IN DIE NUWE NORMAAL VAS AAN `N PAAL?

Die afgelope vyf maande het ons uit alle oorde verneem dat die lewe na grendeltyd nooit weer “normaal” sal wees nie. Die lewe post-Covid. Die nuwe abnormaal?

Ek weet darem nie. Die week kon Mariné darem weer `n slag terugvlieg huis toe van Stellenbosch en ons glo Eswee is kort op haar hakke. Volgende week begin die manne in Suid-Afrika weer rugby oefen, en uit alle oorde begin ons studio se lede weer een vir een terugkeer. Donderdagaand voor stepklas het die spul so lekker gekuier dat ek skaars my Zoom-lede bo die gedruis kon groet!

Ja, ons dra nog maskers daar waar ons in die moeilikheid kan kom, ja, almal is nog nie terug skool toe nie en meeste graad 12`s weet nog nie eens of hulle geleentheid gaan hê om in hul pragtige matriekafskeidvere te pronk nie. Ja, die korrupsie het nog steeds nie opgehou nie. Ja, Schalk kon nie soos altyd Mariné inwag in Oliver Tambo se aankomsaal nie, en ja, Frik Du Preez slaan die spyker reg op die kop as hy sê dat daar waarskynlik dié seisoen meer knieprobleme van die geknielery voor wedstryde gaan wees as van rugbybeserings. Maar, ek stem hou vir hou saam met Pieter Cronjé, internasionale konsultant van Stelllenbosch: “Daar is nie `n “normaal”
nie, daar is bloot persepsies van normaal. En nuwe normaal is bloot `n poging om `n nuwe omgewing wat niemand mooi begryp nie, lompweg te probeer beskryf.”

“Normaal” is vir baie jare al hoë mure en alarmstelsels en slaggate en beurtkrag. Nou het maskers en kleiner troues en 2m uitmekaar bygekom. Die groot vraag is – hoe kyk ek en jy na normaal? En hoe hanteer ons dit? Dit laat my dink aan die bekende Engelse storie, “The elephant and the rope”. Dis die storie van `n man wat die sirkus besoek het en daar iets beleef wat sy hele lewensbeskouing verander. Hy het die sirkusolifante buite die tent sien staan, elkeen met `n band om hul poot en `n dun ketting daaraan, vasgemaak aan `n lamlendige pen wat in die
grond gehamer is.

Die man was verstom om te sien dat hierdie reuse diere, ondanks hul krag, nie eens `n poging probeer aanwend om die dun ketting te breek nie. Hoekom nie? Hulle weet van kleins af dat dit tevergeefs sal wees. Hul is gewoond aan die kettings en weet dat hulle versorg en gevoed word. Klein sirkusolifantjies sien wat die grotes doen, en dit word `n patroon. Dis hulle normaal.  Daardie besef het die man met die ontnugterende wete gelaat dat hy die lewe leef nes `n gekondisoneerde sirkusolifant, vasgehou deur die kettings wat in sy eie kop bestaan.

…Net so gaan my en jou persepsie van die lewe na lockdown ons “nuwe” normaal bepaal. Natuurlik is ons nie almal in dieselfde bootjie nie, en ons elkeen se storm lyk anders. Maar ons moet onsself net belowe dat normaal nie gemaklik word nie.

Regtig nie.

In sy boek “I shall wear midnight”, sê die Engelse skrywer Terry Pratchett: “It is important that we know where we come from, because if you do not know where you come from, then you don’t know where you are, and if you don’t know where you are, you don’t know where you’re going. And if you don’t know where you’re going, you’re probably going wrong.”

…Saterdag het ons honderde motorfietsryers op die Witbank-snelweg teëgekom, dit was die massa-rit teen plaasaanvalle en moorde. Steve het dit mooi beskryf so op sy verjaarsdag: “Die motorfietsgemeenskap is kragtig as hy protesteer en allermins minder gatvol as ons”.

Ons kan nie dit wat nog altyd vir ons waardevol was, vir altyd agter emosielose maskers begrawe nie – die woorde wat ons gebruik, die gebare en gesigsuitdrukkings wat dit onderstreep, die oë waarmee ons kontak soek en die glimlag waarmee ons afstand laat krimp. Dit gaan grootliks ons normaal bepaal. En `n elmboog? Nee wat, dié lamlendige sirkuspennetjie is heeltemal te hard…

Die mens is `n tropdier, gemaak vir fisies bymekaar kom. Regte nagmaal vier, saamsing uit volle bors, nie net in die hart nie…Saam dans, oefen, sweet, kuier, braai…

(Kyk, lockdown se klippies verf, lees, legkaart bou en Netflix was ook darem nie verniet nie – daardie paar weke van leeglê het gesorg vir lekker emosionele energie wanneer jy weer gewoond moet raak aan kantore, pendelverkeer en kliëntedramas.)

Yuval Noah Harari verduidelik in sy boek “21 Lessons for the 21st Century” hoe die wêreld al vinniger verander danksy inligtingstegnologie, klimaatsverandering en siektes sonder medisyne. Sy raad: bly nuuskierig, leergierig, herontdek, herverpak, bemark jouself.” En bly dankbaar. Dis my d-woord vir die “nuwe normaal”. Ten spyte van 5 maande se grendeltyd het meeste van ons steeds soveel rede tot dankbaarheid. `n Ruim huis, iemand om mee te lepel lê, kinders wat tyd maak vir `n video call, `n vol yskas. Lockdown het my en jou op die skouer kom tik en kom sê:

“Hey, onthou wie jy is! Onthou al die goed wat jou gelukkig gemaak het voordat jy so besig geraak het. Onthou hoe dit voel om aan jou siel aandag te gee…”

Maar lockdown het ons ook kom herinner dat môre nie gewaarborg is nie en dat `n beroep `n voorreg is en nie net `n werk nie. Grendeltyd het my ook weer kom herinner ek gee nie net oefeninge nie. Dis deel van my asem.

Om te sien hoe die musiek en “moves” die lekkerkry soos stoom uit my mensies se koppe sien trek, om in hul oë te kyk en te hoor hoe dit met hul harte gaan. Dis asemrowend lekker!

Covid-19 was verseker nie ons laaste uitdaging nie, En as ons wil hê hierdie “nuwe normaal” moenie abnormaal wees nie, dan moet ons by onsself begin. Groot en wonderlike dinge droom vir ons kinders, weier om op te gee, vertrou, bid, glo. Ons sin vir humor behou. Werk. Lag. Hoop. En dankbaar bly. Want:

Die lewe is ongelooflik. En dan is dit
verskriklik. En dan is dit weer
ongelooflik.
En tussen die ongelooflike en die
verskriklike is dit doodgewoon en
aards en roetine.
Beleef die ongelooflike, byt vas deur
die verskriklike en ontspan en haal
asem in die doodgewone.
Dis hoe mens ‘n hartverskeurende, sielsgenesende, ongelooflike,
verskriklike, doodgewone lewe leef.
En dis asemrowend mooi.
-LR Knost

Hoe sê Landrover-eienaars? ”One life, live it…”

Dit het `n lockdown gevat om ons te herinner wie ons is. Moenie dat dit als verniet gebeur het nie. In die nuwe normaal vas aan `n lamlendige paal?

Nee. Ruk los, sodat jy vry kan hardloop…Volspoed.

Mirna

082 779 0507

2 comments to “IN DIE NUWE NORMAAL VAS AAN `N PAAL?”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Renette says:

    Dis so waar.
    Mens vat so baie goed van selfsprekend en vergeet soms om die mooi en lekker raak te sien tussen al die struikelblokke.

    Almal is so gefokus op hul eie pakkie wat swaar is, maar ons vergeet dat dit ligter is as ons dit saam dra. Of dit kos net iemand om jou te laat besef jy dra onnodig swaar aan klippe wat nie eers in jou sak hoort nie.

    Daar het soveel blessings gekom uit covid ondanks die beperkinge. Ja dit was nie elke dag maklik nie want om als te ballanseer terwyl jy n redelike swaar pakkie moet dra, is nie so maklik nie.
    Maar elke keer net voor ons opgee is daar IEMAND wat d las vir jou ligter maak en net weer jou oë help om met nuwe brille te kyk.

    Ek het so baie by my kinders geleer in lockdown, want hulle, ongeag d kettings, speel nog steeds asof hulle vry is… Die nuwe norm hoef ons nie so vas te bind nie. Kyk net hoe n goeie voorbeeld is ons kinders….

    • Mirna says:

      Dis so waar, liewe Renette. Baie trots ook op jou mooi voorbeeld vir hulle.