Ballade vir dié enkelinge…

…Ek moes eintlik al in week een van ons “hoktyd” `n skryfstuk aan hulle opgedra het, maar nee, ou matta, was mos te behep met my eie ou dingetjies.  Ek praat nou nie van Leon van Nierop, Armand Aucamp en Donnalee Roberts se film- en roman enkelinge nie.  Ek praat van hulle wat die afgelope 30 dae inperking as stoksiel-alleenlopers moes oorleef.

…Ek het lekker skaam gekry so twee weke terug…Terwyl ek so oeee-en-aaaa in my Blog oor gesinne wat weer gesinne word en kuiertyd en deeltyd en jammer voel vir die haweloses en die werkloses, vergeet ek toe mos skoon van die kraai-en-kindloses.

…Moet my nou nie verkeerd verstaan nie.  Ek bedoel nie ek kry hulle jammer of hulle kry hulself jammer nie – dis tog immers grootliks uit vrye keuse dat hulle in die eerste plek alleen woon.  Maar vra ons hulle ooit gereeld genoeg hoe dit regtig met hulle gaan…?

Ek ken Delien, Amanda, Betsie, Pieter, Marie-Louise en Pierre – ek weet van Patience, Alta, Elsabe en Mert, en ek het gehoor van Christien, Andries, Desiree, Eben, Elmarie, Kathy, Nicci, Nozipho en Vimla.   Maar daar`s nog derduisende alleenlopendes (o, jitte, selfs hoekie vir eenames sal nou `n ander term moet bedink – want ons mag nêrens meer sommer loop vir die lekker nie) in hierdie tyd…ja, hulle het hul katte en hul honde en Wifi en Netflix en Facebook en YouTube…Maar:

Niemand om hulle in die oë te kyk en te verseker dat als okei gaan wees nie.

Niemand om saam met hul daardie laaste glasie rooiwyn te drink nie.

Niemand om hulle te help skottelgoed was nie.

Niemand om saam met hulle te oefen voor die televisie nie.

Niemand om saam met hul `n vleisie op die kole te braai nie.

Niemand om saam met hulle wakker te word en `n slegte droom mee te deel nie

Niemand om vir hul die toiletpapier aan te gee as hul gaan sit het sonder om te besef daar`s nie `n enkele velletjie oor aan die rol nie…

Terwyl die res van ons kerm oor die inperkingstyd en ma`s kerm oor kleuters en kinders en tuisonderrig en vrouens spot dat hulle nie kan wag om hulle manne iewers heen te stuur nie, is daar duisende mense wat die laaste klomp weke tevrede moes wees met `n selfoonstem en televisie-gaste.  En hul enigste geselskap?  Die vriendelike hadidapaartjie wat kom broodkrummels pik op die stoep.  Wanneer hulle met `n weeklikse uitstappie by Spar indraf, moet hul twee keer keel skoonmaak sodat hul verroeste stembande `n paar woorde kan wissel met die kassier.       

…Gelukkig word die koronavirus nie om dowe neute die koningin van ontmaskering genoem nie – dis `n tyd van probeer sinmaak, met die uitdaging van `n binne-reis vir élkeen van ons.  Ek dink nogal Johann de Lange som die ingrendeling die beste op met dié woorde:

“Ek reis nêrens heen, en oral:

In hierdie sel ontwar ek

`n heelal, `n aardbol…”

Ek weet nie of ek regtig veel met my ballade vir elke liewe enkeling vandag sal bereik nie, solank jy, alleenloper, allendromer, weet,  dat die inperking elke liewe een van ons so `n bietjie kom rondskud het.  En elkeen van ons so bietjie kom vereensaam het.  Met allerhande stiltes…

Daar is vanoggend by meeste van ons die stilte van onmag oor ons voorgesê word om die volgende paar maande met maskers in vlakke te leef – as ek die ding so bekyk, val gyms (en haarkappers, behoede ons) in vlak een.  Ek voel vereensaam oor ek my geleentheid om `n volwaardige deelnemende mens verbeur en dat daar van my verwag word om polities korrek dankbaar te wees daarvoor. 

Daar is die stilte wanneer ek wakker word vyfuur en nie weet of dit Donderdag, Dinsdag of Sondag is nie. 

Daar is die stilte van onmag om dieselfde dag oor en oor te leef en elke aand te gaan slaap in die goeie geloof dat daar iets goeds uit als gaan kom. 

Daar is die stilte van verlang na my oefenklub en my lede en die musiek wat pols deur die kragtige Wharfdale luidspekers. 

Daar`s die stilte van eensame frustrasie – jy weet iets is verkeerd maar jy weet ook nie eintlik wat nie.  (Die slim ouens sê dis `n normale fenomeen, maar dit maak dit nog steeds nie beter nie.) 

Daar is die stilte van te veel tyd op hande hê.  Die stilte van skaamkry oor ek sommer nou die dag nog op `n Maandagoggend vieruur gewens het vir net nog een dag naweek en bietjie vrye tyd.

Daar is die stilte van meer vrae as antwoorde.  Want hoekom is versiersuiker genoeg rede om die huis te verlaat, maar ek mag nie vyfuur in die oggend gaan Bootybarre nie?  Hoe kan een werk as meer essensieel as `n volgende klassifiseer word?  Hoe kan ons ingeperk word met 8 tot 5 spertye?  Hoe bly ons hoop dat ons elke dag een treetjie nader beweeg aan vryheid as ons nie eens weet wat hierdie “vry” wees gaan inhou nie?

Daar`s die stilte van wonder – Wie is ek regtig wanneer ek net by die huis moet bly?

Maar, daar`s darem ook die stilte van kreatiwiteit ook, waarin Eswee daar agter die lessenaar in sy slaapkamer besig is om `n fantastiese skripsie op te tower, Schalk ons verras met `n ongelooflike nuwe hoendergereg, Mariné stil-stil, bietjie vir bietjie `n handstand bemeester en haar groot verlang agter `n dapper glimlag verberg, en ek optimisties wonderbaarlike choreografie bedink vir eendag, wanneer ek die studio se deur weer mag oopsluit…

En dan…daardie oneindige stilte wat alles omvat, wat eintlik nie stilte is nie, wat elkeen van ons ontdek omdat die lewe ons voete onder ons uitgeslaan het en ons op ons rûe laat beland het.  En nou? Nou kan ons net OPkyk en weet – Ons tyd is nie Sy Tyd nie.  Sy planne is anders as ons s`n.

…Vergewe my dat ek vir `n oomblik bietjie van jou vergeet het, liewe enkeling.  My wens vir jou, met hierdie ballade, is dit:  wanneer die alleenwees in hierdie dae soms ongenooid en akuut in jou lyf kom vassit en die stilte teen jou hart se kamers kom druk vir uitkom, mag jy ervaar hoe elkeen van daardie krakies van eensaamheid met vrede gevul word.    

En die res van ons?  Mag Sy Vrede, wat alle verstand te bowe gaan ons elke dag herinner dat ons deel is van iets groter as onsself, al maak dit baie dae glad nie sin nie. Die son kom elke oggend op, so dit moet iets beteken.  Daar IS soveel om voor dankbaar te wees.  En wie weet, dalk is ons, “after all”, nie eens so ingeperk as wat ons gedink het nie…

Mirna

082 779 0507

6 comments to “Ballade vir dié enkelinge…”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Colette Barnard says:

    Dis pragtig, as ek enkel was sou dit my hoop gegee het

    • Mirna says:

      Dankie liewe Colette!

  2. Carien Bester says:

    Jy het soos altyd die vermoë om jouself in ander se skoene te plaas liewe Mirna!! Jou blogs is soos altyd, baie realisties en lekker om te lees! Soos jy al gehoor het is ek nie baie lief vir lees nie. Al wat ek lees is jou blog en my Bybel… en so af en toe ‘n interessante artikel wat op my pad kom ♥️

    • Mirna says:

      Dan voel ek baie geëerd dat jy kies om die blog te lees, Carien. Dankie vir jou moi hart.

  3. Amanda says:

    Mirna,
    Baie dankie vir nog ‘n genotvolle, lekkerlees storie! En dankie ook vir die ode aan enkellopendes; knap gedaan. Verseker baie vreemde tye waarin ons onsself bevind. Gelukkig is daar baie goeie vriende, vriendinne en viervoetige kinders om te verseker dat die las van alleenheid nie te swaar raak nie.
    Soos die frase wat deesdae al hoe meer gebruik word; this too shall pass.
    Groete van ‘n enkeling; Amanda

    • Mirna says:

      Verseker, Amanda. Dankie vir jou boodskap!