Vanoggend stuur Delien vroeg-vroeg uit Pretoria…”Day 17 of the StayHomeSa Challenge: One thing I am thankful for today…”
Oeg, ek kan aan `n paar dinge dink…dis die eerste keer in 4 jaar wat die kinders Paasnaweek tuis is. Wat `n voorreg om vandag voltallig saam te wees om `n mooi gedekte tafel, skaapboud en pampoenkoek. Samesyn. Gesondheid. Gisteroggend WhatsApp Gosia dat daar `n verrassing voor ons hek wag – paaseiers en Gosia-kolwyntjies. Dankbaar is ek. Tot in my kleintoontjies. Dankbaar vir soveel gesinne, soos myne, wat uiteindelik weer gesinne geword het. Dankbaar oor elke dag wat ons land se syfer nie met honderde toeneem nie, dankbaar oor elke brokkie hoop uit die buiteland – ek kry hoendervleis om te sien hoe `n 104-jarige oorlogveteraan, die Amerikaner William Lapschies volkome herstel van Covid-19. Trots op die 21-jarige student wat vir sy 80-jarige buurvrou inkopies gaan doen.
Ek dink aan Simone Zanetti, die sogenaamde “Digital Rainmaker”, die Italiaanse aanlyn-besigheidsman wat presies drie weke gelede op YouTube voorspel het dat daar op 4 April 2020, 4000 Covid-19 sterfgevalle in Suid-Afrika sou wees. Ek sien vanoggend 41 000 mense het hierdie video’tjie gekyk, en ek wonder hoeveel het dit toe geglo…Vanoggend is daar 25 sterfevalle. God seën Afrika…
…Meer as ooit gaan my hart uit na daardie kinders wat nie vandag ouers, of kos, of lopende water het nie. Na daardie gesinne wat `n badkamer vir `n sitkamer het, na elke arm enkellopende met geen heenkome nie. En hoe dankbaar ek ook al is in hierdie tyd vir Wifi, wonder ek ook hoeveel kinders verwaarloos eensaam is in kastele vol tegnologie, sonder drukkies of omgee of gesels.
Ek is onrustig oor hoe die verdere 14 dae “op hok”, sonder drank- en sigaretverkope, ons syfers van huishoudelike geweld gaan raak…Onrustig oor Niki en elke ander matrikulant wat volgende jaar so graag wil begin studeer…Daar’s genoeg dinge om oor bekommerd te wees, want hierdie virus en elke gevolg daarvan is nie in ons hande nie. My lede wonder ook seker hoekom ek nog nie `n motiveringsvideo vir April gemaak nie…ek dink ek het regtig nog nie die emosionele woordeskat om dit wat tans met ons gebeur te verwoord nie…
Verlede week hierdie tyd het ek die opskrif van my Blog getik – Lockdown Day 10. Ai, en net so word ons inperking verleng met nog 14 dae. My oupa sou gesê het, Murphy’s Law, die Wet van Verdomp…Want vandag is ons terug by Dag 3, hiehie. Toemaar, ek weet, dis eintlik regtig glad nie snaaks nie, maar ek kan nie help om so ‘n bietjie te giggel oor die manier waarop duisende Suid-Afrikaners die inperking troef nie.
Ons sin vir humor gedy, soos altyd, en as ek net kyk na al die foto’s en video’s wat almal vir my aanstuur, oefen almal harder as ooit. Dis ongeflippenlooflik! Mense hardloop op en af in hul opritte, oefen in die sitkamer, doen Tabata, en in twee weke het die subskripsies op ons YouTube-kanaal geklim met 234 tot ‘n volle 810. Ek is nou wel heimlik so ‘n bietjie besorg oor dié paar vriendinne wat skerts dat hul deesdae net in oefenbroeke rondlê “vir daardie ekstra stretch”, want hul denims se knope oefen al meer sosiale distansiëring op mekaar uit…Maar ek glo hul grap sommer net…☺
Meer as ooit tevore het ek bewus geraak van die krag van positiewe denke. Al voel ek baie dae soos `n banneling op `n eiland in `n Tom Hanks-fliek, al breek my hart oor Mariné se teleurstelling om haar 22ste verjaarsdag nie in die Kaap te kan vier nie, al moet ek hierdie jaar kopkrap oor `n tuisgemaakte geskenkie op 22 April, en al voel dit of ons elke dag 6 keer armer word as wat die rand val en die virus toeneem, is ek steeds hoopvol.
Want dis in hoop waar ons krag opgesluit lê. Daar is meer as `n virus in die lug. Die lug en water is skoner as ooit. Selfs die geraas in ons koppe het skoner geraak. Het jy dit ook agtergekom?
Ek het die afgelope paar weke geleer dat die enigste ding waaroor ek beheer het, dit is wat ek dink, doen en sê. Ek het geleer dat ons met veel minder kan klaarkom as wat ons nog altyd gedink het. Wat ons het IS net genade. Wat ons het, IS net geleen. En nou is dit Paasfees.
Op Facebook skryf Steve Hofmeyr: “Dis die stilste Paasnaweek in menseheugenis. Dinktyd. Danktyd,” Ek hou my gesin vandag ook styf teen my vas en weet dan hoe lief God die wêreld gehad het. Ek wens jou dieselfde seen toe…
Gisteraand ontdek ek Karen Zoid, Neil Sandilands en Early B se raakvat-liedjie op YouTube…”Toe die wêreld stil gaan staan…” Hoop dit raak jou hart ook…
Gaan ons oorleef? Ek glo so. Gaan ons weer lag oor simpel goed? Ons het nog nooit opgehou nie. Bly veilig. Bly tuis. Hou op kerm. Geniet `n paaseier. Kom tot stilstand. Waardeer elke stil oomblik. Dis nie vir altyd nie. Moenie bang wees nie. Moenie moed verloor nie. Skep herinneringe. Wees dankbaar. Wys dat jy dankbaar is. Sê dat jy dankbaar is. Want Hy wat opgestaan het, het ook reeds die coronavirus oorwin.
Mirna
082 779 0507
4 comments to “TOE DIE WêRELD STIL GAAN STAAN…”
Dankie vir jou en die hoop wat jy ons gee, al is jy ook onder lockdown…. vandag is vir my erg, knie is eina wil oefen maar hy wil nie, dan hoor ek die vis arende roep en jou boodskap kom deur , en ek weet daar is hoop….
Baie dankie, Malie. Sjoe, ja, jy het nou ver gekom. Byt vas. Pas daardie knie mooi op. Liefde
Mirna, ken jou deur sus Delien wat van jou blogs met my deel. Dankie vir die oopskryf van kwessies en die deel van kommernisse en die bring van hoop. Este
Baie dankie, Este, hierdie boodskap beteken sooo baie vir my!