VYFDE SEISOEN

…”Vyfde seisoen” was die eerste stukkie skryfwerk wat my laat besluit het om aan te hou skryf…Dit was in Julie 2018, en op daardie stadium het my skryfstukke weekliks in die Ermelo Insig verskyn.  Maar dié een hoort by my versameling Bloginskrywings, so as jy hom al gelees het, jammer.  Hier`s hy weer, so klein bietjie “opgejazz”…

Die lewe het `n manier om jou partykeer so `n bietjie van jou eie klip af te gooi…Dit was `n soel laatmiddag in Junie op die rivierpad naby Skukuza toe ons op dié mistroostige prentjie afkom – die gewoonlik speelse trop bobbejane was stil, amper eerbiedig stil.  Hartseer stil.  Dis toe dat ons haar opmerk – die treurende moederbobbejaan, eenkant, met die lewelose, slap lyfie van haar kleintjie in haar arms.

Met tye het s lug in die kleintjie se mond geblaas in `n klaarblyklik desperate poging om die kleinding aan die lewe te kry.  Dan weer het sy hom geskud, so al asof sy vir hom wou sê: “Word wakker!”, maar meestal het sy hom net styf teen haar vasgedruk en in die niet gestaar.  Ek sukkel om daardie bobbejaanoë uit my kop te kry, moederoë vol van leeg, en vol, vol van rou pyn… 

In “Die siel van die aap” skryf die legendariese digter en “Wonderwerker” Eugene Marais: “By die bobbejaan bereik moederliefde `n hoër stadium as by enige ander dier.”  Hoe ook anders?  Die wyfie kry in die reël een kleintjie per jaar.  Sy is ses maande lank dragtig, waarna sy die verskrompelde swart bondeltjie “lelikheid” in die lewe bring.  Die kleintjies bly lank in die sorg van die ma, wat hul leer watter kos hul kan eet en hoe om hul pad te vind.  Dis eintlik ironies om te dink dat selfs bobbejane, hulle wat leef in daardie sorgelose paradys van geen belasting, geen lisensies en geen agt tot vyf werk, ook pyn kan ervaar. 

Dis amper nog meer ironies dat Marais, wat vanaf 1903, vir drie jaar lank, die diepste emosies, pyn en geheimenisse van bobbejane bestudeer en ontrafel het, nooit sy eie pyn kon oorwin nie. In 1936, na jare se verslawing aan morfien, druk hy `n geweer in sy mond en trek die sneller.   Die fisieke en geestelike pyn het net te veel geraak.

Pyn is om ons, orals, heeltyd.  Pyn was die grootste inspirasie agter die beroemde selfportrette van Vincent van Gogh, dis pyn wat geboorte gegee het aan Mozart se laaste, bekendste “Requiem” en dis die uitmuntende uitbeelding van pyn wat gesorg het dat die kunsfilm “Three Billboards” twee jaar gelede as een van die bestes onder die bestes tydens die Oscar-toekennings gereken is. 

“Pyn is hierdie aarde se vyfde seisoen”, skryf Nataniël in een van sy Kaalkoppe.  “Pyn is die oorsaak van die mees onnodige konfrontasie en die skrywer van die wreedste geskiedenis…”  En sy lêplek vind hy in oud en jonk, sterk én swak.  Pyn het Rafael Nadal amper sy 11de Franse Ope titel gekos, pyn het `n stokkie gesteek voor Lady Gaga se wêreldtoer in Februarie 2018 en dis pyn wat 4 van ons lede se Summer Challenge verlede jaar kortgeknip het.  Ons lyk nie een dieselfde nie, tree nie dieselfde op nie en trek nie dieselfde aan nie.  Ons het verskillende loopbane, verskillende stokperdjies en verskillende oefenvoorkeure…maar daar is een ding wat ons almal in gemeen het – ons wéét hoe dit voel om seer te kry. 

Almal van ons weet hoe dit voel om ons kleintoontjies te stamp, op lego-blokkies te trap, eina te gil (én besonders hard te vloek), en op die skaal te klim na `n laaaaang vakansie.  Daar is pyn in tande sny, van die fiets afval, wortelkanaalbehandelings, kindergeboorte en knievervangings.  Ons ore pyn as elke Jan Rap sing van bokkies en sokkies en klokkies, ons harte pyn oor grondhervorming en ons diepste wese pyn langs `n oop graf.  Op 1 Junie 2018 skryf Steve op Facebook uit `n hospitaalbed oor sy skielike trombose: “Pyn is God se fokusinspuiting. Hy vra my of ek dit bedoel as ek sing: “kom haal my dan as U dink my tyd is hier…”

Pyn is `n snaakse ding.  Ons spot dat wyn vir die pyn help, maar ons vergeet mooitjies van die koppyn agterna.  Vir baie bring pille en pleisters verligitng van pyn, maar hoe troos mens hulle met gebroke harte, gekraakte selfbeelde en ongeneeslike siektes? 

Ons is almal draers van pyn, maar elkeen hanteer dit anders.  Party gryp na `n reddingsboei, ander gryp na `n kredietkaart.  Sommige vat pyn kas toe en bêre hom weg agter `n bolangse glimag, ander dra hom met trots, basuin hom uit vir die wêreld.  Pyn dryf sommige tot misdaad, ander wend hul tot terapie.  Meeste van ons glo, soos Nataniël, aan vriendskap.  En gebed.  En TYD.

Tyd…Hmmm… “Ek kom nog by jou uit”, het ek belowe.  Maar ek het nie.  Te vasgevang in my eie lewensdrama, op my eie klip, met my eie moeilikheid.  “Ek moet asseblief jou vandag nog sien,” het sy gevra. Jy het geantwoord: “Ek kan nie vandag nie. Kan ons later?” Jy was nie besig nie, maar het nie kans gesien nie. Nie krag gehad daarvoor nie. Jy`t gemompel “Ek dink aan jou”, en “Sterkte”, maar jy het ook nie weer van haar gehoor nie.  Of het jy nie eens agtergekom nie?

Soveel mense wat alleen, eensaam, desperaat, aan die einde van hulle kragte is, kruis ons pad, elke dag. Wanneer laas het jy `n verskil gemaak, `n hand op iemand se skouer gesit “die son vir iemand gevang, bietjie lig gebring vir die draaie op hul pad en die donker in hul hart”, soos Valiant Swart se “Sonvanger”?

…Daardie jaar het dit nie saak gemaak dat ons gesinnetjie nie die Groot Vyf gesien het toe ons geKruger het nie.  Maar die spesifieke Saterdagmiddag sal nog lank by my spook.  Ons het daar bly sit tot die rooi son vir oulaas tussen die doringbome geknipoog het.  Ek wonder waar die bobbejaanmoeder finaal afskeid geneem het van haar kleintjie.  Of het sy?  Daar word gesê dat sommige bobbejaanwyfies die geraamtes van hul kleintjies soos ratels saamsleep…Maar dit het iets in my wakker gemaak.

Ek dink aan my eie kinders wat eintlik nou klaar grootmense is.  Ek wonder of ek hulle genoeg geleer het, of ek die omvang van al hul grootste drome en diepste seer ken, of hulle glo ek verstaan en of ek genoeg vir hulle sê dat ek hulle liefhet.  Ek wonder of ek hul gehelp het om hul pad te vind, en ek wonder of hul regtig weet,

“that mothers care so much they feel as though they will bleed to death with the pain of it…” JK Rowling

Pyn IS hierdie wêreld se vyfde seisoen.  Elke mens se pyndrempel verskil, elke mens se pyn verskil.  Niemand is immuun daarteen nie – een of ander tyd gooi dit jou so bietjie van jou klip af.  Maar of jy nou kies om teen pyn te veg, daarvan te vlug of liewer te vergeet, gelukkig het elkeen van ons sensortjies wat sorg dat selfs die diepste seer gesond word en soms, as jy weer jou oë uitvee, heeltemal toegroei.  Dan bly net die lekker oor.  Dis waarom daar net goeie ou dae is.  Is `n mens nie eenvoudig wonderlik aanmekaar gesit nie…?

Mirna 

082 779 0507

2 comments to “VYFDE SEISOEN”

You can leave a reply or Trackback this post.
  1. Theunet says:

    Baie mooi boodskap Mirna!! My kind word geboelie by die netbal deur ‘n mamma en alhoewel ek “boep teen donderweer” het ek weereens hierdie week besef dat sulke pyn oor jou pad gestuur word om jou net weer te herhinner dat jy sterkter is as wat jy gedink het….daar is altyd ‘n hoër plan met pyn.

    • Mirna says:

      Mens verstaan nie altyd nie…MENS VOEL SO MAGTELOOS OOR JOU KINDERS SE PYN…STERKTE.