Nee, pandemie… Is dit nie ongelooflik hoe dinge in ‘n oogwink kan verander nie? Sommer net ‘n kort rukkie gelede nog was die korona-virus die Wuhan-virus – een mens in ‘n stad wat ‘n dier op ‘n mark koop om te eet. ‘n Dier wat nie vir die mens se spysverteringstelsel geskik is nie en besmet is. En toe word hy siek daarvan. En steek die mense om hom aan. En nou’s duisende der duisende al siek. Daar is selfs ‘n teorie dat die dier wat daar verkoop is ‘n vlêrmuis was wat uit die nabygeleë laboratorium waar biochemiese wapens gemaak word, gesteel is en op die mark verkoop is… Wie weet?
Vandag het die korona-virus die deftige naam COVID-19, ‘n virus wat allesbehalwe deftig is. ‘n Epidemie wat oornag ‘n pandemie geword het, pandemonium veroorsaak het en die wêreld letterlik tot stillstand gebring het…
Selfs DSTV het ‘n persverklaring uitgereik oor hoe hul ons gaan vermaak siende dat die ses-nasies rugbyreeks, die NBA, die MBL, die Boston marathon, die Proteas se laaste wedstryde teen Indië, die Cape Epic, die F1-Grand Prix en die Engelse Premier sokker-liga uigestel is. En dis maar net ‘n druppel in die emmer! Wêreldwyd is belangrike saamtrekke gekanselleer, die KKNK afgelas en selfs Disney World gesluit.
Ons kon reeds ervaar dat die korona-virus nie net ‘n mediese virus is nie. Dis ook ‘n mediavirus wat besig is om die wêreld se ekonomie swaar te skud. Ekonome beskryf dit as ‘n swart swaan, ‘n ekonomiese term wat gebruik word as daar iets gebeur wat niemand voorsien het nie en krisisafmetings aanneem.
Sjoe, dit voel nogal soos ‘n toneel uit een van daardie wetenskapfiksie rolprente van ons kinderdae, waar akteurs in oorpakke geklee is en verbete gesoek word na ‘n teenmiddel om ‘n verwoestende virus te keer. Mense word in kwarantyn geplaas en hospitale spook om siekes te akkomodeer…Ek onthou hoe my pa altyd dan gerusstellend geglimlag het en ons herinner het dat dit net stories is…
Vandag is hierdie beelde ‘n alledaagse werklikheid op elke nuuskanaal, en mens kan nie help om te wonder waar dit gaan eindig nie…
Uit Stellenbosch stuur Eswee: “die virus groei teen 30% sedert die eerste infeksie. Dit beteken teen die 20ste gaan 107 Suid-Afrikaners dit hê en teen die 30ste 1440…”
Vanoggend vroeg berig ‘The Guardian” dat altesaam 156 098 mense al besmet is met die virus, en dat die dodetal vandag op 5 819 staan. Maar hul berig ook dat 72 621 mense al volkome herstel het van die virus…
Ons New Year Challenge het Vrydag tot ‘n einde gekom en ‘n trotse getal van 74 lede het dit voltooi. Hierdie Donderdagaand hou ons prysuitdeling, die skool sluit binnekort en ek dink my lede wag in spanning dat ek ook ‘n “verklaring” moet uitreik oor die virus…
Maar wat doen ek? Ek loods Maandag ‘n splinternuwe, gratis, ses week-lange Fitness Challenge… Is ek van lotjie getik? Voortvarend? Naïef? Roekeloos? Fatalisties?
Ek dink regtig nie so nie. Mens kan mos nie net ophou leef en histeries raak nie. Nie terwyl die virus nog nie sy tande hier by ons ingeslaan het nie. Nie terwyl mens nie seker is wat is fopnuus en feite nie. Nie totdat die regering ons onder huisarres geplaas het nie. Ons kan mos nie nou al op n hopie gaan sit, in die huis bly en blikkieskos opgaar nie…?
Netwerk 24 berig onlangs dat mense se siening oor COVID-19 in twee groepe verdeel kan word – die wat die ergste verwag en die wat nie op hol gejaag word daaroor nie. Ek val in die tweede groep, dalk oor ek blond is.
Meeste van ons het die ontstellende “voice note” geluister in die week van die vroue-dokter in Italië wat met ‘n stem na aan trane vertel dat ons nie die plaaslike nuusberigte moet vertrou nie – sy meen meer as 700 Suid-Afrikaners is al aangetas…Sou dit regtig moontlik wees vir die regering en hospitale om dié kommerwekkende feite van ons te weerhou, hier, reg onder ons neuse…?
Ek weet nie. Ek weet wel dat elkeen van ons in hierdie laaste paar weke opnuut bewus geraak het van
- Die broosheid van die mens. Ons is nie so sterk en onafhanklik soos ons dink nie. Ons bestaan is so bitter kort.
- Ons verstaan is beperk en COVID-19 het ons herinner dat ons nie alles weet nie.
- Ons is so aangewese op ons Hemelse Vader en kan nie ‘n oomblik bekostig om ons onafhanklikheid van Hom te verklaar nie.
- Ons het mekaar broodnodig.
Een van die mees roerende tonele wat die korona-virus nog opgelewer het, is die spontane sang van Italianers op hul balkonne nadat hul feitlik oornag onder kwarantyn geplaas is in hul wonings…
En ons? Wat kan ONS doen?
Nie die WhatsApp-boodskappe glo wat vertel dat ek en jy in elk geval die virus gaan kry nie. Want almal van ons gaan een of ander tyd weer verkoue of griep kry – maar nie noodwendig COVID-19 nie…
Wel die WhatsApp-boodskappe glo wat sê dat jy jou hande moet was. Gedurig. En lank. Dertig sekondes lank. En as jy nie seker is oor 30 sekondes nie, volg Riaan Palmer se raad en sing die hele Bohemian Rhapsody terwyl jy was.
Nie kom oefen as jy keelseer of ‘n kuggie het nie, nee dan bly jy weg. Ook as jy koorsig of kortasem voel. Ek gaan jou in elk geval huis toe stuur. Net om seker te maak.
Nie mense se hande skud nie, as jy iemand ontmoet, buig liewer voor hulle, soos die koninklikes.
Nie ‘n masker dra nie, want dit gaan regtig nie help tensy jy reeds siek is nie. Dis in elk geval oral uitverkoop. En as jy êrens handreiniger op ‘n winkelrak sien, koop sommer vyf.
Ek gaan verseker ook dr Robert Murphy se uitspraak glo. Hy’s nie verniet die uitvoerende direkteur van die Instituut vir Wêreldgesondheid aan die “Northwestern University School of Medicine” nie, en hy sê: “The one thing we really don’t need is mass hysteria. Eighty percent of people have such minor symptoms, they don’t actually require any medical care at all. The 20 percent who do feel quite ill need to be evaluated, and some of them will require hospitalization and some of them will require intensive care.”
Dit gaan nie help om ons oor COVID-19 te verknies nie. Versigtiger wees? Verseker. Wegkruip? Nog nooit gesien nie. Aanhou oefen en gesond leef solank ons kan? Absoluut. Dalk is Maretta Bellingham reg: “Dinge is selde so erg as wat dit lyk. Vandag se dodelike virus is dalk môre se Toyota Corona.” En wie weet, dalk besluit die veelbesproke Corona om aan te hou om ons dorp net in bottelvorm te besoek…
Mirna
082 779 0507
4 comments to “PANDEMONIUM?”
waar ek dink ek is ook blond versigtig nie bang want ek weet daar is n Vader wat sy kinders beskerm, ek het tans verkoue en dis n gespot gaan dorp toe en nies of hoes as jy in die ry staan dan word jy eerste gehelp want almal gaan hardloop. Dankie vir die blog ek het dit geniet.😃
Ja nee, seker eerder bang Jan as dooie Jan, ne!
Dit het jou my dag gemaak….dankie vir jou out like blog…
Dankie Malie!