Om te droom terwyl jy wakker is…

En dit was aand en dit was môre…En op hierdie 73ste dag van Lockdown, ou matta, is ek so opgewonde ek kan `n dooie jakkals aan die draf praat.   Hierdie eerste week van Junie was `n ou grote. 

Toe Mariné verlede Sondag vir ons die 38-bladsy lange PDF-dokument stuur waarin dié hele hofsaak (de Beer vs the minister of cooperative governance and traditional affairs) in detail uiteengesit word, was ek oortuig Reyno de Beer is `n invloedryke, welaf sakeman…

Reyno de Beer is twee maande agterstallig met sy huurgeld vir die skuur waarin hy en sy gesin op ’n hoewe in Derdepoort, Pretoria, bly.  Die kleuterskool het laat weet sy dogtertjie mag nie weer terugkom ná die inperking nie, want die de Beers skuld hulle te veel geld. Reyno de Beer ry `n 1987-model Citi Golf sonder `n paneelbord en `n nommerplaat wat heeltyd afval.  Twee weke ná die inperking was die laaste R600 in sy bankrekening die laaste strooi vir dié Pretorianer.  En toe?  Toe vat hy die regering hof toe oor hul mal regulasies en die feit dat hul nie `n noodtoestand verklaar het nie.   

Drie harde hiep-hiep-hoera`s vir Reyno Dawid de Beer en sy Liberty Fighters Network danksy wie die nasionale inperkings-regulasies ongrondwetlik verklaar is in die Noord-Gautengse Hoogeregshof.  Reyno se tweede naam is nie verniet Dawid nie…Sjoe.  Vat so, Flaffie!

Dié week in Junie wás `n grote.  Elon Musk het geskiedenis gemaak en ons so `n rukkie lank laat vergeet van Covid-19, toe Crew Dragon, die eerste privaat ontwikkelde ruimtetuig suksesvol lanseer is.  “Daar is 18 jaar lank aan hierdie doelwit gewerk, en dis moeilik om te glo dit het gebeur”, het die 48-jarige Musk, oorweldig met emosie, aan die pers gesê.

Hierdie week WAS `n groot een.  Vir ons ook.  Mirna’s Aerobic Studio se virtuele Winter Challenge het Maandag afgeskop, en `n volle 50 deelnemers het al ingeskryf!  Ek dink aan Elsa se woorde daai Dinsdagoggend voor Lockdown terwyl sy vir oulaas vervaard op die treadmill stap: “`n Tyd van nuwe geleenthede en kanse…”  Min het ek toe geweet hoe waar haar woorde sou word.

Want toe Stacey 6 weke gelede op Facebook “skimp” vir `n “lewendige” oefenklas, het my maag met `n Nadia Comaneci-flikflak gebollemakisie tot reg binne in my keel.  Dit het regtig na `n onmoontlike taak gevoel…

Maar, nes Crew Dragon, het ons studio dié week vlerke aan ons voete gekry, ons Zoom dat die seratonien spat en ek besef net opnuut hoeveel ryker ek hierdie lockdown geword het.  En dit het heeltmal niks met rand en sent te doen nie.  Glo my.

Ek het geleer dat mens nooit te oud is om iets nuuts te leer nie.  Dat daar altyd `n nuwe perspektief, uitdaging en geleentheid opduik.  En dat dit nooit te laat is om nuwe ruimtes te ontdek nie.

Op 53 moes ek noodgedwonge vertroud raak met Zoom, spook om my eie oefenvideo`s en foto`s op kamera vas te lê, stoksielalleen in die studio, blitsvinnig die vaardighede van`n goeie persoonlike afrigter bemeester, gewoond raak om my te verbeel ek oefen saam met regte mense in die studio en Excel baasraak.

Dié was inderdaad `n groot week.  Die legendariese skryfster, formidabele terggees met die duiwel in die kuiltjies op haar wang en reus in die Afrikaanse literatuur, Jeanne Goosen, is Dinsdagnag oorlede.  “My lewe is `n boek: te pynlik om te lees, te boeiend om neer te sit”, het Jeanne eenkeer gesê.   In `n aandoenlike huldeblyk skryf Hettie Scholtz: “Ons gaan jou mis, ou Jiena.  Jou spore lê ons wêreld vol.”  Sjoe.  Mooi.

Ek wonder hoe gaan dit vandag met JOU in grendeltyd.  Voel jy ook soos Stefanie Keyser in `n Facebook-opmerking: “Gef#k maar gefokus?”  Of soos Hekelwoorde van my hart dit sagkuns stel: “Moertoe maar magtig”?  Voel elke dag soos dieselfde dag, wat elke oggend voor begin?  Moedeloos, en LUI, in HOOFLETTERS, BOLD en KURSIEF?

Of het Reyno Dawid de Beer en Elon Musk ook die vlammetjie van motivering in jou hart kom laat flikker?  Reyno Dawid de Beer het besluit – tot hierdie en nie verder nie.  En soos `n wafferse Dawid ons almal se Goliat konfronteer.  Musk het vir die laaste twee dekades aan sy droom geskaaf, sonder moed opgee. 

Wanneer ons inperking eendag opgehef word – wat gaan jy sê het jy geleer?  Dat skottelgoed droogword as mens dit lank genoeg laat staan?

Nee, soos Chantelle de Wet skryf in haar Blog “Ruimte”: “Die ruimte is maar net een plek om te gaan ontgin.  Begin klein.  In jou huis.  In jou tuin.  Selfs net in jou binneste.  Maar in hemelsnaam, moenie jou ruimte afbreek tot `n spikkel wat niksseggend gaan sterf nie.  Skep jou eie ruimte.  Doen wat jy moet doen, nie net wat jy glo jy kan nie…”

Kan ek dit weer sê – doen wat jy moet doen, nie net wat jy glo jy kan nie…Jy alleen ken jou hartsbegeertes, jou drome vir 2020.  Moenie wag tot lockdown verby is nie.  Sê nou dis eers 2021?   

Jeanne Goosen het ook gesê: “Om te skryf is soos om te droom terwyl jy wakker is.  Dis soos om te toor…

In haar book “Think great be great” skryf Lailah Gifty Akita: “Wishes are possibilities. Dare to make a wish.” Luckily, we don’t sleep standing. Who knows where the dream will take us!”

Gryp dié mooi woorde uit The hope handbook van Germany Kent: “God has already equipped you with the skills you need to achieve your dreams. If you just try, work hard, take control of your destiny, remain true to yourself and believe it is possible, you will have unlimited power to achieve the impossible.”

Mag hierdie tweede week in Junie vir jou `n goeie een wees, mag jy mooi drome droom terwyl jy wakker is en mag JOU spore jou wêreld vol lê.

Mirna

082 779 0507

2 comments to “Om te droom terwyl jy wakker is…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Rethia Naude says:

    Mirna……..,
    Dankie, dankie, dankie…….,
    dat jy altyd j#u alles vir #ns d#en/gee,
    dat jy altyd gef#kus bly,
    dat nie eers “grendeltyd” j#u #nderkry
    dat mens m#edeloos, nie in j#u w##rdeskat kry,
    dat jou dr#me nie lugkastele bly.
    Dankie, dankie, dankie……., JY!

    • Mirna says:

      Dankie Rethia! Dié beteken baie vir my! En die voorreg is myne…