriving at the right time

It’s not always going to be this grey…”

Mirna

082 779 0507

4 comments to “Silwer randjies”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Jy gebruik die mooiste aanhalings, jys wel belese en skryf pragtig.
    Dis n vinnige blog na Cyril se aankondiging n paar uur gelede Voorspoed met die klasse wat begin, ek weet daar gaan weer klomp mense klasse toe kom. Julle iis goed!

    • Mirna says:

      Dankie Colette, is vreeslik lekker om weer in lewende lywe saam met mense te mag oefen!

  2. Jeanne Hallett says:

    Baie dankie… enjoy jou aanhalings Mirna!

    • Mirna says:

      Baie dankie Jeanne!