Skaars mense…

Die Amerikaanse sportkommentator Ed Cunningham het onlangs gesê: “Friends are those rare people who ask how we are, and then wait to hear the answer.” Ek moet myself deesdae kort-kort herinner dat dié mos eintlik `n fiksheidsblog is, maar luisterfiks is gelukkig ook `n ding…

Met die terugkyk oor hierdie 115 dae van lockdown, is daar verseker hordes dingetjies wat ons meer gedoen het as gewoonlik.  Meer gelees, meer gebid, meer mond uitgespoel, meer resepte uitprobeer, meer hande gewas, meer petrol gekoop vir die kragopwekker en waarskynlik meer TV gekyk.  Maar meer geluister?  Ek dink nie so nie. 

Ja, toe president Ramaphosa die heel eerste keer ons volkie toegespreek het, het ons op die voorpunt van ons stoele gesit en aan sy lippe gehang.  Die laaste keer, toe hy begin met “my fellow South Africans”, het ek ook gebrom “suka wena” en in die bed gaan klim met `n boek.

Die verdwyning van die 19-jarige Stephen Nieuwoudt van Harrismith het ons verlede week almal aan die hart geruk.  Veral na dit aan die lig gekom het dat Stephen, `n skrander eerstejaarstudent, waarskynlik sy eie lewe geneem het.  Ons ken nie Stephen se storie nie, maar ek raak yskoud om te dink wat hierdie seun die laaste klomp weke alles in hom opgekrop en saamgedra het, en sy verhaal kom tik ons almal weer bietjie op die vingers…

Luister ons genoeg na ons kinders, ons mans, ons vrouens, ons naby-mense?  Het ons regtig gedurende grendeltyd rekening gehou met hul begeertes, bekommernisse, hartswense en vrae?  Skep ons vir hul nog `n veilige omgewing om hul waarheid in ons teenwoordigheid te deel en hul woordsoldate te ontplooi?  Of het ons in hierdie klomp weke soveel moedeloosheid afgepak op hulle dat hul eerder hul emosies agter glimlagte en toe deure gaan wegsteek het?

In haar boek “You`re not listening: Why you`re missing and why it matters” sê Kate Murphy `n paar baie insiggewende dinge:

“People in long-term relationships and close-knit families tend to lose their curiosity for each other.  Not necessarily in an unkind way; they just become convinced they know each other better than they do.  They don`t listen, because they think they already know what the other person will say.  

During many conversations, you get just 7 percent of the meaning from the actual words, which could be typed.”

7 persent!  Ek dink ek verstaan vandag beter waarom my ma ons drie dogtertjies destyds in die kar geboender het al die pad na Vanderbijlpark se oudiologie hospitaal vir `n oortoets.  “Want dit klink nie of julle ore het nie”, het sy oppad gesê.

Laat my dink aan die storietjie van die koedoes…Pa- en Ma-koedoe moes vir twee dae na `n ver plek vertrek vir noodsaaklike sake.  Hulle roep toe hulle koedoe-kindertjies bymekaar en vra mooi dat hulle by die ander koedoes in die ruigtes bly.  Die kinders mag onder geen omstandighede naby die rivier kom nie, want koning Leeu was in die omgewing en luiperds het hulle by die rivier tuisgemaak.  Dit was doodsake.  Die klein koedoetjies het hand en mond belowe dat hulle gehoorsaam sou wees.  Toe pa en ma terugkom, is die kinders skoonveld.  “Moet ons nie by die rivier gaan kyk nie”, vra Oupa koedoe.  Einde laaste, toe dit amper donker is, soek die koedoes rivier langs.  Hulle kom op `n klomp koedoe-oortjies af op die rivier se wal.  Leeu spore die wêreld vol.  “Nee”, hou Pa en Ma koedoe vol, dis beslis nie ons kinders nie, want ons kinders hét nie ore nie…

Jip, ons wil baie keer nie hoor nie, dan voel ons.  Maar hoor is een ding, luister is heeltemal iets anders.  ”Luister”, maan Coenie de Villiers en Hemelbesem in hul liedjie met dieselfde naam: “Luister, maak oop jou ore ‘bru’, die woorde roep.  Niemand luister meer nie…”

Kate Murphy maak ook hierdie opmerking in haar boek: “While people often say, “I can’t talk right now,” what they really mean is “I can’t listen right now.”

Stil wees en luister – ek dink ons het almal so bietjie die kuns verleer.  En is dit nie ironies nie – “silent” en “listen” is twee verskillende woorde met verskillende betekenisse, maar met dieselfde letters saamgevoeg.   “The first duty of love is to listen”, het die Duitse filosoof Paul Tillich jare gelede al gesê.  Diep-luister, so noem die slim ouens dit.  Regtig luister, sonder om te dink wat jy volgende wil sê, luister sonder om een keer na jou foon te loer, luister sonder om jou opinie of jou verskoning of jou ideologie te deel, luister sonder om afleidings te maak, luister sonder om besig te wees om jou reaksie te formuleer.  Luister sonder om te voel jy hou net die gesprek aan die gang.  Luister, sonder om een keer in die rede te val.  Stil wees.  En luister.


Het jy geweet die deursnee-mens praat teen sowat 120 tot 150 woorde per minuut?  Dis amper so vinnig soos “Blinding lights” se 150 beats per minuut waarop ons kardio doen.  Vrek vinnig.  G`n wonder navorsers het bevind dat ons net 25% onthou van wat wat ons hoor nie!  G`n wonder Schalk moet gereeld aan die etenstafel maan: “Maar julle hoor nie wat ek sê nie…”

G`n wonder ons lag vir die drie-jarige seuntjie op Facebook wat vir sy ma sê: “But Linda, listen, listen, listen, Linda…”  Dis nie net Linda wat nie meer luister nie.  Ons is almal skuldig.

In die klein Franse dorpie, Taizé, is daar blykbaar `n gemeenskap van Christen monnike wat bekend staan vir hul vermoë om te luister.  Vertaal, in hul reëlboekie, staan daar: “Die kuns om te luister het veelvuldige lae…luister na die person, nie net na wat hy sê nie, maar ook na wat hy is…”

Op Litnet skryf Juliana Coetzer: “Dis `n skaars mens, die een wat sê: “Ek sal luister om te probeer verstaan.  Dis `n ewe skaars mens wat sê: Dit hoef nie nou oor my te gaan nie.  Dis `n nog skaarser mens wat dubbel so lank luister as wat hy praat.  Beskou jouself gelukkig as jou pad met een van die skaars mense s`n kruis.  Jy sal hom herken aan die manier waarop hy luister…”

Dis nie altyd woorde wat die wêreld `n beter plek maak nie, dis luister.  In hierdie tyd van binnetoe leef, kom ons wys ons liefde en nie ons angs nie, ons omgee en nie ons bitterheid nie, ons optimisme en nie ons twyfel nie, in die manier waarop ons luister.  Die wêreld het dit nodig.  Ons kinders het dit veral nodig.  Om te weet hul`t nie nodig om hul woorde te sluk, hul trane weg te byt en hul emosies weg te bêre nie.  Ons is hier.  Ons wil skaars ouers wees.  Skaars mense.  Wat diep-luister.

Mirna

082 779 0507

4 comments to “Skaars mense…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. santie says:

    kani wag vir sondae se ligte novelle!!!

    • Mirna says:

      Baie dankie, Santie. Dit helder my dag op!

  2. Lenie van Zyl says:

    Dankie Mirna! Weer eens praat jy met elkeen van ons. Moet asb nooit moeg word om te skryf nie.

    • Mirna says:

      En baie dankie Lenie, dat jy steeds hierdie lees!