Dag 101…

Dis amper ondenkbaar…101 dae van lockdown, net 26 dae minder as Monique Strydom, wat twee dekades gelede saam met haar eksman, Callie, `n tropiese hel as gyselaars van `n tereurgroep deurgemaak het.

Ja, ja, ek weet, ons is nie gyselaars nie, maar ek weet elke liewe een van ons het `n punt bereik waar ons intens verlang na die mense en dinge wat voorheen so vanselfsprekend was.  Die versugting om te kan doen wat ons wil en te gaan waar ons wil was nog nooit so allesverterend nie.  Terwyl een na die ander onderneming stadig maar seker oopgestel word, kan ons in die fiksheidsbedryf maar net bespiegel hoe lank ons nog grendel-gyselaar gehou gaan word…Maar ons is nie alleen nie.

Op Facebook skryf Steve: “Die musiekbedryf hoes maar lekker, stotterend, soos die motor van ‘n ou dorsmasjien. Ons was nog besig om die einde van CDs te leer verstaan toe Covid-19 die einde van konserte inroep. Met geen goeie vooruitsig nie. Moenie skrik as ek, Theuns, Bok en Juanita by jou opdaag met lewensversekering en beloftes van goeie tweedehandse karre nie…”

Baie filosofiese en vurige gedagtes is al oor lockdown gewissel.  In die laaste paar weke het honderde skrywers, bloggers, kunstenaars en Jan Allemanne al met die wêreld gedeel “wat lockdown hul kwansuis kom leer het…”  Vir in geval jy Blou Willem se lysie in Beeld verlede week misgeloop het, hier`s dit, kostelik en kosbaar:

“Ek het geleer dat daar niks is wat `n vrou nie kan skoonmaak of regpak nie.  Tweedens, dat `n Gauteng-granaat 937 pitte het.  Derdens, dat net Ephraim my grassnyer en vir my verstaan.  En vierdens, dat `n man net soveel keer kan kyk na 1995 se Wêreldbeker-wen en dat die eerste “Kook en Geniet” van 1951 steeds die lekkerste resepte het…”

Ek self het duisende goed in lockdown geleer, maar as ek dit moet opsom lyk dit so:

Dit help niks om tydens `n inperking vas te klou aan wanneer presies dit verby sal wees nie.  Bôggerol niks!  Ek het geleer dat jy diep moet asemhaal en net moet vashou aan wie jy is en waarin jy glo.  En dat jy moet weet dit is sterk genoeg om jou deur te dra.

Ek het geleer dat my betekenis van die woord “essensieel” nie naastenby in lyn is met mnr Ramaphosa s`n nie. En dat die term “nuwe normaal” my bietjie bangmaak.  Ek het egter ook geleer om anders oor besigheid te begin dink en dat die onsigbare vyand nie my passie by my kan wegvat nie en dat mens op `n baie mooi manier kan terugvat wat van jou gesteel is. 

Ek het geleer dat mens met veel minder kan klaarkom as wat mens gedink het, en dat my idee van “hard probeer” eers in grendeltyd regtig ingeskop het.  Ek het opnuut geleer dat ek so graag my ma op “speed dial” sou wou hê, en dat my gesin my hart se diepste punt bly.  Ek het veral geleer dat die voorbeeld wat ons vir ons kinders stel, baie meer saakmaak as wat ons dink en dat hulle ons baie fyner dophou as wat ons ooit sal besef.

Ek het dit al tot vervelens gesê maar ek sê dit nog `n keer – lockdown het my geleer dat ons mekaar nodiger as ooit het.  Soos die Amerikaanse geestelike skrywer, Richard Rohr, dit stel: “Remember, the isolated individual is fragile and largely helpless to evoke long-term change or renewal. By ourselves, we can accomplish very little.”

Maar ja, ek dink ons het nou genoeg Covid-lesse geleer, dankie.  Vir `n eksamen in maskers en groet en sanitasie en afstand en hoes in elmboë en onregverdigheid en skelmgeit en mensekennis en klik sal ons nou almal volpunte kry.  Ons weet nou selfs wie is daai mense wat op laerskool na pouse klas toe gehardloop het en die juffrou herinner het dat ons moet toets skryf…

`n Mens kan nooit genoeg leer nie, maar ek dink ons is nou Covid-volleerd.   Soos Shaun Hick skryf in “The Ghost and its shadow: “You need to spend time crawling alone through shadows to truly appreciate what it is to stand in the sun.” 

Covid-19 is hier om te bly, maar ons ook.  Ons is nou reg om ons sonskerm aan te smeer, op die strand te stap, in die wildtuin te oornag en die lewe van voor af te waardeer en te geniet.  Ons sal baie, baie dankbaar wees…

In daardie selfde rubriek laas Maandag sê Wilhelm Jordaan ook dankie – “Vir Eksdom wat hom selde gedurende lockdown in die duister gelaat het (duidelik woon hy nie in Ermelo nie, sug).  Vir sy liewe ander helftetjie wat ongeveer 150 spelle Krabbel saam met hom gespeel het sonder om te kroek, en aan Fritz, wat sy tweede pa was en dat hy dankbaar is dat hy een van die uitverkore 50 kon wees wat Fritz daardie week finaal kon gaan groet…”

Ek wil ek graag, nog `n keer sê dankie vir Schalk, Eswee en Mariné wat my kopwurms op hok hou en my op my tone in my baan hou.  Dit kan nie maklik wees nie, maar hulle doen dit toe-oë.  Dankie vir elke oefenlid wat in hierdie klomp weke so getrou saam my aanhou oefen het, op YouTube en op Zoom, en aan elkeen wat glo dis die moeite werd om Sondae hierdie Blog te lees.

Op hierdie 101ste dag van inperking is ek tot oorlopens toe dankbaar.  Al staan ek steeds elke oggend baie vroeg op is ek veral dankbaar dat hierdie koudste winter in 8 jaar besluit het om te wag vir lockdown…☺

…Ek het die afgelope tyd baie goeie voornemens gehoor: “As ons hier uitkom, gaan ek meer dit en minder dat…” Dis doodeenvoudig wonderlik dat almal van ons ontdek het dat ons anders na die wêreld kan kyk, maar dis sekerlik net die tyd wat sal leer of ons uiteindelik maar weer gyselaars van ons gewoontes gaan word.  Of gaan ons anders “doen”?

Ek dink ons gaan.

Ek glo ons gaan minder behep wees met ons eie goedjies en tyd, minder vasgevang in ons eie wêreldjies en ons eie selfoorlewing.

Ek glo ons gaan regtig meer empatie hê en dieper omgee.  Ons gaan meer vrygewig wees en onthou om elke asemteug te waardeer en ons vryheid nie as vanselfspekend aanvaar nie.

Ek dink regtig ons gaan.  Want ons doen reeds…  

Mirna

082 779 0507