HERFS 2020…

Onlangs skryf Dana Snyman: “Dit was die herfs toe ons vooraf te veel toiletpapier en te min wyn gekoop het.  Die herfs toe ons aan onsself bewys het ons is `n spesie wat nie met onsekerheid kan saamleef nie.  Die herfs toe elke dag later soos `n Sondagmiddag begin voel het en ons weer soos oorle Ouma begin gemmerbier maak het.  Dit was die herfs toe ons vir mekaar gesê het: Niks gaan ooit weer dieselfde wees nie…”

Vandag is ons 59ste dag van inperking, en ek dink ons kan met sekerheid sê, dat elkeen van ons nou mooitjies deur Elisabeth Kübler-Ross se 5 stappe van rou gewerk het.  Ja, 5 stadiums van verdriet het dié Switsers-Amerikaanse psigiater jare gelede identifiseer en neergepen in haar topverkoperboek “On Death and Dying…” Nee,  niemand wat na aan ons is het al beswyk aan dié virus wat ons nie met die oog kan sien nie, en tog het elkeen van ons al in hierdie lang weke van grendeltyd die “Kubler-Ross-model” persoonlik deurgewerk. 

  • Ontkenning: “Nah, ons sal verseker nie langer as vyf weke ingeperk wees nie.”
  • Woede: “Hoe verklaar mens dit – dat 23 ingevoerde Kubaanse Corona medici positief getoets word vir Covid-19, en dat 19 000 tronkvoëls bevry word om plek te maak vir 2 branderplankryers en `n tannie wat atjar verkoop!? Gmpf!”
  • Onderhandeling: “As the department of Health in Eastern Cape, we reiterate that MEC did not participate in any unauthorised release of gas…
  • Depressie: “Van die vyf kilogram wat ek in lockdown wou verloor,het ek nou 10 opgetel…”
  • Aanvaarding: “Januarie, Februarie, Maart, Lockdown, 2021…”

Jip, ek dink, vandag, op hierdie Sondag van 24 Mei, na meer as 8 weke van grendeltyd, is ons almal se senuwees so bietjie rou gerasper.  Covid-19 het ons spoed gebreek, ons planne in die wiele kom ry en ons drome se datums onsimpatiek kom aanskuif.  Met `n lysie langer as die tien gebooie word ons voorgeskryf wat ons mag koop en waar en wanneer ons mag oefening kry.  Ons moet dit en ons mag nie dat. G`n wonder die webwerf Health 24 berig dat die gemiddelde volwassene se stresvlakke met meer as 50 persent toegeneem het in die laaste paar weke nie.

 Op 19 Mei publiseer Maroela Media die aangrypende redakteursbrief van Susan Lombaard, uitvoerende hoof, onder die opskrif: “Ons mag maar kwaad wees”.

Hierin skryf Lombaard: “Vandag is ek kwaad.  So kwaad dat die trane loop.  Ek is kwaad dat goeie mense met goeie harte hof toe moet gaan om te veg vir die reg om vir honger mense grondboontjiebotterbroodjies uit te deel.  Ek is kwaad omdat ek my meisiekind wat vanoggend hartseer was oor al die eerstes van haar hoërskoolloopbaan wat sy mis, nie kan troos met `n McDonalds-draairoomys nie.

Ek is kwaad dat my seun vanoggend bang was vir die polisie omdat hy en sy hond tien oor nege eers by die huis aangekom het.  Ek is kwaad oor my vriendin nie haar siek pa in die hospitaal kan gaan besoek nie.  Ek is kwaad oor alles, maar ek`s die kwaadste oor die grondboontjiebotterbroodjies, en ek weet, hierdie een keer, mág ons maar kwaad wees…”

So waar as vet, ek was ook al kwaad die afgelope paar weke, en moedeloos, en as ek mooi dink besef ek dit moes met tye ook maar lekker deurskemer in my Blog.  Want wat die hart mos van vol is…(Sorry, julle.)

Maar…die afgelope paar dae het ek onthou van my ouma se roomys-wysheid…Een warm Sondagmiddag, jare gelede, daar op ons plot in Vereeniging, terwyl ons in die koelte sit en smul aan waatlemoen stokkieroomyse, het Ouma gesê: “Wat saak maak, is hoe jou roomys proe terwyl jy hom eet…”

Ek het nie daardie dag verstaan wat sy bedoel nie – ek dink haar woorde het nou, tydens lockdown, eers vir my begin sin maak.   Grendeltyd is nie so smaaklik soos `n stokkieroomys nie, maar dit gaan nie vir ewig aanhou nie – hoe gaan ek en jy anderkant uitkom?  Uitgeput, platsak, verbitter, oorgewig, desperaat en opstandig?

Of, soos dr Seuss, daardie legendariese kinderboekskrywer, wat nooit anders gedink het as uit die boks nie.  Theodor Seuss Greisel het sy kreatiwiteit met pret gemeng en homself die hele tyd herskep – dikwels om te oorleef.  Gedurende die Tweede Wêreldoorlog het hy vir die Amerikaanse Lugmag animasierolprente gemaak om soldate te vermaak.  Sy passie om kinders lief te maak vir lees het hom uiteindelik verskeie Oscar-toekennings en `n Pulitzer-prys in die sak gebring.

Dis egter hierdie aanhaling van Seuss, wat op hierdie Herfs-Sondag tot my redding kom: “Vandag wil ek leef asof hierdie die dag is waaraan mense my gaan onthou…” 

Jy sien, ons kan die regering, of die virus, of Bill Gates, of China, of die media en die ekonomie blameer, tot ons blou is, dit gaan niks verander aan ons omstandighede nie.  Ons kan vashaak by opstandig wees oor inperking en onsself as gevangenes in `n oorlewingstryd te sien, maar dit gaan uiteindelik net een ding beteken: 

Lockdown – 1.  Ons – ronde nulletjie. 

Of ons kan besluit om hierdie grendelgriep-roomys as `n geleentheid te sien en vlerke gee aan ons kreatiwiteit en veerkragtigheid.   Die befaamde Spaanse kunstenaar, Pablo Picasso was reg toe hy gesê het: “Without great solitude, no serious work is possible…”

Behalwe vir die rou-eier-drink-fase, het ek die afgelope paar maande self ervaar hoe sosiale media mense landswyd verenig het.  Verskeie e-konserte het ons siele al kom voed, op #Sariegesels word digitale rusbankstories uitgeruil en selfs Spoegwolf het al `n kreatiewe platform geskep.  Sonder om `n voet uit die dorp te sit, het fantastiese mense soos Liese, Lezelle, Rose, Santie, Yolene, Ivy, Lilian van Carnarvon en Carly, al die pad uit Zimbabwe my Zoom- en Instagram-paadjies kom kruis. 

…Inperking het ons gedwing om uit die boks te dink, en te klim.  Die afgelope paar jaar het ek daarop geroem dat ek my lede aanspreeklik en gedissiplineerd kon hou, juis gedurende die wintermaande.  Ek kan hulle nou wel nie op die oomblik weeg en meet nie, maar ek hoef nie langer alleen in die braaiplek te oefen nie.

Ek hoef nie langer bloot staat te maak op onpersoonlike YouTube-videos en aanhalings om my mensies gemotiveerd te hou nie.  Danksy Zoom kan ek almal nou steeds inwag en “ontmoet” met lekker musiek en `n goeie oefensessie.  In die studio.  Elke dag.  Klokslag.

As Steve Hofmeyr op sy Facebook-blad kan skerts dat hy homself “uit dié nasionale depressie kan sing”, dan kan ons onsself in volle glorie steeds daaruit oefen…☺, of draf, of lees, of studeer, of bak, of bou, of brei.

 Aan die grendeltyd se reëls kan ek en jy nie `n duit verander nie, maar ons kan ons eie dag verander, bloot deur die alledaagsheid daarvan te verheerlik. 

…Ons mag maar kwaad wees, maar ons moenie kwaad BLY nie.  Niks gaan sekerlik ooit weer dieselfde wees nie, maar eendag gaan ons weer die voorreg hê om ongestoord om ‘n braaivleisvuurtjie te kuier in die Krugerwildtuin.

Dan gaan ons praat oor hierdie Herfs.  Die herfs toe ons saam gelag het oor die belaglike voorskrifte.  Die herfs toe ons brille toegewasem het agter kleurvolle maskers.  Die herfs toe ons ons kinders so bietjie nader aan ons gehad het en mekaar so bietjie meer waardeer het.  Die herfs toe ons tuisonderrig gegee het. Die herfs toe ons nuwe gewoontes gekweek het en moeilike uitdagings oorkom het.  Die herfs toe ons onthou het dat stokkie-roomyse net so lekker proe soos McDonalds-draairoomyse.  Die herfs toe ons glase halfvol was. Die herfs van 2020, toe ons weer moed geskep het.

Daarom post ek ook vandag ons “Fight song”-workout op YouTube

Like a small boat
On the ocean
Sending big waves
Into motion
Like how a single word
Can make a heart open
I might only have one match
But I can make an explosion

This is my fight song
Take back my life song
Prove I’m alright song
My power’s turned on
Starting right now I’ll be strong
I’ll play my fight song
And I don’t really care if nobody else believes
‘Cause I’ve still got a lot of fight left in me

Mag jy die res van hierdie grendeltyd leef asof dit die tyd is waaraan mense JOU gaan onthou.

Mirna

082 779 0507

4 comments to “HERFS 2020…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. santie says:

    weet jy mirna.. dis min mense wat “joernaal-mense” is .. veras om t sien jy groepeer da onr!! want ek is ene ..
    dus: ek luvvv jou oefening en ek luvvv jou journaling.. so goed! ekt begin om n joernaal t skryf oor my mamma so 30jr gelede .. Toe is sy vermoor voor ek baie belangrik vrae kon vra soos hoe het sy gevoed toe sy ons kinders na d kinderhuis toe moes neem ens .. ekt d joernaal toegmk en 10jr gelede oopgmk en n reunie gereel met my ander 6 boeties en sussies en hulle laat praat oor mamma en d kindrrhuis terwyl ek alles record .. probeer dit als oorsit in n video-formaat ..
    ag hoe lekr chat ek nou met jou! xxxxx

    • Mirna says:

      Ek so jammer ek antwoord nou eers! Baie dankie Santie, so bly ek kon jou leer ken deur middel van lockdown saamoefen! Dankie vir die deel, dit moes swaar wees vir jou!

  2. Denise says:

    Uitstekend, spyker op sy kop. Dankie Mirna

    • Mirna says:

      Dankie Denise!